hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 14 Die Boodskap (DB)

Droogte in Juda

1. Die Here het vir Jeremia die volgende in verband met die groot droogte gesê:

2. “Die mense van Juda treur. In die stad gaan daar feitlik niks aan as dit by besigheid kom nie. Die mense sit op die grond om te wys dat hulle rou. In Jerusalem hoor jy mense wat om hulp roep.

3. Die stad se belangrike mense stuur hulle werkers om te gaan water haal, maar die putte is droog. Hulle kom met leë houers van die putte af terug. Dronkgeslaan en moedeloos oor wat aan die gang is, het hulle hulle kop toegemaak.

4. Omdat dit nie gereën het nie, het die grond van die droogte gebars. Die boere het van pure moedeloosheid met hulle hande in die hare gesit.

5. Selfs die wildsbokooi gooi haar lammetjie weg omdat daar nie groen gras is om te eet nie.

6. Die wildedonkies staan op die kaal bulte en snuif die lug soos die jakkalse maak as hulle dors is. Van die honger raak hulle oë dof, want daar is niks meer gras om te eet nie.”

7. Die mense het gereageer en gesê: “Here, al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, het ons nou ingehaal. Ons het nie reg teenoor U gedoen nie. Ons was al soveel keer dislojaal teenoor U. Maar al is dit so, Here, help ons ter wille van u eie reputasie.

8. Here, U is Israel se enigste hoop. As ’n krisis opduik, help U u mense uit die moeilikheid. Hoekom is U soos ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat op reis is deur die land en net een nag oorslaap?

9. Here, hoekom tree U op soos iemand wat ’n bietjie deurmekaar is? Hoekom maak U asof U ons nie kan help nie? U is mos by ons en ons is mos u eie mense, ons behoort aan U. Moet ons tog nie nou in die steek laat nie!”

10. Die Here het sy volk geantwoord en gesê: “Julle het daarvan gehou om van My af te dwaal. Julle kon julleself nie in toom hou nie. Daarom dink Ek nie langer aan julle as my mense nie. Ek sal al die slegte dinge wat julle gedoen het, onthou. Ek sal julle straf vir al die dinge wat julle verkeerd gedoen het.”

Moenie vir die volk bid nie

11. Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.

12. Al bly hulle ook sonder kos ter wille van My, sal Ek My nie aan hulle steur nie. En al bring hulle ook allerhande soorte offers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”

13. Maar toe sê ek: “Here, daar is niemand wat so magtig soos U is nie. Hulle profete wat ook sê dat U hulle gestuur het, sê vir hulle: ‘Dit gaan goed. Moenie julle steur aan praatjies oor oorlog of hongersnood nie. Die Here sal sorg dat dit bly goed gaan in die land.’”

14. Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete praat namens My, maar hulle praat nie die waarheid nie. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek gesê hulle moet vir julle ’n boodskap gee. Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Hulle maak of dit wat hulle te sê het, nuwe inligting is wat hulle gesien het of aan hulle bekendgemaak is. Dit is ’n spul leuens wat hulle vir julle aandra, maar hulle vertel dit vir julle asof dit van die Here af kom.”

15. Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan.

16. Die mense vir wie hierdie valse profete gelieg het, sal oral in die strate van Jerusalem dood lê. Mans, vroue en kinders sal die slagoffers wees van hongersnood of oorlog. Daar sal niemand oor wees om hulle te begrawe nie. Hulle moet self die skuld dra dat dit met hulle gebeur het, want hulle het slegte goed gedoen.

17. Jeremia, vertel vir hulle wat jy voel oor wat gebeur. Sê vir hulle: Dag en nag loop die trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. My volk wat soos ’n jongmeisie is, is swaar gewond en besig om dood te gaan.

18. As ek in die veld kom, sien ek oral net lyke lê. Hulle is afgemaai deur die vyand. Loop ek in die strate van die stad, is al wat ek sien, mense wat van die honger dood is. Die sogenaamde boodskappers van die Here en die priesters gaan oral in die land aan met hulle werk, maar hulle weet nie regtig wat hulle doen nie.”

’n Gebed vir genesing

19. Here, wil U nou heeltemal niks met Juda te doen hê nie? Haat U die mense van Jerusalem? Waarom het U ons so erg gewond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het so gehoop dat alles weer rustig en voorspoedig sou gaan, maar daar het niks van gekom nie. Ons het gehoop dat daar vir ons kans sou wees om weer reg te kom, maar in plaas daarvan het verskriklike dinge met ons gebeur.

20. Here, ons erken dat ons verkeerde dinge gedoen het. So ook ons voorouers. Ons het nie die dinge gedoen wat U wou hê ons moes doen nie.

21. Ek vra dat U ook ter wille van Uself ons nie van U af sal wegstoot nie. Jerusalem is u blyplek wat baie spesiaal is. Moenie dat daar skade aan die stad gedoen word nie. U is ons God en ons is u mense. Moenie die ooreenkoms tussen U en ons verbreek nie.

22. Kan enige van die danige afgode van die nasies vir ons reën gee? Laat die hemel sommer self reën op die aarde val? Nee, dit kom van U af, o Here, ons God. Dit is net U wat sulke dinge kan doen. Ons sal met afwagting bly hoop dat U ons sal help.