hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32 Die Boodskap (DB)

Jeremia koop grond

1. Die Here het weer met Jeremia gepraat in die tiende jaar wat Sedekia koning van Juda was. Nebukadnesar was toe al agtien jaar koning van Babel.

2. In dié stadium was Jerusalem omsingel deur die Babiloniese koning se leër. Die mense van Jerusalem was binne-in die stad vasgevang. Jeremia self was ’n gevangene in die paleis van die koning van Juda. Hy moes net in die binnehofgedeelte bly waar die wagte gebly het.

3. Koning Sedekia het hom hier laat sit omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek sal hierdie stad oorgee in die mag van die koning van Babel. Hy sal die stad inneem.

4. Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom na die koning van Babel toe vat. Hy sal direk met die koning van Babel te doen kry. Hulle sal persoonlik met mekaar praat.

5. Nebukadnesar sal koning Sedekia Babel toe vat en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee. Dit sal julle nie help om teen die Babiloniërs te baklei nie, want julle kan hulle nie wen nie.”

6. Die Here het in daardie tyd vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

7. “Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond daar by Anatot. Jy het die eerste reg om dit te koop.’”

8. En net soos die Here gesê het, het Ganamel toe na my toe gekom waar ek opgesluit was in die paleis se binnehof. Hy het vir my gesê: “Koop my grond daar by Anatot in die grondgebied van Benjamin. Jy het die eerste opsie om dit te koop voordat ander mense die kans kry om die grond te koop. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my oor die grond gepraat het.

9. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom sewentien silwer munte daarvoor betaal.

10. Toe het ek die koopkontrak geteken en dit verseël terwyl daar getuies was wat gesien het wat ons doen. Daarna het ek hom die sewentien silwer munte betaal wat ek afgeweeg het.

11. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel ingehad. Ek het toe die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat nie verseël was nie, gevat

12. en ek het dit vir Baruk die seun van Nerija gegee. Nerija was die seun van Magseja. Ek het al hierdie goed voor my neef Ganamel en die getuie wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Ek het dit ook gedoen voor al die Jode wat in die binnehof waar die wagte gebly het, gesit het.

13. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14. “Die Here, die God van Israel, is sterker as alles en almal. Hy het gesê: ‘Vat die verseëlde en die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd gebêre kan word.

15. Want eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

Jeremia se gebed

16. Toe ek die koopkontrak vir Baruk gegee het, het ek gebid en gesê:

17. “Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is te moeilik vir U om te doen nie!

18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar dit is ook so dat U die kinders straf vir die verkeerde goed wat hulle ouers gedoen het. Here, u mag is baie groot. Mense praat van U as die Here wat sterker as alles en almal is.

19. U is slim. U weet alles. U kan ook goed doen wat vir die mense te wonderlik is om te verstaan. Daar is niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het.

20. Destyds het U in Egipte buitengewone dinge gedoen. U het tekens en wonders gedoen. U doen dit nog steeds vandag in Israel en onder alle mense. Selfs vandag is U steeds daarvoor bekend.

21. “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak.

22. U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees.

23. Ons voorouers het toe hierdie land ingeval en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle wou nie na U luister nie. Hulle wou ook nie die riglyne wat U vir hulle gegee het oor hoe hulle moet lewe, volg nie. Hulle het omtrent niks van alles wat U van hulle verwag het, gedoen nie. Dit is hoekom hierdie slegte goed hulle nou tref.

24. Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het reeds walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. Al die gevegte, die tekort aan kos en die siektes het reeds die inwoners van die stad baie swak gemaak. Alles gebeur nou net soos U gesê het dit sou.

25. En tog, Here, het U vir my gesê om ’n stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies geld daarvoor betaal het. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem.”

Juda se toekoms

26. Die Here het vir Jeremia gesê:

27. “Ek is die Here, die God van al die mense van die wêreld. Is daar iets wat te moeilik is vir My om te doen?

28. Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, sal Jerusalem inneem.

29. Die Babiloniërs wat nou buite die mure van die stad baklei, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Hulle sal die huise afbrand. Die vyand sal ook die huise afbrand waar die mense bo-op die dak wierook vir Baäl gebrand het. Die mense het ook by hierdie huise ander gode vereer deur van hulle wyn uit te gooi. Hierdie verering van die gode het My baie kwaad gemaak.

30. “Van die vroegste tye af al het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My verskriklik kwaad gemaak met die goed wat hulle doen.

31. Vandat Jerusalem gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad My nog altyd net kwaad gemaak. Ek wil hê dit moet voor my oë verdwyn.

32. Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte goed wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete en die mense van Jerusalem maak My woedend.

33. My mense het die rug vir My gedraai. Dit het nie eens gehelp dat Ek aangehou en aangehou het om hulle te leer wat reg en wat verkeerd is nie. Hulle het hulle nie aan My gesteur nie. Hulle wou nie leer nie.

34. Hulle was so vermetel om hulle mislike afgodsbeelde in my tempel te kom sit. Dit het die tempel ’n plek gemaak wat nie aanvaarbaar was om te gebruik nie.

35. Hulle het ook in die Hinnomvallei offerplekke vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle eie kinders op die altare verbrand om in Molek se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eens in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. Hulle het Juda so ’n slegte ding laat doen.”

36. Die Here, die God van Israel sê: “Ek wil nou nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel dat hierdie stad onder die beheer van die koning van Babel sal kom as gevolg van die gevegte, die gebrek aan kos en die siektes.

37. Maar hoor gerus hier, Ek sal my mense weer bymekaarmaak wat Ek weggejaag het omdat Ek kwaad was. Dan sal Ek hulle terugbring uit al die lande waar Ek hulle laat beland het. Hier sal Ek hulle veilig in Jerusalem laat bly.

38. Dan sal hulle weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal maak dat hulle almal sal saamstem om vir altyd net vir My te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste ding wees om te doen.

40. Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie. Ek sal hulle nooit in die steek laat nie. Ek sal ook nie ophou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My te respekteer. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.

41. Dit sal vir My baie lekker wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal sorg dat hierdie land weer hulle vaste blyplek sal wees. Dit is my grootste begeerte om te sien dat dit gebeur.

42. “Ek het al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur. Maar soos Ek dit veroorsaak het, sal Ek nou weer goeie dinge vir hulle doen. Ek het belowe dat Ek dit sal doen.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen.

43. Julle land is nou verlate omdat die Babiloniërs dit verwoes het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het. Maar die Here sê: “Grond sal weer gekoop en verkoop word.

44. Die grond sal vir geld verkoop word. Koopkontrakte sal opgestel, geteken en voor getuies verseël word. Dit sal gebeur in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem. Verder ook in die stede in Juda, in die heuwellande, in die stede teen die westelike hange en die stede in die Negev in die suide. Ek sal sorg dat omstandighede verander. Dit sal weer met hulle goed gaan.” Ek, die Here, sê dit!