hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36 Die Boodskap (DB)

Baruk lees uit Jeremia se boek

1. Die Here het weer vir Jeremia ’n opdrag gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim die seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê:

2. “Kry vir jou ’n boek en skryf alles neer wat Ek vir jou gesê het oor Israel, Juda en die ander nasies. Begin so ver terug toe Josia koning was en Ek die eerste boodskap vir jou gegee het. Skryf dan verder al die ander dinge neer wat Ek vir jou gesê het, ook dit wat Ek nou vir jou gaan sê.

3. Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle hoor van al die slegte dinge wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle kan vergewe vir die verkeerde en slegte goed wat hulle gedoen het.”

4. Jeremia het toe vir Baruk die seun van Nerija geroep. Baruk het alles wat Jeremia hardop vir hom voorgesê het, in ’n boek neergeskryf. Die boek was in so ’n vorm dat dit opgerol kon word.

5. Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie.

6. Maar gaan jy môre, wanneer dit die dag is waarop mense sonder kos bly, na die tempel toe. Gaan lees vir die mense uit hierdie boek wat die Here sê. Mense van al die stede in Juda sal môre daar wees.

7. Miskien sal hulle bid en ophou om op so ’n slegte manier te leef. Die Here is baie kwaad. Hy het gesê dat vreeslike goed met sy eie mense gaan gebeur. Hy gaan hulle straf.”

8. Baruk het alles gedoen wat Jeremia hom gesê het om te doen. Hy het wat in die boek geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.

9. Dit het gebeur op ’n vasdag in die herfs, ’n dag waarop niemand moes eet nie. Jojakim was toe in sy vyfde jaar as koning van Juda. Die mense het uit die stede in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon.

10. Baruk het uit die boek wat hy vir Jeremia geskryf het vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja se kantoor in die tempel toe hy dit gedoen het. Gemarja was die seun van Sallum, wat sekretaris in die paleis van die koning was. Hierdie kamer was in die boonste voorhof naby die nuwe ingang van die tempel.

11. Miga, ’n seun van Gemarja en kleinseun van Safan, het ook gehoor wat Baruk uit die boek voorgelees het.

12. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die sekretaris, Delaja die seun van Semaja, Elnatan die seun van Akbor, Gemarja die seun van Safan, Sedekia die seun van Gananja en ook nog ander amptenare.

13. Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,

14. het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om dit ook vir hulle te kom voorlees. Jehudi was ’n seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boek vir hulle voor te lees. Hy het gemaak soos hulle gevra het.

16. Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.”

17. Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, waar kry jy alles wat jy hier neergeskryf het? Het Jeremia vir jou gesê wat om te skryf?”

18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.”

19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20. Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

Koning Jojakim verbrand die boek

21. Koning Jojakim het vir Jehudi gestuur om die boek te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl sy amptenare bygestaan het.

22. Dit was in die winter. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23. Baruk het die boek in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boek te sny. Hy het deel vir deel van die boek uitgesny en in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy alles verbrand het.

24. Die koning en sy beamptes het na alles geluister wat geskryf was, maar dit het hulle nie bang gemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur om te wys dat hulle jammer was oor alles wat hulle gehoor het hulle verkeerd doen nie.

25. Elnatan, Delaja en Gemarja het die koning gesmeek om nie die boek te verbrand nie, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie.

26. Daarna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja en ook vir Selemja opdrag gegee om Baruk en Jeremia te gaan vang. Seraja was ’n seun van Asriël en Selemja ’n seun van Abdeël. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.

Die boek word oorgeskryf

27. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit het gebeur na die episode toe die koning die boek stuk vir stuk verbrand het. Hy het gesê:

28. “Kry vir jou ’n ander boek en skryf alles weer neer wat in die boek gestaan het wat Jojakim verbrand het.” Die boek was weer in ’n vorm dat dit opgerol kon word.

29. “Sê vir koning Jojakim die Here sê: Jy het die boek verbrand omdat daarin gestaan het dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes. Geen mens of dier sou oorleef nie.”

30. Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: “Hy sal nie opvolgers uit sy familie hê om die koningskap van Dawid te laat aangaan nie. Sy lyk sal buite weggegooi word. Hy sal nie begrawe word nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.

31. Ek sal hom straf. Maar nie vir hom alleen nie, ook sy familie en sy amptenare. Ek sal dat al die rampe wat Ek beloof het die mense van Juda en Jerusalem tref. Hulle wou mos nie na my waarskuwings luister nie!”

32. Jeremia het toe weer ’n boek gevat en vir sy sekretaris Baruk gesê wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit was in die boek wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog gedagtes bygesit wat baie soos die ander was.