hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 6 Die Boodskap (DB)

Jerusalem se laaste waarskuwing

1. Mense van Benjamin, maak dat julle wegkom uit Jerusalem uit! Maak alarm om die mense van Tekoa te waarsku! Stuur rookseine op van Bet-Kerem af! Sorg dat almal gewaarsku is: ’n Baie groot mag is uit die noorde uit op pad en sal groot skade aanrig.

2. Jerusalem is soos ’n meisie wat mooi en fyn is. Maar die Here sê: “Ek sal haar verwoes.”

3. Die vyandelike troepe sal die stad omsingel. Hulle sal die gebied rondom die stad onder hulleself verdeel en daar kamp opslaan.

4. Dan sal die bevel gegee word: “Maak reg om die stad teen die middag aan te val!” Maar ander sal sê: “Dit is te laat om dit te doen, die dag is al amper verby. Kyk net hoe lank het die skaduwees al geword.

5. Kom ons val liewer die stad in die nag aan en dan vernietig ons die plekke wat vir verdediging gebruik word.”

6. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Sny bome af en bou ’n oprit met hierdie bome teen die mure van Jerusalem. So kan die stad dan ingeneem word. Hierdie stad moet gestraf word, want baie mense in die stad het nie vryheid nie, maar word onderdruk.

7. Jerusalem is soos ’n put wat aanhou vars water gee. Die mense van die stad hou net aan met geweld en die mishandeling van mense. Ek sien net altyd mense wat siek is en gewond in die stad lê.

8. Dit is jou laaste waarskuwing, Jerusalem! As julle nie luister nie, sal Ek My van julle losmaak. Ek sal julle stad verwoes en geen mense sal daarin bly nie.”

Israel is sonder skaamte

9. Die Here sê: “’n Wingerd word dikwels ’n tweede keer deurgewerk op soek na trossies druiwe wat dalk oorgeslaan is. Dieselfde sal met Israel gebeur. Party van die mense is reeds uit die land uit weggevat. Maar die mense wat in die land agtergebly het, sal weer aangeval word.”

10. Met wie sal ek praat? Wie sal luister as ek ’n waarskuwing gee? Dit lyk of hulle ore toe is, want hulle luister nie na wat ek te sê het nie. Hulle maak grappies van wat die Here sê en neem nie sy woorde ernstig op nie.

11. Ek kan aanvoel hoe kwaad die Here vir hulle moet wees. Ek kan my woede nie langer inhou nie. Die Here sê: “My woede gaan uitbars oor Jerusalem. Laat die kinders wat in die strate speel, mooi verstaan hoe kwaad Ek is, ook die jongmense, waar hulle ook al bymekaar is. Ek sal ook nie mans, vroue, oupas en oumas spaar nie.

12. Die vyand sal kom en hierdie mense wat My so kwaad maak se huise vat. Hulle sal ook hulle landerye afvat en wat meer is, ook hulle vroue. Ek sal die burgers van hierdie land straf,” sê die Here.

13. “Almal, van die eenvoudigste tot die vernaamste mense, probeer op ’n skelm manier ryk word. Selfs ook die profete en die priesters doen oneerlike dinge.

14. Hulle probeer die probleme van die Here se mense met goedkoop raad oplos. Hulle maak of alles reg en goed is, terwyl dit eintlik baie sleg gaan.

15. Is hulle enigsins skaam as hulle uitgevang word oor die gruwels wat hulle gedoen het? Glad nie! Hulle bloos nie eens omdat hulle skaam is nie. Daar is nie hoop vir hulle nie. Hulle sal ondergaan net soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Dit sal hulle einde wees wanneer Ek hulle die dag straf,” sê die Here.

Israel steur hulle nie aan die Here nie

16. Die Here sê: “As julle by ’n plek kom waar julle belangrike besluite moet neem, moenie oorhaastig wees nie. Wag ’n bietjie en kyk eers wat mense vroeër gedoen het. Doen dan wat die beste is. Julle sal dan weet dat julle die regte ding gedoen het. Maar julle het gesê: ‘Dit is nie wat ons wil doen nie!’

17. Ek het wagte aangestel om julle te waarsku as daar gevaar is, maar julle het gesê: ‘Ons sal nie luister nie!’

18. Al die nasies moet luister na wat Ek sê. Kyk gerus wat met my volk gaan gebeur.

19. Die aarde moet ook oplet wat gaan gebeur. Ek gaan my mense slegte dinge laat beleef. Hulle pluk net die vrugte van hulle eie planne. Hulle het hulle nie gesteur aan wat Ek te sê gehad het nie. My opdragte het hulle verwerp.

20. Dit help net mooi niks dat hulle vir My wierook uit Skeba bring nie. Hulle kan die ander speserye wat uit ander ver lande kom, ook maar hou. Ek weier om offers te aanvaar wat hulle vir My bring om in my goeie boekies te kom. Dit bring vir My geen plesier nie.”

21. Daarom sê die Here: “Ek sal stuikelblokke in die pad van hierdie volk bring waaroor hulle sal val. Ouers en hulle kinders sal hieroor val. Ook hulle bure en vriende sal sterf.”

’n Aanval uit die noorde

22. Die Here sê: “Kyk, ’n baie sterk mag kom uit die noorde na Israel toe. Die land waar hulle vandaan kom, is ver van hier af.

23. Hulle is baie goed gewapen. Verder is hulle bekend vir hulle wreedheid. Hulle het geen genade vir niks en niemand nie. As hulle leër so optrek op hulle perde, klink dit soos die gedruis van die see. Hulle soldate is reg om jou te vernietig, Jerusalem.”

24. Ons het stories gehoor oor hierdie wrede vyand. Ons is skoon lam van vrees vir hulle. Ons is baie benoud. Dit is soos die pyn wat ’n vrou ervaar as sy op die punt is om aan ’n kind geboorte te gee.

25. Moenie waag om in die veld te stap nie! Bly weg van die paaie af! Die vyand is gewapen en terroriseer mense oral.

26. My volk, trek die klere aan wat julle altyd dra as julle rou. Doen ook wat julle gewoonlik doen as julle rou oor iemand wat dood is. Gaan lê in die as en huil met ’n stukkende hart asof julle enigste kind dood is. Doen dit, want die vyand wat alles voor hom platvee, sal julle skielik aanval!

27. Die Here sê: “Jeremia, Ek stel jou aan om my volk te toets net soos ’n mens die gehalte van metaal sou toets. Doen jou toetse en vind uit of dit wat hulle doen, goed is.

28. Hulle is almal hardkoppig en opstandig. Hulle loop oral en kwaadpraat van mekaar.

29. Blaas maar die vuur aan om dit so warm te kry as wat kan kom, dit sal nie help nie. ’n Mens kry dit nie reg om die afvalstowwe uit die metaal te kry nie.”

30. Die mense van Israel sal die naam “weggooisilwer” kry, want die Here het hulle weggegooi.