hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 11 Die Boodskap (DB)

Juda het die ooreenkoms met die Here verbreek

1. Die Here het weer met Jeremia gepraat en gesê:

2. “Herinner die mense van Juda en Jerusalem aan die voorwaardes van die ooreenkoms tussen My en hulle.

3. Sê vir hulle: Die Here, die God van Israel sê: Dit sal sleg gaan met mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van die ooreenkoms tussen My en hulle nie.

4. Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek sê julle moet doen. As julle dit regkry, sal julle my eie mense wees. Van my kant af sal Ek julle God wees.

5. So sou Ek dan my belofte hou wat Ek aan julle voorouers met ’n plegtige belofte gemaak het. Ek het gesê Ek sal hulle ’n land gee waar die melk en heuning in strome loop. Dit is die land waar julle nou bly.” Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”

6. Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir die mense in Juda se stede en in Jerusalem se strate: Onthou die voorskrifte van die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het en kom hulle na!

7. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle ernstig gewaarsku om aan My gehoorsaam te wees. Ek het dit gereeld gedoen en doen dit nog steeds.

8. Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eens na my waarskuwing luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en dinge gedoen wat verkeerd was. Die ooreenkoms tussen My en hulle was dat hulle gestraf sou word as hulle ongehoorsaam is. Daarom, omdat hulle nie my opdragte gehoorsaam het nie, sal Ek hierdie oordele oor hulle bring.”

9. Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom.

10. Hulle doen nou dieselfde verkeerde dinge as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle wil nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Verder het hulle ook afgode begin vereer. Israel en Juda het nie die ooreenkoms nagekom wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie.

11. Omdat hulle so maak,” sê die Here, “sal ’n ramp hulle tref. Daar is nie ’n manier dat hulle dit sal vryspring nie. Al bid hulle dat Ek hulle moet help, Ek sal nie na hulle luister nie.

12. Die mense van die stede van Juda en Jerusalem sal dan hulle afgode smeek om hulle te help. Hulle sal selfs wierook vir die afgode brand om hulle guns te wen. Die afgode sal hulle nie uit die moeilikheid help as die ramp hulle tref nie.

13. Juda, julle het net soveel afgode as wat julle stede het. Julle het ook op baie plekke klippe opgestapel waarop julle wierook vir die skandelike afgod Baäl kan brand. Daar was amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is.”

14. Die Here het vir Jeremia gesê: “Jeremia, jy moenie meer vir die mense van Juda en Jerusalem bid nie. Dit sal nie help dat jy by My pleit of bid nie, want Ek sal nie luister as hulle in die moeilikheid is en My roep om hulle te help nie.

15. Ek is baie lief vir my mense. Maar watter reg het hulle om in die tempel te kom as hulle hulle tevore hier so sleg gedra het? Dink hulle enigsins dat hulle met beloftes en offers die ramp kan keer? Eintlik geniet hulle dit om verkeerd te doen!”

16. Die Here het gesê: “Daar was ’n tyd toe Ek julle ’n pragtige groen olyfboom genoem het. Mooi om te sien en vol goeie vrugte. Maar in ’n groot storm sal die weerlig die boom brand en al die takke verskroei.

17. Die Here is sterker as alles en almal. Hy het Israel en Juda soos hierdie olyfboom geplant. Hy sal sorg dat hulle vernietig word. Die mense van Israel en Juda het slegte dinge gedoen. Hulle het My kwaad gemaak, want hulle het wierook vir Baäl gebrand om in sy goeie boekies te kom.”

Sameswering teen Jeremia

18. Dit was eers toe die Here my dit vertel het dat ek besef het my vyande was besig om planne teen my te maak.

19. Ek was soos ’n lam wat op pad was na die slagpale om geslag te word, salig onbewus van wat aan die gang was. Hulle was van plan om my dood te maak. Hulle het gesê: “Kom ons raak ontslae van hierdie man, dan is ons ook ontslae van die dinge wat hy sê! Kom ons maak hom dood, dan sal niemand ooit onthou dat hy geleef het nie!”

20. Here, U is sterker as alles en almal. U tree altyd regverdig op. Ja, Here, U weet presies wat binne-in ’n mens aangaan. U weet selfs wat ons dink. Ek wil graag sien wat gebeur as U wraak neem op my vyande. Ek het my saak vir U gegee om te hanteer.

21. Die Here sê oor die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia. Dit is omdat jy namens My praat. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.”

22. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek gaan hulle straf! Die jongmans sal in gevegte met ’n vyand doodgemaak word. Hulle kinders sal van die honger doodgaan.

23. Nie eens een van hulle sal bly lewe nie. Ek sal die mense van Anatot baie slegte dinge laat ervaar wanneer Ek hulle straf. Ek het reeds besluit wanneer dit sal wees.”