hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33 Die Boodskap (DB)

Beloftes van voorspoed

1. Terwyl Jeremia nog in die binnehof van die paleis waar die wagte bly, opgesluit was, het die Here weer met hom gepraat.

2. Dit is die Here wat die aarde gemaak het. Verder het Hy die aarde ’n vorm gegee en leefbaar gemaak. Hy is bekend as die Here en Hy sê:

3. “As jy My ’n vraag vra, sal Ek jou ’n antwoord gee. Ek sal vertel van ongelooflike dinge. Hierdie dinge is nou nog vir jou ’n geheim, jy weet niks daarvan nie.

4. Die Here wat die God van Israel is, sê: Dit was seker so dat julle boumateriaal nodig gehad om die mure van die stad sterker te maak teen die stormtaktiek van die vyand. Daarom het julle van die huise in die stad en selfs dele van die koning se paleis afgebreek. Maar dit sal nie help nie,

5. die Babiloniërs sal steeds in die stad inkom. Baie mense in die stad sal doodgaan omdat Ek hulle in my woede sal tref. Ek wil niks weet van die mense van die stad nie, want hulle het baie verkeerde dinge gedoen.

6. “Maar julle kan weet, die tyd sal weer kom dat Ek die mense van die stad gesond sal maak. Ek sal sorg dat dit weer baie goed met hulle gaan. Dit sal met die stad ook goed gaan. Hulle sal weer veilig voel.

7. Ek sal die omstandighede van Israel en Juda verander en hulle weer die volk maak wat hulle vroeër was.

8. Soos ’n mens vuilheid afwas, so sal Ek van al die verkeerde goed wat hulle gedoen het, ontslae raak. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teen My. Maar Ek sal hulle daarvoor vergewe.

9. Jerusalem sal vir My baie blydskap bring. Al die nasies van die wêreld sal goeie dinge oor My sê en My met respek behandel. Hierdie nasies sal van vrees aan die bewe gaan as hulle hoor van al die goeie dinge wat Ek vir my mense gedoen het.”

10. Die Here het weer gesê: “Julle sê: ‘Hierdie land is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer in die leë strate van Jerusalem en in die stede van Juda bly wees en

11. vrolik lag. Die mense sal ook weer troues hou en vrolik wees saam met die bruidspare. Ander mense weer sal opgewekte liedere sing om vir die Here te wys hoe dankbaar hulle teenoor Hom is. Hulle sal by die tempel sing: ‘Loof die Here wat sterker as alles en almal is, want Hy is goed. Sy liefde en getrouheid hou nooit op nie.’ Ek sal die gevangenes wat uit die land weggeneem is, terugbring,” sê die Here.

12. Die Here het weer gesê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere in en om die stede is weg. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape laat wei.

13. Daar sal weer genoeg skape in die land wees om te tel. Dit sal gebeur in die stede van die heuwelgebied, die westelike hange, die Negev in die suide. Verder ook in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die stede van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14. Die Here sê ook: “Die dag sal kom dat Ek al die beloftes wat Ek aan Israel en Juda gemaak het, waar laat word.

15. Dit is ook dié tyd dat Ek ’n wettige erfgenaam van Dawid koning sal maak. Hy sal sorg dat mense deur die hele land regverdig behandel word en doen wat reg is.

16. In dié tyd sal Juda uit die mag van hulle vyande gered word. Jerusalem sal weer ’n veilige plek vir mense wees om te bly. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons.’”

17. Die Here sê: “Daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid koning wees oor Israel.

18. Daar sal ook altyd priesters wees wat nakomelinge is van die Leviete. Hulle sal al die soorte offers bring om My mee te dien.”

19. Die Here het toe vir Jeremia gesê:

20. “Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om hierdie ooreenkoms verbreek te kry,

21. dan, en dan alleen, sal my ooreenkoms met Dawid wat in my diens was, verbreek kan word. Net as dit gebeur, sal hy nie meer ’n opvolger uit sy familie as koning hê nie. Dieselfde geld vir die priesters uit die Leviete. Daar sal altyd iemand van hulle vir My by die tempel werk.

22. Dit is nie moontlik om die sterre te tel nie. Dit is ook onmoontlik om vas te stel hoeveel sand op die strande is. Die nageslag van Dawid wat kom, sal so baie word dat hulle soos die sterre en die seesand sal wees. ’n Mens sal hulle nie kan tel nie. Dieselfde geld ook vir die Leviete.”

23. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê:

24. “Het julle gehoor wat die mense sê? Hulle sê dat die Here Juda en Israel gekies het. Maar nou verwerp Hy hulle. Omdat die Here dit gedoen het, sien ander nasies met minagting op hulle neer. Hulle dink nie Israel en Juda is werd om ’n nasie genoem te word nie.”

25. Maar die Here antwoord so: “Ek sal nie die wette van die nag en die dag of die vaste patrone van die aarde en die hemel verander nie. Net so min as wat Ek dit sal doen, net so min sal Ek my mense verwerp.

26. Ek sal ook nie die nageslag van Jakob en Dawid vergeet nie. Ek sal ook nie van plan verander dat een van Dawid se nageslag sal regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Wat sal gebeur, is dat Ek hulle omstandighede weer normaal sal maak soos dit tevore was. Hulle sal weer in rus en vrede in hulle land bly. Ek sal mooi versigtig met hulle werk.”