hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 28 Die Boodskap (DB)

Jeremia en Gananja bots

1. In die laatsomer van die vierde jaar wat Sedekia koning van Juda was, het Gananja met my gepraat. Gananja was die seun van Assur en het uit Gideon gekom. Hy het ook gesê dat hy ’n profeet van die Here is. Hy het in die tempel met my gepraat terwyl al die priesters en gewone mense gestaan en luister het.

2. Hy het gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek sal die mag van die koning van Babel wat soos ’n juk op julle nek was, breek.

3. Koning Nebukadnesar het ’n klomp kosbare bakke uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit na die tempel toe terugbring.

4. Ek sal ook vir Jojagin, wat die seun van Jojakim is, hiernatoe terugbring. Maar Ek sal ook die ander mense wat saam met hom na Babel ontvoer is, terugbring. Julle kan seker wees, Ek sal die mag wat die koning van Babel oor julle het, verbreek.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen.

5. Jeremia het voor al die priesters en die mense wat saamgedrom het, geantwoord op wat Gananja gesê het. Hulle het nog steeds daar voor die tempel gestaan en praat.

6. Hy het gesê: “Goed so! Ek hoop dit gebeur net soos jy gesê het. Ek hoop die Here doen alles wat jy sê. Ek hoop ook dat Hy al die kosbare goed wat uit die tempel weg is, uit Babel sal terugbring hier na Jerusalem toe. Ja, ook al die mense wat gevang en ontvoer is.

7. Maar luister nou ernstig na wat ek vir jou voor al hierdie mense wil sê.

8. Nog lank voor my en jou was daar al profete van die Here wat moeilike dinge moes sê teen lande wat baie sterk was. Hulle moes vir die mense gesê het van oorloë wat sou kom. Maar hulle moes ook vir hulle sê dat van hulle van die honger sou doodgaan of dat siektes hulle sou tref.

9. As dit sou gebeur dat ’n profeet mense gerusstel dat hulle vrede en rus gaan hê, moet ’n mens maar eers wag en sien of dit waar word. Net as dit wat die profeet gesê het gaan gebeur, regtig gebeur, kan ’n mens sê die Here het die persoon gestuur.”

10. Gananja het na Jeremia toe gegaan en die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek.

11. Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe dat Hy binne twee jaar die mag van Nebukadnesar, die koning van Babel, soos hierdie juk sal breek. Nebukadnesar gebruik sy mag om nasies te onderdruk, maar die Here sal dit stopsit.” Toe het Jeremia van die tempel af weggeloop.

12. Kort daarna het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê:

13. “Gaan sê vir Gananja, Ek, die Here, sê: Jy het hierdie juk wat van hout gemaak is, gebreek. Maar jy sal in die plek van die houtjuk een van yster kry.

14. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is. Ek is die God van Israel. Ek sal ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies sit. Ek sal hulle dwing om voor Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, te buig en vir hom te werk. Hy sal mag oor hulle hê. Hulle sal geen regte hê nie. Alles sal onder sy beheer wees. Hy sal selfs oor die wilde diere beheer hê.”

15. Jeremia en Gananja het al twee gesê dat hulle profete van die Here is. Jeremia het toe vir Gananja gesê: “Luister, Gananja, die Here het jou nie as sy boodskapper gestuur nie! En tog het jy dit reggekry dat die mense jou leuens glo.

16. Omdat jy dit gedoen het, sê die Here: ‘Ek sal jou van die aarde af wegvee. Jy sal vanjaar nog doodgaan! Jy het teen die Here in opstand gekom en Hy sal dit nie duld nie.’”

17. Gananja is twee maande later, in die sewende maand van daardie jaar, dood.