hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25 Die Boodskap (DB)

Sewentig jaar in ’n vreemde land

1. In die vierde jaar wat Jojakim koning van Juda was, het die Here met Jeremia oor die mense van Juda gepraat. Dit was die eerste jaar wat Nebukadnesar koning van Babel was.

2. Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê:

3. “Dit is nou vir 23 jaar wat die Here vir my boodskappe gee. Vandag nog sê Hy steeds vir my wat om vir julle te sê. Dit het begin in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was. Koning Josia was die seun van Amon. Ek het altyd vir julle gesê wat die Here sê, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.

4. Die Here het weer en weer sy profete na julle toe gestuur, maar dit het nie gehelp nie. Julle het nie na hulle geluister nie. Om die waarheid te sê, julle het nie eens probeer om te hoor wat hulle wou sê nie.

5. Die boodskap was duidelik: Julle is op die verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

6. Maar julle moenie agter ander gode aanloop nie. Moet hulle ook nie dien of voor hulle buig nie. Julle maak My baie kwaad as julle dit doen, want julle het hierdie gode met julle eie hande gemaak. As julle hierdie gode nie so vereer nie, sal Ek niks slegs aan julle doen nie.

7. “Maar julle het nie na My geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle aanbid het. So het julle vir julleself moeilikheid gemaak.”

8. Die Here is sterker as alles en almal, en Hy sê: “Omdat julle nie na My wou luister nie,

9. sal Ek al die volke uit die noorde bymekaar laat kom. Ook vir koning Nebukadnesar van Babel wat vir My sal werk. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly, laat baklei. Hulle sal ook teen die volke wat in die omgewing is, baklei. Ek sal julle heeltemal vernietig. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal minder as niks van julle dink en met julle spot.

10. Ek sal sorg dat julle nie meer bly sal wees en lag nie. Selfs die vrolikheid by troues sal nie meer gehoor word nie. Die meule waarmee koring gemaal word, sal stil wees. Daar sal ook nie meer in die aand lig in die huise wees nie, want daar sal nie meer mense oor wees nie.

11. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oorbly. Al hierdie nasies sal vir 70 jaar vir die koning van Babel werk.

12. “Na die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek sal hulle land vir altyd verwoes.

13. Ek het baiekeer gesê dat Ek slegte dinge met hierdie land gaan laat gebeur. Ek het Jeremia gebruik om hierdie dinge teen die nasies te sê. Dit is opgeskryf in hierdie boek.

14. Baie van die nasies met magtige konings sal slawe van die Babiloniërs kom maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan my mense in Juda gedoen het.”

Straf vir die nasies

15. Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Vat dit na die nasies toe waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink.

16. As hulle daaruit gedrink het, sal hulle slinger. Die oorlog waarin Ek hulle sal laat beland, sal hulle mal maak.”

17. Ek het die beker by die Here gevat en na al die nasies toe gegaan na wie die Here my gestuur het. Ek het hulle toe uit die beker laat drink.

18. Die mense van Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink. Verder ook hulle konings en die leiers van Jerusalem en Juda. Hulle moes uit die beker drink sodat hulle land verwoes kon word en leeg sou staan. Dit is ’n vreeslike gesig om te sien. So is dit nog steeds vandag die geval.

19. Ek het ook Egipte toe gegaan. Daarna het ek na ander volke toe gegaan wat ook uit die beker moes drink: die farao van Egipte, sy amptenare en sy leiers, ook al sy mense

20. en die mense wat nie van Egipte af kom nie, maar tussen hulle bly. Dan ook die konings van die gebied van Us, die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het.

21. Hierby kom ook nog Edom, Moab en Ammon,

22. en die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See.

23. Nog nasies wat uit die beker moes drink, is Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke.

24. Dan ook nog die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek en die konings van Simri, Elam en Medië.

25. Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink.

26. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal moet die koning van Babel uit hierdie beker van die Here se woede drink.

27. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here wat sterker as alles en almal is, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle sal gebeur in die oorlog waarin Ek julle gaan laat beland.’

28. En as hulle vasskop en nie uit die beker wil drink nie, sê vir hulle: ‘Die Here sê, julle het nie ’n keuse nie, drink!’

29. Ek het reeds begin om Jerusalem te straf. Die stad word my stad genoem. As Ek my stad nie oorsien nie, hoe sal julle ooit kan dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek laat al die inwoners van die wêreld oorlog maak. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is en Ek sê dit!

30. “Jeremia, jy moet vir hulle almal hierdie boodskap gee, al wil hulle dit nie graag hoor nie. Sê vir hulle: Soos die donderweer dreigend dreun, so sal die Here ook dreigend optree. Uit sy blyplek wat hoog in die hemel en baie spesiaal is, kan ’n mens sy gedreun hoor. Sy magtige gedreun is vir sy eie mense bedoel. Hy skree ook hard vir al die mense op die aarde. Sy stem klink soos die geskree van mense wat met druiwe by die wynpers werk.

31. Sy geskree sal oor die hele aarde weergalm. Die Here gaan ’n saak maak teen al die nasies. Hy sal soos ’n regter al die mense van die wêreld straf. Mense wat slegte dinge gedoen het, sal Hy in die oorlog laat doodgaan. Dít is wat die Here sê sal gebeur.”

32. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Let ’n bietjie op, die een volk na die ander gaan deur ’n ramp getref word! ’n Groot storm bou op in die verste uithoeke van die aarde.”

33. In dié tyd sal die mense wat deur die Here afgemaai is, oral oor die aarde dood lê. Niemand sal oor hierdie mense huil nie. Niemand sal die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê.

34. Leiers, julle is soos herders vir die mense. Julle moet huil en kla en in die stof rondrol van hartseer. Die tyd het gekom dat julle soos skape geslag gaan word. Julle sal soos ’n kleipot val en in skerwe breek.

35. Leiers, julle kan nêrens heen vlug nie. Daar is geen manier hoe julle sal kan vlug nie.

36. Hoor hoe huil en kla die leiers van die mense. Die Here het hulle vreedsame land verwoes.

37. Die Here was so kwaad dat hy die rus en vrede van die nasies weggevat het.

38. Die Here is soos ’n leeu wat uit sy lêplek gekom het op soek na ’n prooi. Hy sal teen die vyand optrek en hulle land verwoes. Dit sal gebeur omdat mense uit wraak doodgemaak sal word en omdat die Here vreeslik kwaad is.