hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40 Die Boodskap (DB)

Jeremia bly by Gedalja

1. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat Nebusaradan hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep mense van Jerusalem en Juda wat die Babiloniërs gevang het. Hulle was op pad na Babel as gevangenes.

2. Nebusaradan was die hoof van die koning se persoonlike wagte. Hy het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het gesê dat slegte dinge hierdie land sal tref.

3. Dit is presies wat nou gebeur. Hulle het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie. Hulle steur hulle ook nie aan wat Hy van hulle verwag nie.

4. Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is meer as welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.”

5. Net toe Nebusaradan wou loop, draai hy na Jeremia en sê: “As jy bly, gaan dan na Gedalja toe wat die seun van Agikam en die kleinseun van Safan is. Hy is deur die koning van Babel as bestuurder van die stede in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is vir jou om te kies, jy kan gaan net waar jy lus het.” Nebusaradan het toe vir Jeremia ’n voorraad kos en ’n geskenk gegee. Toe het hy hom laat gaan.

6. Jeremia het toe na Gedalja toe gegaan. Hy was in Mispa. Jeremia het tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, by Gedalja gaan bly.

Gedalja bestuur Juda

7. Daar was nog offisiere en manskappe van Juda in die plattelandse gebiede afgesny. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja die seun van Agikam as bestuurder van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders en ook die arm mense wat nie uit Juda na Babel toe weggevat is nie.

8. Hierdie offisiere en manskappe het na Gedalja toe in Mispa gegaan. Hulle was Ismael die seun van Netanja, Joganan en Jonatan die seuns van Kareag, Seraja die seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka en hulle manskappe.

9. Gedalja het sy woord vir hierdie offisiere en hulle manskappe gegee. Hy het hulle belowe dat niks met hulle sal gebeur as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee nie. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hy het gesê: “Bly hier in die land en werk saam met die koning van Babel. Dan sal dit met julle goed gaan.

10. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs onderhandel wat ons kom besoek. Maar oes julle druiwe, vrugte en olywe en bêre dit in houers. Bly in die stede waarvan julle nou in beheer is.”

11. Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het,

12. het hulle uit al die plekke waarnatoe hulle gevlug het, teruggekom na die land Juda toe. Hulle het eers na Gedalja in Mispa toe gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en vrugte begin insamel.

13. Kort hierna het Joganan die seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe wat in die platteland was, na Gedalja in Mispa gekom.

14. Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael, die seun van Netanja, gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.

15. Later het Joganan privaat met Gedalja in Mispa gepraat. Hy het aangebied om sonder dat iemand daarvan weet, vir Ismael te gaan doodmaak. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te kom vermoor? As hy dit regkry, sal al die Jode wat teruggekom het omdat u hier is, net weer uitmekaargedryf word. Daar sal ook niks oorbly van die groep mense in Juda wat nie uit die land weggevat is nie.”

16. Maar Gedalja wou hom nie glo nie. Hy het gesê: “Jy mag Ismael nie vermoor nie, want wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”