hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50 Die Boodskap (DB)

Oor Babel

1. Jeremia is ’n profeet van die Here. Wat volg, is ’n boodskap wat die Here vir Jeremia gegee het wat oor Babel en die land van die Babiloniërs gaan.

2. Die Here sê: “Vertel vir die hele wêreld, sê dit oral. Skryf dit op ’n banier sodat almal dit kan sien. Moet niks wegsteek nie! Sê en skryf: Babel is ingeneem! Hulle afgode, Bel en Marduk, is verneder en verslae oor die vernietiging. Al Babel se afgode het in die skande gekom, want hulle is eintlik niks werd nie. Die afgryslike afgodsbeelde is ook verwoes.

3. ’n Volk het uit die noorde gekom en Babel aangeval. Babel is so erg vernietig dat niemand meer daar sal kan bly nie. Al wat mens en dier is, het weggevlug.”

Hoop vir Israel en Juda

4. Die Here God sê: “In hierdie tyd sal die mense van Israel en Juda weer bymekaarkom. Hulle sal huil omdat hulle jammer is oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. In dié gesindheid sal hulle na My toe kom en probeer om weer in my goeie boekies te kom.

5. Hulle sal vra hoe om by Jerusalem uit te kom en soontoe begin gaan. Hulle sal besluit om ’n ooreenkoms met die Here te maak wat nooit weer sal ophou bestaan nie. Hierdie ooreenkoms sal ook nooit verbreek word nie.”

6. Die Here sê ook van sy volk: “Hulle is soos verdwaalde skape. Hulle herders het hulle in ’n verkeerde koers gelei en gelos om in die berge rond te dwaal. Op die ou einde het hulle heeltemal in die heuwels verdwaal. Hulle het vergeet waar hulle rusplek is.

7. Almal wat hulle teëgekom het, het hulle skade aangedoen. Hulle vyande het gesê: ‘As ons hulle aanval, doen ons niks verkeerds nie. Hulle het verkeerd gedoen. Dit is hulle wat die verkeerde dinge gedoen het wat die Here ongelukkig maak. Hy is hulle ware rusplek en hulle voorouers het Hom vir alles vertrou. Dit is teenoor Hom dat hulle verkeerd gedoen het.’”

8. Die Here sê vir sy volk: “Vlug weg uit Babel! Gee pad uit die land van die Babiloniërs! Wees julle die voorbokke wat die koers wys vir die ander wat op pad terug is na julle eie land toe.

9. Kyk mooi wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n sterk mag op die been bring uit nasies wat uit die noorde kom. Ek sal hulle teen Babel laat optrek en die stad van die buitewêreld laat afsny. Hulle sal die stad oorneem. Hulle sal dit regkry deur hulle wapens baie goed te gebruik en nie een teiken te mis nie.

10. Die aanvallers sal die Babiloniërs beroof totdat hulle tevrede voel dat hulle genoeg gevat het.”

Babel se ondergang is seker

11. Die Here sê: “Julle mense van Babel, julle het my mense wat Ek vir My uitgesoek het, besteel. En nou is julle boonop vrolik en bly daaroor. Julle gaan te kere soos ’n kalf wat in die gras rondspring of soos ’n perd wat runnik.

12. Maar julle eie land sal nog met skande en skaamte oorval word. Julle sal verneder word en in die skande kom. Van al die volke sal die mense die minste van julle dink. Julle land sal ’n dorre en verlate woestyn word.

13. Die Here sal sy woede op Babel uithaal. Dit sal ’n plek sonder mense word. Mense sal nie meer daar wil bly nie omdat dit so ’n verwoeste en verlate plek is. Mense wat daar verbyloop, sal geskok wees en fluit van verbasing oor die toestand van die plek.”

14. Die Here sê: “Julle almal wat boogskutters is, omsingel Babel en maak julle reg om aan te val. Laat julle pyle sonder ophou op hulle reën. Die mense van Babel het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie.

15. Skree maar gerus daar waar julle julle plekke ingeneem het om die stad. Babel het oorgegee. Die mure van die stad het omgeval. Die Here straf hierdie mense nou, julle hoef hulle nie te spaar nie. Doen aan hulle soos hulle aan ander mense gedoen het.

16. Vat die mense wat op die lande werk en saai uit Babel weg. Doen dit ook met die mense wat die oes van die lande af inbring. Die mense wat gevangenes in Babel is, moet sorg dat hulle ontsnap as die gevegte aan die gang is. Hulle moet na hulle eie land en mense toe wegvlug.”

Daar is hoop vir die Here se mense

17. Die Here sê ook: “Die mense van Israel is soos skape wat deur leeus uitmekaargejaag is. Eers het die koning van Assirië hulle begin eet en nou is Nebukadnesar, die koning van Babel, besig om hulle bene te kou.”

18. Die Here wat die God van Israel is, is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die koning van Babel en sy land straf net soos Ek die koning van Assirië gestraf het.

19. Verder sal Ek die mense van Israel na hulle land toe laat terugkom. Hulle sal weer in die omgewing van Karmel en Basan ’n bestaan maak. Die heuwelgebied van Efraim en Gilead sal vir hulle genoeg gee om van te leef.

20. In hierdie spesifieke tyd sal ’n mens verniet soek na verkeerde dinge wat Israel en Juda sou gedoen het, want dit sal weg wees. Ek het ’n groep mense in die land laat agterbly toe ander van hulle volk uit die land weggevat is. En hierdie mense het Ek vergewe vir wat hulle verkeerd gedoen het.”

Die Here se straf vir Babel

21. Die Here sê: “Trek op en gaan baklei teen die Babiloniërs, van Meratajim af tot by Pekod. Agtervolg die mense, maak hulle dood en laat hulle heeltemal verdwyn. Doen alles presies soos Ek vir julle sê om te doen.

22. ’n Mens hoor die geraas van oorlog en die groot verwoesting.

23. Die Babiloniërs was soos ’n groot hamer wat die wêreld se mense verpletter het. Nou is dit hulle beurt om stukkend geslaan en gebreek te word. Die nasies sal hulle doodskrik as hulle die toestand van die Babiloniërs sien.

24. Ek het vir jou ’n strik gestel, Babel, en jy het daarin getrap sonder dat jy eers geweet het. Jy is gevang omdat jy My, die Here, probeer aanvat het.”

25. Die Here het die bêreplek van sy wapens oopgemaak. Hy het wapens uitgehaal wat Hom sou help om sy woede teen sy vyande te laat uitkom. Hy sê: “Ek, die Here, het ’n werk wat Ek in die land van die Babiloniërs wil doen.

26. Val die Babiloniërs van alle kante af aan. Breek die skure oop waar hulle die graan bêre. Maak die mense op ’n hoop bymekaar soos ’n hoop graan. Vernietig alles! Laat niks en niemand oorbly nie!

27. Vat selfs die bulle na die slagplek en maak hulle daar dood. ’n Baie, baie slegte tyd het vir Babel gekom. Die tyd van hulle straf het gekom.”

28. Luister wat die mense wat uit Babel ontsnap het, te sê het. Hulle vertel in Jerusalem hoe die Here ons God wraak geneem het op die mense wat sy tempel vernietig het.

29. Stuur jou gewapende manne na Babel. Laat hulle die stad omsingel sodat niemand kan ontsnap nie. Doen aan die Babiloniërs wat hulle aan ander mense en lande gedoen het. Hulle verdien dit, want hulle dink te veel van hulleself. Hulle het die Here se gesag uitgedaag. Daar is niemand wat soos Hy is nie. Hy is die Here van Israel.

30. Die jongmense sal in die strate neerval en doodgaan. Al die Babiloniese soldate sal daardie dag sterf.

31. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê vir die Babiloniërs: “Julle is arrogant. Ek is julle vyand. Die tyd het gekom dat Ek julle gaan straf.

32. Julle is verwaand. Julle sal struikel en val. Daar is niemand wat julle sal help om weer op te staan nie. Ek sal julle stede aan die brand steek. Alles wat naby hierdie vuur is, sal afbrand.”

33. Die Here sê: “Die mense van Israel en Juda is nie reg behandel nie. Die vyand wat hulle gevang het, het geweier om hulle vry te laat.

34. Maar daar is iemand wat hulle help om vry te kom. Hy is baie sterk. Hy is die Here wat sterker as alles en almal is. Hy sal hulle belange op die hart dra en sorg dat hulle rus en vrede in hulle land sal hê. Die vooruitsigte vir die mense van Babel is nie goed nie. Hulle sal nie rus en vrede hê nie, maar probleme.

35. Daar wag oorlog en dood vir die leiers van die Babiloniërs. Maar nie net vir hulle nie, ook vir die raadgewers en al die mense van Babel.

36. Daar wag oorlog vir die waarsêers. Hulle sal gekke van hulleself maak oor wat hulle voorspel. As die oorlog begin, sal die soldate bewe van angs.

37. Selfs die soldate wat met perde en strydwaens ry, sal soos papbroeke reageer. Dieselfde sal ook met hulle huursoldate gebeur. In die oorlog sal al hulle kosbare goed ook gesteel word.

38. Dit sal selfs ook hulle water raak. Die water sal opdroog. Die rede hoekom al hierdie dinge gebeur, is die afgode. Die hele land is vol afgode en die mense is dol oor hulle.”

39. Die Here sê: “Wilde diere sal Babel hulle blyplek maak. Daar sal nooit weer mense wees wat daar bly nie, maar hiënas en volstruise sal daar bly.

40. Ek sal Babel verwoes net soos Ek destyds met Sodom en Gomorra gemaak het. Daar sal nie meer mense wees wat daar bly nie. Selfs nie eens net vir ’n rukkie nie.”

41. Die Here sê: “Wees gewaarsku, ’n volk uit die noorde is op pad na julle toe, Babel. Dit is ’n groot, sterk nasie. Baie konings uit die verste dele van die aarde is besig om reg te maak om teen julle op te trek.

42. Hulle het al die wapens wat nodig is om te veg. Hulle is baie wreed en sal niemand spaar nie. Die troepe ry op perde en dit klink soos die see wat dreun as hulle aankom. Hulle is goed georganiseerd en reg om julle aan te val, mense van Babel.

43. Die nuus het by die koning van Babel uitgekom dat ’n mag besig was om teen hulle op te trek. Dit het hom lam van vrees gemaak. So erg was dit dat hy verskriklike angs en pyne begin kry het.”

44. Die Here sê ook: “Ek sal soos ’n leeu maak wat uit die digte bosse by die Jordaan spring en die skape aanval wat besig is om te wei. Ek sal die mense van Babel uit hulle land jaag. Daarna sal Ek ’n leier wat Ek verkies, daar aanstel. Sê ’n bietjie vir My, wie kan met My vergelyk word? Wie kan My uitdaag? Watter koning kan dit durf waag om hom nie te steur aan wat Ek wil hê of verwag nie?”

45. Luister ’n bietjie na die plan wat die Here met Babel en die land van die Babiloniërs het. Hy sê: “Ek sal toelaat dat hulle kinders weggevat word uit hulle land uit. Hulle sal geskok staan as hulle dit sien gebeur.

46. Wanneer die vyand Babel inval, sal die aarde daarvan bewe en dreun. Die mense van Babel sal hard skree omdat hulle nie meer hoop vir die toekoms sien nie. Hulle sal skree omdat hulle nie meer hoop het nie. Al die volke van die wêreld sal hulle geskree hoor.”