hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5 Die Boodskap (DB)

Juda se sonde

1. Die Here sê: “Hardloop op en af in die strate. Kyk oral om julle rond. Soek by die bymekaarkomplekke in Jerusalem. As julle net een persoon kan kry wat eerlik is en reg probeer lewe, sal Ek die stad spaar.

2. Hulle sweer vals, selfs al gebruik hulle die Naam van die Here om te maak of hulle die waarheid praat.”

3. Here, U verwag van mense om eerlik te wees. U het u mense al ’n slag gestraf, maar dit het geen indruk op hulle gemaak nie. U het hulle verpletter, maar hulle wou nie leer nie. Hulle is hardkoppige mense, hulle weier om die verkeerde goed wat hulle doen te los en gehoorsaam aan U te wees.

4. Eers het ek gedink: “Wat kan ’n mens nou ook eintlik van arm en eenvoudige mense verwag? Hulle weet nie van beter nie. Hulle besef nie regtig wat die Here van hulle verwag nie.

5. Ek sal met die leiers gaan praat. Ek is seker hulle weet wat dit van ’n mens vra om die Here te dien en wat die vereistes is wat Hy stel.” Maar hulle was maar net soos die ander, sonder kennis en insig. Hulle het in opstand gekom en geweier om die Here te gehoorsaam.

6. Daarom sal Juda se vyand hulle soos roofdiere aanval. Hulle is soos leeus wat in ’n bos lê en dan uitkom om mense dood te maak. Soos woestynwolwe wat ander verskeur. Soos ’n luiperd wat naby die stede lê en loer en enigiemand wat dit waag om uit te kom uitmekaarskeur. Dit sal gebeur omdat hulle so baie goed verkeerd doen en dislojaal aan die Here is.

7. Die Here wil by Juda weet: “Hoe kan Ek julle vergewe? Selfs julle kinders het teen My in opstand gekom. Hulle beloof om getrou te wees aan gode wat nie eens regte gode is nie. Ek het nog altyd baie goed vir hulle gesorg. En hoe wys hulle hulle dankbaarheid? Hulle loop agter ander gode aan en is net soos mense wat tyd by bordele deurbring.

8. Of hulle is soos goedversorgde perde wat altyd op soek is na ’n merrie, soos mans wat ’n buurman se vrou wil hê.

9. Moet Ek hulle nie hieroor straf nie? Moet Ek nie wraak neem op hulle nie?” wil die Here weet.

10. Die Here sê: “Juda is soos ’n wingerd. Ek stuur ’n vyand deur die wingerd om dit te verniel. Maar hulle moet nie die hele wingerd verwoes nie. Die lote wat nie aan My behoort nie, moet afgesny word.

11. Die mense van Israel en Juda het My totaal en al verraai.

12. Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie.

13. Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’”

14. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.”

15. Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie.

16. Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk.

17. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.”

18. Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie.

19. As die mense sou vra waarom doen die Here hierdie dinge aan ons, moet julle antwoord: ‘Ons het die Here verraai en ander vreemde gode hier in ons eie land begin dien. Nou sal ons vreemde mense in ’n vreemde land moet dien.’”

Die Here waarsku Jerusalem

20. Gaan sê vir die mense van Israel in die noordelike koninkryk en Juda in die suidelike koninkryk:

21. “Luister hier, julle dom en onverstandige volk. Julle het oë, maar julle sien niks. Julle ore hoor ook nie.

22. Het julle geen respek vir My nie?” vra die Here. “Is julle nie bang vir My nie? Ek het met die sand die grense vir die see getrek. Die see mag nie by hierdie grense verbygaan nie. Die branders van die see kan maar hoog opswel, hulle sal nie daaroor kan slaan nie. Hulle kan maar hard dreun, hulle sal nog steeds nie verby die sand kan kom nie.

23. Maar my volk is hardkoppig en opstandig. Hulle het die rug vir My gedraai en besluit om hulle eie kop te volg.

24. Dit kom nooit by julle op om te sê: ‘Kom ons gee eer aan die Here wat vir ons die reën op die regte tyd gee’ of ‘Wat ook op die regte tyd vir ons ’n goeie oes gee’ nie.

25. Dit is as gevolg van julle boosheid dat julle hierdie voorregte mis. Dit is al die verkeerde goed wat julle doen wat maak dat dit nie met julle goed gaan nie.

26. Daar is slegte mense onder my volk wat voëls stilletjies soos ’n jagter bekruip. Hulle slagoffers is egter nie voëls nie, maar mense.

27. Hulle huise is vol van al die bedrog wat hulle beplan om te pleeg. Dit is net soos ’n hok wat vol voëls is. En wat gebeur as gevolg daarvan? Hulle is nou belangrike en ryk mense.

28. Hulle is vet en blink! Hulle hou ook nie op om slegte dinge te doen nie. Hulle sorg nie dat mense regverdig en billik behandel word nie. Hulle kyk ook nie dat weeskinders regverdig behandel word nie. Hulle dra ook nie die belange van die armes op die hart nie.”

29. Die Here vra: “Verdien hulle dit nie dat Ek hulle hiervoor moet straf nie? Behoort Ek nie wraak te neem op mense soos hierdie nie?

30. Dit is verskriklik en skokkend wat in die land gebeur:

31. die profete praat nie die waarheid nie. Die godsdienstige leiers regeer die mense met ’n ysterhand. Die ergste van alles is dat my mense heeltemal tevrede daarmee is! Maar wat sal julle doen wanneer die einde kom?”