hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44 Die Boodskap (DB)

Straf vir die Jode in Egipte

1. Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee vir die Judeërs wat in Egipte gebly het. Hulle was in Migdol, Tagpanges, Memfis en die Patrosstreek.

2. Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: “Julle het al die slegte dinge gesien wat Ek Jerusalem en die stede van Juda laat oorkom het. Vandag lê hulle verwoes. Niemand bly meer daar nie.

3. Al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het sowaar gegaan en vir ander gode wierook gebrand en hulle aanbid. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie.

4. Hoeveel keer het Ek nie my profete gestuur om hulle te smeek om nie hierdie afskuwelike dinge te doen wat Ek so haat nie.

5. Maar my mense wou nie luister nie en wou nie ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir hierdie gode te brand.

6. Dit is daarom dat my woede oorgeborrel het en soos vuur geval het op die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net ’n hoop verlate bourommel.”

7. En nou vra die Here wat die God van Israel is, vir julle: “Hoekom bring julle so ’n slegte ding oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie. Nie enige man, vrou of kind wat van Juda af kom, sal oorleef nie. Niemand sal oorbly nie.

8. Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode hier in Egipte waar julle kom bly het! Al wat sal gebeur, is dat julle julleself sal vernietig. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.

9. Het julle al klaar die verkeerde dinge wat julle voorouers gedoen het, vergeet? Het julle van die verkeerde goed vergeet wat die konings en koninginne van Juda gedoen het? En wat van die verkeerde dinge wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?

10. Tot vandag toe het julle nie gewys julle is jammer nie. Niemand is ook bang omdat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit alles vir julle en julle voorouers gesê om te doen, maar julle het nie.”

11. Daarom sê die Here wat die God van Israel is: “Ek het besluit om almal van julle te vernietig! Ek gaan ontslae raak van die hele Juda.

12. Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aangedring het om in Egipte te bly, uitwis. Hulle sal in Egipte in geweld of van die honger doodgaan. Almal, van klein tot groot, sal op so ’n manier doodgaan. Mense sal skrik as hulle sien wat met julle gebeur het. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.

13. Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het. Hulle voorland is om dood te gaan in oorlog, van honger te sterf of die slagoffers van epidemies te wees.

14. Niemand van die mense wat oorleef het in Juda toe die res van die mense na Babel toe weggevat is, sal in Egipte oorleef nie. Hulle het gedink dat hulle net tydelik in Egipte sou kom bly en dan permanent na Juda sou teruggaan. Maar net ’n paar mense sal die rampe in Egipte oorleef en dit regkry om na Juda toe terug te gaan.”

15. ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gebly het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het. Verder ook nog uit ’n groep vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:

16. “Ons sal nie na die dinge luister wat jy sê van die Here af kom nie!

17. Ons sal alles doen wat ons beloof het ons sal. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel. Ons sal ook drank uitgooi om te wys dat ons haar vereer. Dit is tog wat ons nog altyd gedoen het en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe ons dit gedoen het, het ons volop kos gehad. Dit het eintlik sommer baie goed met ons gegaan. Ons het nie probleme geken nie.

18. Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel wierook te brand en drank uit te gooi as ’n offer aan haar, gaan dit sleg met ons. Ons het niks. Ons mense gaan dood in oorloë en van honger omdat daar nie kos is nie.”

19. Die vroue het verder ook vir Jeremia gesê: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy dat toe ons dit gedoen het ons mans nie deel daarvan was nie?”

20. Toe hulle klaar gepraat het, het Jeremia al die mans en die vroue geantwoord:

21. “Dink julle die Here het nie geweet wat julle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook gebrand het vir die afgode.

22. Die Here kon dit nie langer uitstaan dat julle hierdie slegte dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n hoop bourommel is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin bly.

23. Die Here bring hierdie ellendes oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het nie gedoen wat die Here van julle verwag nie. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24. Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na wat ek van die Here af vir julle wat in Egipte bly, gekry het.

25. Die Here sê: Julle en julle vroue het gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Nou hou dan by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26. Ek sê weer, hoor wat is die Here se boodskap vir julle. Hy sê: Ek het ’n eed gesweer en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel sit. My Naam sal nooit weer deur enige van die mense van Juda wat in Egipte is, genoem word nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n plegtige belofte maak om krag aan julle woorde te gee nie. Julle mag nooit weer sê: ‘So waar as die Here leef’ nie!

27. Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie. Julle sal in oorloë kom en ’n skaarste aan kos hê. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.”

28. Die Here sê: “Net ’n baie klein klompie van hulle sal nie doodgaan nie en na Juda toe terugkom. Hulle sal op die ou einde weet dat Ek die waarheid gepraat het en nie hulle nie.

29. Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf.

30. Farao Gofra is die koning van Egipte. Ek sal met hom maak net soos Ek met koning Sedekia gemaak het. Ek het Sedekia aan koning Nebukadnesar van Babel oorgegee. Hy was Sedekia se vyand en wou hom graag dood hê. Ek sal Gofra net so aan sy vyande oorgee wat hom so graag wil doodmaak.” Dit is wat die Here sê!