hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 48 Die Boodskap (DB)

Oor Moab

1. Wat volg, is wat die Here oor Moab gesê het:Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal en Hy sê: “Dit sal ellendig gaan met die stad Nebo, want hy sal verwoes word. Die stad Kirjatajim sal verneder en ingeneem word. Die stad is sterker gemaak om vyande uit te hou, maar hulle sal in die skande kom as die stad afgebreek word.

2. Moab se reputasie het in die slag gebly. In Gesbon het hulle ’n komplot teen Moab beplan. Hulle het gesê: ‘Kom ons keer dat die stad verder bly bestaan.’ Die stad Madmen sal ook stilgemaak word. Die vyand sal ook na hierdie stad toe kom om oorlog te maak.

3. Uit Goronajim skree hulle: ‘Verwoesting! Alles is vernietig!’

4. Moab se mag is gebreek! Hoor hoe huil die kinders.

5. Die mense klim al huilend die heuwels by Lugit uit. En op pad na Goronajim huil hulle verskrik oor al die verwoesting.

6. Vlug vir julle lewe! Oorleef soos ’n wildedonkie in die woestyn!

7. Jy dink jy is baie goed oor alles wat jy self reggekry het en omdat jy ryk is. Maar Ek het nuus vir jou, jy sal gevange geneem word. Jou god Kemos sal saam met die mense wat vir hom werk, na ’n ander land toe weggevat word.

8. Jou vyand sal al jou stede verwoes. Nie een van jou stede sal gespaar word nie. Die valleie sal beskadig word en die vlaktes verwoes word net soos Ek, die Here, gesê het dit sal gebeur.

9. As Moab vlerke gehad het, sou sy weggevlieg het. Moab se stede is almal verwoes, daar is nie meer mense wat daarin bly nie.

10. Slegte dinge gaan gebeur met elkeen wat lui is om die werk te doen wat die Here gesê het hulle moet. Maar mense wat nie die mense doodmaak wat hulle moet nie, kan verwag dat slegte dinge met hulle gaan gebeur.”

11. Die Here sê: “Moab leef van haar vroegste dae af al rustig. Hulle is nog nooit deur ’n ander volk uit hulle land weggevat nie. Moab is soos ou wyn wat laat staan is en nie van houer na houer oorgegooi is nie. Die smaak het nie verlore gegaan nie en die geur is nog net soos dit was.”

12. Maar die Here sê: “Die tyd kom dat Ek mense sal stuur wat die wyn sal uitgooi. As hulle al die wyn uitgegooi het, sal hulle die wynkruike stukkend breek.

13. As dit gebeur, sal Moab verleë wees omdat die afgod Kemos hulle nie gehelp het nie. Israel het ook destyds in die verleentheid gekom omdat hulle op Bet-El staatgemaak het.”

14. Moab, hoe kan julle nog sê: “Ons is helde, baasvegters in die oorlog?”

15. Die Here wat sterker as alles en almal is, die Koning, sê: “Moab en al haar stede sal verwoes word. Van haar beste jongmense is doodgemaak in gevegte.

16. Baie binnekort gaan Moab deur ’n groot ramp getref word. Die land se ondergang kom vinnig nader.

17. Almal wat naby aan Moab bly, kan solank begin huil oor hierdie land. Julle wat die reputasie van Moab ken, kan sê: ‘Die septer en die staf wat gewys het hoe sterk en trots die regering van Moab was, is nou gebreek.’

18. Julle wat in Dibon bly, klim van julle troontjie af en kom sit in die stof. Die vyand wat Moab vernietig, kom ook om teen julle te baklei. Die sterk plekke wat julle gebou het om julle teen julle vyande te beskerm is al klaar verwoes.

19. Julle wat in Aroër bly, julle moet langs die pad gaan staan en kyk wat gebeur. Vra ’n bietjie vir die mense wat dit regkry om van die vyand af weg te kom wat het daar in Moab gebeur.

20. Die antwoord is: ‘Huil en roep van hartseer uit, want Moab se mag is gebreek. Vertel vir almal, selfs tot by die Arnonrivier, dat Moab verwoes is!’

21. Die straf vir die stede op die hoogland het aangebreek. Die stede is Golon, Jahas, Mefaät,

22. Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23. Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon,

24. Kerijot en Bosra. Al Moab se stede wat naby en ver is, sal so gestraf word.

25. Moab het sy krag verloor. Die land is magteloos soos ’n bul waarvan die horing afgesny is of soos iemand wie se arm gebreek is,” sê die Here.

26. Hy sê ook: “Laat Moab slinger en val soos ’n dronk mens, want hy hou hom opstandig teen My. Laat Moab in sy eie braaksel rol sodat ander hom sal spot.

27. Het jy nie met Israel die spot gedryf nie, Moab? Jy het met Israel gemaak soos ’n mens met iemand sou maak wat tussen diewe betrap word. Jy het op Israel neergesien.

28. Burgers van Moab, vlug uit julle stede uit! Gaan bly in grotte soos duiwe wat hulle neste in die bek van ’n grot maak.

29. Ons het gehoor dat Moab ’n baie groot dunk van hulleself gehad het. Hulle was baie hoogmoedig en arrogant. Ons het verder gehoor van Moab se vermetelheid, trots en selfvoldaanheid.

30. Ek weet dat Moab verwaand was. Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.

31. Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres.

32. Sibma is bekend vir sy wingerde. Ek treur meer oor Sibma se mense as oor Jaeser. Die takke van julle wingerd het vroeër so ver uitgesteek dat dit selfs tot by die Dooie See en Jaser gekom het. So wyd was julle mense versprei. Maar nou het ’n vyand wat julle wil verwoes, op julle toegesak. Hulle help hulleself aan julle somervrugte en julle druiwe.

33. Moab was eens op ’n tyd ’n vrugbare plek. Maar nou het al die blydskap en vreugde uit Moab verdwyn. Julle blydskap is van julle af weggevat. Ek het gesorg dat daar nie meer wyn uit die wynpers kom nie. Daar is ook nie meer mense wat opgewek gesels terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat skree, maar hulle doen dit nie omdat hulle bly is nie.

34. Om die waarheid te sê, die mense gil en skree van angs omdat hulle bang is. Die krete kan duidelik van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas gehoor word. Verder ook weer van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.”

35. Die Here sê: “Ek sal dit stopsit dat mense na plekke toe gaan waar hulle offers bring en wierook brand om hulle gode op so ’n manier te eer.

36. In my hart voel Ek bitter jammer vir Moab en vir die mense van Kir-Geres. My gevoel is soos wanneer ’n mens die hartseer klanke van ’n fluit hoor. Ek voel hartseer, want al hulle rykdom is weg.

37. Hulle doen alles wat die mense gewoonlik doen as hulle rou. Almal loop met ’n kaalgeskeerde kop en met baarde wat afgesny is. Hulle het snymerke aan hulle hande en hulle dra klere van sak.

38. Oral in Moab is mense besig om te huil asof iemand dood is. Hulle doen dit op die plat dakke van hulle huise en op die pleine in die stede waar die mense altyd bymekaarkom. Hulle doen dit,” sê die Here, “omdat Ek hulle gebreek het soos ’n kleipot wat niemand meer gebruik of voor omgee nie.

39. Ag, hoe stukkend is Moab! Hoor hoe huil hulle! Moab is soos iemand wat wegdraai van ander omdat hy skaam is. Moab se bure dryf die spot met hulle. Maar as hulle al die verwoesting in Moab sien, skrik hulle.”

40. Die Here sê: “Die vyand sal Moab aanval net soos ’n arend wat vinnig met uitgespreide vlerke op ’n prooi afduik.

41. Hulle sal die stede van Moab inneem en die versterkte skuilplekke oorneem. Daardie dag sal die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.

42. Moab sal verwoes word en nie langer as ’n nasie beskou word nie omdat hulle arrogant teenoor My, die Here, opgetree het.”

43. Die Here sê: “Vir julle wag daar vreeslike dinge, vanggate en lokvalle, Moab.

44. As daar mense is wat van dié vreeslike dinge probeer wegvlug, sal hulle in ’n lokval beland. En dié wat so gelukkig is om die lokval te mis sal in ’n vanggat val. Ek sal sorg dat nie een van julle wegkom nie. Die tyd het gekom dat Moab gestraf moet word.

45. Van die mense wat vlug, sal net so ver as Gesbon kom voordat hulle krag op is. Hulle sal nie verder kan gaan nie, want Gesbon, wat koning Sihon se stad is, is aan die brand. Hierdie vuur sal die hele land saam met al die mense wat opstandig is, verwoes.

46. Hoe ’n tragiese geval is Moab nie! Julle het op julle god Kemos vertrou, maar dit het julle niks gehelp nie. Julle is vernietig! Die vyand het al julle kinders gevang en uit julle land weggevat.

47. Maar eendag in die toekoms sal Ek weer Moab se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so wees!”So eindig die boodskap oor die straf van Moab.