hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 22 Die Boodskap (DB)

’n Boodskap vir die konings van Juda

1. Die Here het vir my gesê: “Gaan na die paleis en praat self met die koning van Juda. Sê vir hom:

2. Koning van Juda, u is een van koning Dawid se opvolgers. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die inwoners van Jerusalem. Luister ’n bietjie daarna.

3. Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Verder moet julle ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie mense wat nie van julle eie mense is nie of weeskinders en weduwees sleg behandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor.

4. As julle gehoorsaam is en nie hierdie verkeerde dinge doen nie, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry. Amptenare en die mense wat hulle help, sal saam met die konings ry.

5. Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, so waar as wat Ek die Here is, sal hierdie paleis ’n bouval word.”

Die lot van die paleis van Juda

6. Die Here sê ook oor die paleis: “Gilead is ’n vrugbare plek en die Libanonpieke staan hoog uit. So is die paleis van die koning van Juda vir My. ’n Plek waarop Ek trots is. Maar Ek sal die paleis verwoes en maak soos stede waarin daar geen enkele mens bly nie.

7. Ek sal mense spesiaal aanstel wat sal kom en die plek met hulle gereedskap aftakel. Hulle sal die pragtige sederbalke uitruk en in die vuur gooi.

8. Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here ’n groot stad soos hierdie verwoes?’

9. Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die ooreenkoms tussen hulle en die Here verbreek het. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees en hulle sou sy mense wees wat aan Hom behoort. Maar hulle het voor ander gode gebuig en hulle begin aanbid.’”

’n Boodskap oor Joahas

10. Moenie hartseer oor koning Josia wees nie. Moet ook nie oor hom huil nie. Huil liewer oor koning Joahas wat deur sy vyand uit sy land uit weggevat is. Hy sal nooit weer terugkom nie. Sy geboorteland sal hy nooit weer sien nie.

11. Eers was koning Josia koning. Hy is toe opgevolg deur sy seun Joahas. Joahas is gevang en uit sy land weggevat na ’n ander land. Die Here sê van hom: “Hy sal nooit weer terugkom nie.

12. Hy sal doodgaan in die land waar hy ’n gevangene is en sal sy geboorteland nie weer sien nie.”

’n Boodskap oor Jojakim

13. Die Here sê: “Die toekoms lyk sleg vir koning Jojakim. Hy bou sy paleis met mense wat hy dwing om vir hom te werk. Dan bou hy ook nog ’n boonste vertrek op hierdie onmenslike manier. Hy betaal ook nie die mense wat vir hom werk nie.

14. Hy sê: ‘Ek sal vir my ’n spoggerige paleis met groot kamers en baie vensters bou. Die vertrekke beslaan ek met sederhout en verf dit rooi.’

15. Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was.

16. Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is.

17. Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.”

18. Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim: “Sy familie sal nie geskok uitroep en oor hom huil nie. Die mense van Juda sal ook nie oor hulle koning treur nie.

19. Hy sal soos ’n donkie begrawe word. Sy lyk sal by Jerusalem uitgesleep word en buite die stad gelos word.”

Die Here se boodskap vir die koningin-moeder

20. “Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter.

21. Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie.

22. Nou sal al die mense wat jou altyd gehelp het, verdwyn asof die wind hulle weggewaai het. Jou vriende op wie jy gereken het, sal gevang en weggevat word. Jy sal in die skande kom omdat jy so baie verkeerde dinge gedoen het. Ja, jy sal verneder word.

23. Dit mag vir jou baie lekker wees om in ’n paleis te bly wat met sederhout mooigemaak is. Maar dit sal nie lank so aanhou nie. Binnekort sal jy van angs en vrees gil. Dit sal net so voel soos ’n vrou se geboortepyne.”

’n Boodskap vir Jojagin

24. Die Here het vir Jojagin, die seun van koning Jojakim van Juda, gesê: “So seker as wat Ek die lewende God is, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk.

25. Ek weet jy is bang vir koning Nebukadnesar van Babel en sy mense. Hulle wil jou graag doodmaak. Ek sal jou in hulle hande laat beland.

26. Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle doodgaan.

27. Julle sal nooit weer na julle eie land waar julle so graag sal wil wees, kan terugkom nie.”

28. Hoekom is hierdie man Jojagin soos ’n stukkende kleipot wat niemand dink enigiets werd is nie? Hoekom sal hy en sy kinders uit hulle eie land weggejaag word na ’n vreemde land wat hulle nie ken nie?

29. Juda, jy en jou mense moet luister na die boodskap van die Here!

30. Dit is wat die Here sê: “Maak ’n aantekening daarvan dat hierdie man Jojagin nie kinders gehad het nie. Ignoreer dit dat hy wel kinders het. Julle weet, nie een van sy kinders sal koning van Juda word nie. Dawid se koningslyn sal nie aangaan nie. Jojagin het misluk!”