hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 2 Die Boodskap (DB)

Verlange na die goeie ou dae

1. Die Here het nog iets vir my gegee wat ek vir hulle moes sê. Hy het gesê:

2. “Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal dit kan hoor. Die Here sê: Ek onthou nog lank gelede toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Toe wou julle My so graag tevrede stel. Julle was selfs bereid om My deur die dorre woestyn te volg waar daar geen landerye vir kos was nie.

3. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.”

4. Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook!

5. Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword.

6. Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!”

7. Die Here sê verder: “Ek het julle na ’n land gebring waar alles baie goed groei. Ek wou hê dat julle die vrugte en die goeie dinge wat die land gee, geniet. Maar wat het julle gedoen? Julle het in my land ingekom en dit met julle afgode bemors. Julle het die land wat julle van My sou erf iets gemaak om te haat.

8. Die priesters het hulle geensins aan die Here gesteur nie. Die regsgeleerdes het nie eens twee keer aan Hom gedink nie. Die leiers van die land het teen die Here in opstand gekom. Die profete het nou gesê die god Baäl het vir hulle die boodskappe gegee, nie die Here nie. Op dié manier het hulle hulle tyd eintlik op niks gemors.

9. Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Maar dit hou nie hier op nie, Ek kla ook julle kinders en hulle kinders aan oor die verkeerde dinge wat gedoen is.

10. Gaan in ’n westelike rigting tot by Siprus en oos tot by Kedar. Kyk ’n bietjie mooi wat daar aangaan. Het iets so vreemds al ooit gebeur

11. dat ’n volk hulle gode omgeruil het vir ander gode selfs al was hulle nie eintlik regtig gode nie? Ek is tog nie ’n gewone god nie, en tog het my eie mense My vir gode verruil wat niks werd is nie!

12. Die hemele kyk geskok neer op wat hier aan die gang is en bewe van verbasing,” sê die Here.

13. “My volk het twee slegte dinge gedoen: Ek is soos ’n fontein wat lewe gee vir mense wat die water drink. Wat doen hulle? Hulle het van My af weggegaan. Hulle het ook vir hulle bakke gaan uitkap om water in op te vang. Die probleem is dat hierdie bakke gekraak is en nie water kan hou nie.”

Gevolge van Israel se ontrou

14. “Het Israel ’n slaaf geword? Hulle is mos nie as slawe gebore nie. Hoekom word hulle dan nou soos ’n prooi wat gejag word?

15. Waarom dreig die vyand Israel dan nou soos leeus wat brul om die prooi te storm? Hulle het die land verwoes en die stede is nou net ’n hoop klippe wat daar lê. Daar is nie meer mense wat daar bly nie.

16. Die Egiptenaars uit Memfis en Tagpanges het Israel se mag gebreek en hulle verneder.

17. Julle het die moeilikheid oor julleself gebring. Ek wou vir julle rigting en leiding gee, maar julle het julle eie koers ingeslaan en julle nie aan My gesteur nie.

18. Wat gaan dit julle help om by Egipte of selfs by Assirië hulp te gaan soek?

19. Julle sal die gevolge dra van die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Julle gaan swaarkry omdat julle julle nie aan My gesteur het nie. Julle sal nog agterkom hoe ’n slegte ding dit is wat julle gedoen het om My in die steek te laat. Wat julle doen, wys dat julle geen respek meer vir My het nie,” sê die Here wat sterker en magtiger as alles en almal is.

20. “Dit is nou al lank terug dat Ek gesorg het dat julle nie meer ander mense se slawe is nie. Nogtans sê julle dat julle nie aan My gehoorsaam sal wees nie. Julle is net soos mense wat rondslaap. Op elke heuweltjie en onder al wat ’n koelteboom is, buig julle voor ander gode neer.

21. Ek verstaan nie hoe dit kon gebeur nie. Toe Ek julle geplant het, was julle soos uitsoekdruiweplante. Die beste soort wat ’n mens kan kry! Hoe is dit dan moontlik dat julle so kon verander dat julle nou soos wilde druiweplante is?

22. Al was julle julle ook met baie seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Al die verkeerde en slegte dinge wat julle gedoen het, is soos vuil vlekke op klere. Niks kan dit uitwas nie,” sê die Here. Niemand het soveel mag soos Hy nie!

23. “Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie ons knie gebuig voor die beelde wat van die god Baäl gemaak is nie.’ Gaan kyk gerus maar wat julle in die valleie aangevang het. Neem ’n bietjie verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree nes ’n kameelkoei op wat rondhardloop op soek na ’n bul.

24. Julle maak soos ’n wildedonkie wat aan die woestyn gewoond is. As dit paartyd is, snuif sy in die lug op soek na ’n hings. Sy word gedryf deur haar drange na die hings. Die hingste hoef nie eens na die merrie te soek nie, sy hardloop agter hulle aan. Julle maak net so in julle gehardloop agter die gode aan.

25. Israel, waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle keel brand van die dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons het lief geword vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om voor hulle neer te buig nie!’”

Israel se valse onskuld

26. “As ’n dief betrap word, kom hy in die skande. Israel se konings, leiers, priesters en die profete sal almal net so in die skande kom oor die verkeerde dinge wat hulle doen.

27. Hulle sê vir ’n beeld wat uit hout gesny is: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld wat uit klip gekap is, sê hulle: ‘Ons is jou kinders.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie” sê die Here, “maar net sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle My om hulle te help.

28. Hoekom roep julle nie hierdie gode wat julle gemaak het om julle te kom help nie? As hulle dan so goed is, laat hulle julle uit die moeilikheid help as hulle kan! Julle het omtrent net soveel gode as wat daar stede en dorpe is.

29. Waarom maak julle of dit Ek is wat verkeerd gedoen het? Julle is die mense wat teen My in opstand gekom het,” sê die Here.

30. “Dit het nie eens gehelp dat Ek julle kinders gestraf het nie. Dit lyk nie juis of hulle iets uit die straf geleer het nie. Ek het my profete na julle toe gestuur, maar julle het hulle doodgemaak net soos leeus ’n prooi verskeur.

31. Israel, luister na wat die Here te sê het! Hy vra: Is Ek vir Israel so sleg dat dit vir hulle voel soos om in ’n woestyn te wees of in ’n pikdonker land? Hoekom sê my volk dan: ‘Uiteindelik is ons vry, ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’?

32. Sê My, vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe is dit dan moontlik dat my mense My keer op keer vergeet?

33. Julle is soos mense wat al die fyner kunsies ken om ander mans of vroue in die hande te kry. Julle is so goed met die verkeerde manier van doen dat hierdie mense by julle kan kom leer.

34. Julle klere is gevlek met die bloed van onskuldige arm mense wat julle vermoor het. Julle kon nie eens sê dat julle hulle doodgemaak het omdat hulle by julle huise ingebreek het nie. Tog, ten spyte van alles

35. sê julle: ‘Ons is onskuldig. Dit is regtig so, die Here is nie kwaad vir ons nie!’ Julle kan vir seker weet, Ek gaan julle swaar straf omdat julle doodgewoon maak of julle niks verkeerd gedoen het nie.

36. Julle val lekker rond en dink vandag so en môre anders. Maar dit kan julle weet, julle vriende in Egipte sal julle in die steek laat net soos Assirië destyds gedoen het.

37. Julle sal teleurgesteld van Egipte af terugkom, want Ek sal die mense op wie julle vertrou, afskryf. Dit sal nie met julle goed gaan nie, ook al help hulle julle.”