hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 9 Die Boodskap (DB)

1. Verder het Jeremia gesê: “Ag, ek wens my kop was soos ’n put wat vol water is en my oë soos ’n fontein vol trane. As dit maar so kon wees, sou ek dag en nag gehuil het oor al my mense wat doodgemaak is.

2. Ek wens ek het ’n hut in die woestyn gehad. Wat sou ek nie gee om net daarheen te ontsnap en my mense agter te laat nie. Die mense van my volk is almal ontrou in hulle verhoudings. Hulle is ’n klomp verraaiers.”

Die Here toets sy mense

3. “My volk se leuens tref mense soos pyle. Hulle sorg nie dat die waarheid wen nie, maar die leuens. Die verkeerde goed wat hulle doen, word net al hoe erger. Hulle gee niks meer vir My om nie,” sê die Here.

4. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of jou volksgenote enigsins vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar.

5. Vriende lieg en bedrieg mekaar. ’n Mens kry net nie meer iemand wat die waarheid praat nie. Dit is al ’n tweede natuur vir hulle om nie die waarheid te praat nie. Baie van hulle is al so vasgevang in hulle valsheid dat hulle nie meer kan ophou om verkeerd te doen nie.

6. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. So ver as wat hulle gaan, bedrieg hulle mense. Hierdie mense is veronderstel om my mense te wees, maar hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here.

7. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal hulle toets vir suiwerheid soos ’n mens met metaal maak wat jy deur ’n smeltoond laat gaan. Ek kan niks anders doen as my volk so verkeerd maak nie.

8. Hulle tong is soos giftige pyle. Met hulle leuens bedrieg hulle ander mense. Hulle praat met mekaar asof hulle vriende is, maar in hulle hart maak hulle planne om van mekaar ontslae te raak.

9. Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.”

Juda se straf

10. “Ek huil omdat daar nie meer weiding vir die diere teen die hange van die berge is nie. Die ou weivelde lê ook verwaarloos en niemand gebruik dit meer nie. My hart is stukkend daaroor. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste se gebulk nie. Selfs die voëls en die wilde diere het almal padgegee.”

11. Die Here sê: “Ek sal Jerusalem soos ’n bouval maak. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die stede van Juda sal leegloop, want niemand sal meer daarin bly nie.”

12. Ek vra toe: “Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom al hierdie dinge gebeur? Het U dit vir iemand gesê wat dit aan ander mense kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eens wil waag om daardeur te gaan nie?”

13. Die Here het geantwoord: “Die stad lyk so omdat my mense nie my voorskrifte volg nie. Hulle het geweier om te lewe soos Ek gesê het hulle moet.

14. Om die waarheid te sê, hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het gebuig voor die beelde van die god Baäl soos hulle by hulle voorouers geleer het.”

15. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Kyk, Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.

16. Ek sal hulle onder ’n klomp nasies versprei. Hulle sal vreemdelinge in hierdie lande wees, want nie hulle of hulle voorouers het hierdie nasies vroeër geken nie. Selfs daar sal hulle nie wegkom nie. Ek sal hulle vyande hulle laat agtervolg totdat daar net mooi niks van hulle oorbly nie.”

Die mense van Jerusalem huil

17. Die Here het ook gesê: “Dink ’n bietjie na oor wat aan die gang is. Roep al die mense wat gewoonlik by begrafnisse huil, bymekaar. Ook dié wat treurige liedere kan sing.

18. Hulle moet gou maak en met hulle gehuil begin. So sal hulle ons kan help om ook baie droewig te huil.

19. Uit Jerusalem kan ’n mens die desperate gehuil van die mense van die stad hoor. Hulle roep uit: ‘Dit is klaar met ons! Ons is tot die grond toe verneder! Ons is uit die land gedryf en ons huise is platgeslaan.’”

20. Die vroue van die land moet luister wat die Here te sê het. Hoor baie mooi wat Hy sê: “Julle moet julle dogters leer om hartseer te word. Verder moet die vroue mekaar leer om liedere te sing wat by dood en begrafnis sal pas.

21. En as hulle vra hoekom hierdie soort liedere geleer moet word, is die antwoord: ‘Die dood het deur die venster in ons huis ingekom. Daar is nie meer kinders wat in die strate kan speel of jongmense wat by die stadspleine bymekaar kan kom nie.’”

22. Jy moet sê, die Here sê: “Die lyke van mense sal oral op die oop velde lê soos mis. Dit sal ook lyk soos die bondels graan op die landerye nadat dit afgeoes is. Niemand sal dit bymekaarmaak nie. Net so sal daar absoluut niemand oor wees om die mense te begrawe nie.”

23. Die Here sê: “’n Mens wat wysheid het, moet nie loop en spog met sy kennis nie. Net so moet iemand wat sterk is, nie grootpraat oor sy krag nie. Dieselfde geld vir mense wat ryk is; hulle moet nie dink hulle is beter as ander mense omdat hulle baie geld en goed het nie.

24. As daar mense is wat tog wil spog, is daar net een goeie rede, en dit is dat hulle insig het en My ken. Ek is die Here wat altyd regverdig optree en sorg dat ander dit ook doen. Omdat Ek julle liefhet, sal Ek julle nie in die steek laat nie. Dit is wat Ek van julle verwag. Dit sal My baie bly maak,” sê die Here.

25. Die Here sê: “Daar kom ’n tyd dat Ek al die mense wat net uiterlik besny is, sal straf. Ek kyk na mense se gesindheid en stel nie in die uiterlike tekens alleen belang nie.

26. Al Israel se bure is sulke mense wat Ek sal straf, die mense van Egipte, Edom, Amnon en Moab. Natuurlik die mense van Juda ook! Geeneen van hierdie buurnasies van Juda het die uiterlike tekens aan hulle liggaam om te bewys dat hulle deel van die mense van die Here is nie. Die mense van Juda se doen en late wys nie dat hulle aan die Here behoort nie. Hulle is ontrou aan die Here.”