hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8 Die Boodskap (DB)

Die mense aanbid afgode binne-in die Here se huis

1. Op die sewentiende September 592 v.C., in die sesde jaar dat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes weggeneem is na ’n vreemde land, was ek by my huis. Die leiers van my volk het by my gekuier. Ek het skielik bewus geraak daarvan dat die Here by my was en dat Hy Homself aan my wil wys.

2. Ek het toe Iemand gesien wat soos ’n Mens gelyk het. Van sy heupe af tot by sy voete het dit gelyk of die Man van vuur gemaak was. En van sy heupe af boontoe het dit gelyk of Hy van vuurwarm, gloeiende metaal gemaak was.

3. Hierdie Man het iets na my toe uitgesteek wat soos sy hand gelyk het. Toe het Hy my aan my hare opgetel. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat my opgetel het. Hy het my na Jerusalem toe gevat. Dit alles het met my gebeur toe ek vir God gesien het. Die Gees het my toe neergesit by die ingang na die huis van die Here op aarde, daar aan die noordekant van die gebou. Net binne die ingang van die huis van die Here het mense ’n standbeeld vir ’n afgod opgerig. Die Here was woedend omdat hierdie afgodsbeeld in sy huis opgerig was.

4. Skielik het die God van Israel in al sy mag daar verskyn. Ek het Hom herken omdat ek Hom ook voorheen in die vallei gesien het.

5. Toe sê die Here vir my: “Mens, kyk op na daardie kant toe, daar na die noordekant.” Ek het toe gekyk, en daar, reg langs die ingang na die altaar in die huis van die Here, het die afgod gestaan waaroor die Here so verskriklik kwaad was.

6. God sê toe vir my: “Mens, sien jy wat hierdie mense aanvang? Sien jy watter slegte dade die volk van Israel doen om My uit my eie huis weg te jaag? Maar kom, laat Ek jou nog erger dade as hierdie wys!”

7. Toe vat die Here my na die voordeur van die huis van die Here toe. Ek sien toe dat daar ’n gat in die muur gemaak is.

8. Hy sê toe vir my: “Mens, breek daardie gat in die muur nog groter!” Toe ek die muur verder afbreek, sien ek dat daar ’n deur is wat na ’n versteekte ingang lei.

9. Toe sê God vir my: “Stap nou ’n bietjie deur daardie ingang en gaan kyk watter afskuwelike, slegte dinge die mense daarbinne aanvang!”

10. Ek het toe in die versteekte kamer ingekruip. Ek sien toe die mure is vol geverf van slange, akkedisse en ander reptielagtige diere. Ek sien toe dis afbeeldings van afgode wat skelm deur die volk Israel aanbid word.

11. Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook.

12. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.”

13. En toe sê die Here verder vir my: “Ek gaan jou dinge wys wat die volk doen wat selfs nog afskuweliker is as dit!”

14. Toe vat die Here my na die deur aan die noordekant van die huis van die Here. Daar het ’n klomp vroue gesit. Hulle het gehuil omdat ’n afgod kwansuis op dié dag dood is, en die afgod Tammus gesê het hulle moet huil.

15. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra die Here. “Maar kom Ek gaan wys jou selfs nog groter slegte dade as dit!”

16. Toe vat die Here my binne-in sy huis in. Daar het 25 mans gestaan, met hulle rûe na die huis van die Here gedraai. Hulle het na die oostekant gekyk waar die son opkom. Hulle het die son aanbid!

17. “Het jy dit gesien, mens?” vra Hy. “Moet Ek maak of dit sommer niks is nie dat my volk sulke verskriklik slegte dade doen? En nou doen hulle boonop ook gewelddadige dade teen ander mense. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek is woedend oor wat hulle doen!

18. Daarom gaan Ek my humeur verloor. Ek gaan hulle straf hiervoor. Daar sal geen verskoning vir hulle wees nie. Ek sal hulle ook nie jammer kry nie. Selfs al roep hulle hoe hard na My om te wys hoe jammer hulle skielik is, Ek sal nie na hulle luister nie.”