hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 12 Die Boodskap (DB)

Tekens van die gevangenskap wat op pad is

1. Die Here het weer met my gepraat en vir my gesê:

2. “Mens, jy bly tussen mense wat heeldag en aldag teen My in opstand is. Dit is mense wat oë het om die waarheid self raak te sien, maar hulle weier om te kyk. Hulle het ore om na My te luister, maar hulle weier om te hoor. Hulle is rebelle.

3. Daarom moet jy nou vir jou volk demonstreer wat dit beteken om as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer te word. Pak net genoeg in ’n rugsak wat jy kan dra. Sluit dan jou huis en vensters dig toe, asof jy op ’n lang reis vertrek. Tref al jou voorbereidings vir die reis helder oordag sodat almal jou kan sien. Miskien sal hulle dan snap wat Ek vir hulle probeer sê. Maar hulle is so opstandig.

4. “Bring dan jou bagasie buitetoe gedurende die dag terwyl jou mense sien wat jy doen. En dan, terwyl jy almal se aandag het, gaan teen die aand uit jou huis uit, net soos gevangenes doen wat die lang reis na ’n vreemde land aanpak.

5. Grawe ’n gat deur die muur van jou huis terwyl jou mense na jou kyk en tel jou besittings deur die gat.

6. Terwyl hulle dit sien, tel jou bagasie op jou skouers en stap dan weg as die donkerte aanbreek. Maak jou gesig toe. Moenie rondkyk nie. Alles wat jy doen, sal vir Israel herinner aan wat dit beteken as ’n mens deur jou vyande as gevangene weggevoer word.”

7. Ek het toe alles presies gedoen nes die Here vir my gesê het. Helder oordag het ek my bagasie uit die huis gedra. In my bagasie was net dit wat ’n mens sou inpak as jy as ’n gevangene weggevoer word. Daardie aand het ek met my hande ’n gat in die muur gemaak terwyl die mense vir my kyk. Ek het in die donkerte buitetoe gegaan met my bagasie op my skouers.

8. Die volgende oggend het die Here weer met my gepraat. Hy het vir my gesê:

9. “Mens, die volk Israel is mense wat teen My in opstand is. Hulle het vir jou gevra wat alles beteken wat jy gisteraand gedoen het.

10. Gaan sê nou vir hulle: Die Here, die God van Esegiël, sê dat wat Esegiël gedoen het, ’n boodskap vir koning Sedekia is wat in Jerusalem woon, en vir die mense van Israel wat saam met hom in die land van Israel woon.

11. Verduidelik dan dat wat jy gedoen het, Esegiël, vir die volk wil wys wat baie binnekort met hulle gaan gebeur. Hulle gaan van hulle huise verdryf word. Hulle gaan deur hulle vyande as gevangenes na ’n vreemde land toe gevat word.

12. “Selfs koning Sedekia van Jerusalem sal uit die stad verdryf word. Hy sal een nag deur ’n gat in die stadsmuur moet klim. En hy sal slegs die besittings wat hy op sy skouers kan dra saam met hom vat. Hy sal sy gesig toemaak soos iemand wat as ’n gevangene weggeneem word om die doodstraf te kry vir sy slegte dade. En hy sal nooit weer sy vaderland sien nie.

13. Ek gaan hom vang soos wildvangers ’n verskrikte bok in hulle net vang. En dan sal Ek hom na Babilonië, ’n ver en vreemde land, wegvoer. Hy sal nie die vreemde land kan sien nie omdat sy oë uitgesteek sal wees, en hy sal in daardie vreemde land doodgaan.

14. “Ek sal ook sy helpers en die mense wat hom bedien en die wagte wat hom oppas, saam met hom laat wegneem na die ver en vreemde land. Hulle sal in die oorloë doodgaan.

15. En wanneer hulle in ’n ver en vreemde land sit, sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.

16. Ek sal ’n paar van hulle nie laat doodmaak in die oorlog en hongersnood en deur dodelike siektes nie. Hierdie paar mense wat oorbly, sal dan met groot skaamte vir die vyande wat hulle gevang het, vertel van al die slegte dade wat hulle aangevang het. Daardie dag sal hulle almal weet en erken dat Ek die Here is!”

17. Hierna het die Here ook nog vir my gesê:

18. “Mens, bewe van angs en vrees terwyl jy jou kos eet. En word bang elke keer as jy water drink, asof dit die laaste water is wat jy sal hê om te drink.

19. Gaan sê vir die volk die Here, die God van Esegiël, sê vir hulle die volgende oor wat die toekoms inhou vir Israel en vir die mense wat in Jerusalem bly: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet, so bang sal hulle wees. En hulle sal klein slukkies water drink terwyl hulle wanhopig rondsoek omdat daar nie meer kos en water in hulle land oor sal wees nie. Ek sal hulle land stroop sodat daar geen kos of water sal wees nie. En Ek doen dit omdat hulle so sleg en vol geweld is.

20. Hulle stede sal tot op die grond toe afgebreek word. En niemand sal meer op die plase bly en die lande bewerk nie. Daardie dag sal julle almal weet en erken dat Ek die Here is.”

21. Die Here het weer ’n keer met my gepraat en vir my gesê:

22. “Mens, watter spreekwoord is dit wat Ek hoor wat die mense van Israel deesdae gebruik? Julle sê mos: Die tyd gaan verby. En net mooi niks word waar van al daardie verskriklike dinge wat die mense wat namens die Here praat oor ons aankondig nie.

23. Wel, gaan sê dan nou vir die mense dat die Here, die God van Esegiël, sê: Ek gaan sorg dat julle nooit weer hierdie spreekwoord gebruik nie omdat alles waar sal word wat die mense wat namens My praat julle oor gewaarsku het. Daar sal ’n nuwe spreekwoord onder julle uitgedink word in die plek van die ou een. Julle sal sê: Die tyd het gekom dat alles waaroor die mans van God ons gewaarsku het, net so gebeur het soos hulle vir ons gesê het.

24. “Daardie dag sal julle sien wat kom van al die vals beloftes wat party mense gemaak het, en nogal asof hulle dit van My gehoor het, naamlik dat daar in die toekoms vrede en voorspoed in julle land gaan wees.

25. Het julle vergeet? Ek is die Here. En wat Ek sê, gaan gebeur. Ek het gedreig dat Ek julle oor julle slegte dade gaan straf, en dit sal gebeur. Dit sal binnekort gebeur, sonder dat iets of iemand dit kan keer. Want julle is ’n klomp mense wat heeltyd teen My in opstand is, Israel. Ek sal julle verwoes en vernietig, nes Ek gedreig het Ek met julle gaan doen. En dit gaan nog in julle almal se leeftyd gebeur,” sê die Here, die God van Esegiël.

26. Die Here het verder vir my gesê:

27. “Mens, die inwoners van Israel sê dat die dinge waaroor jy hulle waarsku dat die Here hulle gaan straf, eers oor ’n lang tyd gaan gebeur. Hulle sê hulle hoef hulle nie nou al te bekommer nie, want die dinge waarmee jy hulle dreig, sal eers êrens in die verre toekoms gebeur.

28. Daarom moet jy vir hierdie klomp mense gaan sê dat die Here, die God van Esegiël, sê: Wat Ek gedreig het om met julle te doen, gaan nou gebeur. Daar is geen uitstel vir my straf nie. Ek doen alles nes Ek belowe het dit gaan gebeur. Wat Ek gesê het, gaan gebeur,” sê die Here, die God van Esegiël.