hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 38 Die Boodskap (DB)

Die Here praat met Gog

1. Die Here het met my gepraat en vir my gesê:

2. “Mens, kyk na die kant toe daar waar Gog en Magog regeer. Gog en Magog regeer oor die mense van Mesek en Tubal.

3. Sê vir hierdie koning die Here, die God van Esegiël, sê oor hom: Ek is jou vyand, Gog!

4. Ek het My vir jou vererg. Daarom gaan Ek jou omdraai en hake in jou kakebeen indruk sodat Ek jou kan gaan verwoes. En nie net vir jou nie. Ek doen dit ook met al jou soldate en hulle perde. Jou soldate sal al hulle wapens aan hulle lywe hê daardie dag as Ek jou bykom en vernietig.

5. Persië, Etiopië en Libië sal ook by jou staan, hulle en hulle soldate met al hulle wapens.

6. So ook Gomer met al sy soldate en Bet-Togarma met al sy soldate, daar uit die land daar ver in die noorde. Baie ander sal ook regstaan vir die oorlog as Ek hulle verwoes.

7. “Maak jou gereed! Berei jou voor vir die oorlog! Sorg dat elke soldaat op sy pos is en dat almal hulle wapens by hulle het! Laat die konings saam met hulle soldate regstaan!

8. Iewers in die verre toekoms sal Ek jou beveel om na Israel toe te gaan. Daardie land sal pas net herstel het na ’n lang oorlog wat alles in die land vernietig het. Israel sal dan pas teruggekeer het van die vreemde lande waar hulle as gevangenes gehou is. En hulle sal in vrede in hulle eie land leef.

9. Dan sal jy op hulle afstorm soos ’n donker wolk. Jy sal saam met al jou bondgenote en al hulle soldate op Israel afkom soos ’n storm. Israel sal baie bang vir julle wees.”

God pas sy mense op

10. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle sal slegte planne beraam teen my volk.

11. Julle sal sê: ‘Israel kan homself nie beskerm nie. Sy stede word nie deur hoë mure omring nie, en die inwoners kan maklik doodgemaak word. Ek sal teen die land optrek en maklik al die mense in die land kan doodmaak. Hulle leef asof niks hulle kwaad kan aandoen nie. Ek sal maklik hulle land vir my vat!

12. Dan sal ek teen die stede optrek wat lank sonder inwoners was, maar nou vol mense is. Die mense wat daarin bly, het teruggekom na hulle eie land nadat hulle gevangenes in die vreemde was. Ek sal die Israeliete se besittings vir myself vat. En ek sal die mense as gevangenes vir myself vat. Hulle sal vir my moet werk. Daardie land se mense het baie skape en beeste wat ek vir myself kan vat. Daardie land se mense dink mos hulle is belangrik!’

13. “Dan sal die mense van Skeba, Dedan en die mense wat besigheid in Tarsis doen, vir jou vra: ‘Hoekom het jy daardie land se besittings vir jouself gevat? Wie is jy dat jy die mense van hulle geld en besittings kan beroof? Wie is jy om hulle skape en beeste na jou eie land terug te jaag? Hoe kan julle hierdie mense arm maak?’

14. “Daarom, hoor wat die Here vir Gog sê. So sê die Here, die God van Esegiël: My volk sal in vrede in hulle eie land woon. Dan sal jy gereedmaak om hulle aan te val.

15. Jy sal kom met al jou soldate en hulle perde en hulle wapens. Jy sal ’n baie groot weermag saam met jou bring.

16. As julle hier aankom, sal dit lyk of ’n wolk oor die land getrek het, so baie sal julle wees. Dit sal iewers in die toekoms gebeur. Ek laat julle teen my land optrek. Die hele wêreld sal kyk terwyl dit gebeur. En dan sal Ek julle wys wie Ek is. Jy sal My leer ken uit wat Ek met jou gaan laat gebeur. Hierna sal al die nasies erken dat Ek die Here is.”

17. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek het lank terug al oor jou gepraat. Toe het Ek vir my volk deur die boodskappers wat Ek na hulle toe gestuur het, gesê dat Ek jou teen my land en my volk sal laat optrek.

18. “Daardie dag as Gog die land binneval, sal Ek woedend word,” sê die Here.

19. “Ek sal jaloers wees op my volk. En Ek sal kwaad wees vir jou, Gog. Die land sal skud asof ’n aardbewing hom getref het as Ek met jou afreken.

20. Alles wat lewe - selfs die visse, en al die voëls en diere en mense - sal daardie dag bewe van skrik. Want julle sal My sien. Die berge sal platgevee word. Die rotse sal verkrummel. Mure sal omval voor My.

21. Jou soldate sal mekaar begin aanval en doodmaak, so deurmekaar sal dit wees.

22. Ek sal jou en jou soldate straf. Julle sal deur oorlog en siekte doodgemaak word. Ek stuur swaar reën en haelstene en vuur en brandende swael om julle te straf.

23. Só sal Ek Myself aan die nasies bewys as die sterke God. Al die nasies sal My dan raaksien. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”