hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 27 Die Boodskap (DB)

Die Here kondig Tirus se einde aan

1. Toe het die Here vir my gesê:

2. “Mens, jy moet die volgende lied sing asof jy die begrafnis van Tirus bywoon.

3. Tirus is die stad wat aan die kus lê. Al die volke wat iets wil verkoop, moet hulle handelsware deur Tirus neem. Jy het ook jou eie ware aan die mense van hierdie eiland gaan verkoop. Jy moet nou vir Tirus sê die Here, Esegiël se God, dink só oor hom: Jy het gedink jy is baie goed en baie ryk, Tirus.

4. Jy het gedink jou grense strek selfs oor die see. Jy het jouself gesien soos ’n groot, sterk skip wat op die see vaar.

5. Jy was soos ’n groot skip wat van die beste hout gebou was. Hulle het ’n sederboom van Libanon, my berg, gebruik om vir jou ’n mas te maak.

6. En hulle het vir jou roeispane gemaak van die eikebome wat by Basan groei. Hulle het jou dek van sipreshout gebou wat van die kus van Siprus af kom. En kan jy dit glo? Hulle het duur ivoor gebruik om jou dek te versier!

7. Hulle het die beste materiaal gebruik om seile van te maak. Mense het hierdie skip uitgeken aan sy seile wat van baie kleure geweef was. Hulle het jou seile pers en rooi gemaak sodat almal jou van ver af kon raaksien.

8. “Die roeiers op jou skip het van Sidon en Arwad gekom. Die ander mense wat op die skip gewerk het, het van Tirus self gekom.

9. Die beste ambagsmanne het op die skip gewerk om enige lekplek dadelik toe te stop. Al die skepe wat op die see gevaar het, het die een of ander tyd ’n draai by Tirus gemaak. Jy was die middelpunt van die aarde se besigheid.

10. En mense oor die hele wêreld het in jou weermag gedien. Hulle het gekom van lande so ver as Paras, Lud en Put. As hulle hulle wapens teen die mure van die stad opgehang het, het almal gesê: ‘Dis ’n groot en sterk stad dié!’

11. Die soldate wat reg gestaan het om die stad te beskerm het van so ver as Arwad gekom. En manne uit Gammad het diens gedoen in die torings van waar die stad veilig gehou is. Hierdie manne het ook hulle wapens teen jou mure opgehang. En was jy nie ’n veilige stad nie!

12. “Die groot en belangrike stad Tarsis was die agent wat vir jou gaan handel dryf het, want jy het soveel goed gehad om te verkoop. Hulle het jou ware verruil vir silwer en yster, tin en lood.

13. Ook Griekeland, Tubal en Mesek het met jou besigheid kom doen. Hulle het slawe en kopergoed gebring wat hulle verruil het vir die handelsware wat hulle by jou gekoop het.

14. Die mense van Bet-Togarma het perde en muile gebring en dit geruil om jou goed in die hande te kon kry.

15. Die mense van Dedan het ook gekom om met jou besigheid te doen. Die mense op die eilande het die goed wat jy gemaak het, vir jou verkoop. Hulle het jou betaal met olifantstande en baie duur hout.

16. Die mense van Aram het ook besigheid met jou kom doen, want jy het baie dinge gemaak. Hulle het jou goed kom koop met hulle materiaal wat van verskillende kleure was en die duur edelstene wat hulle uit hulle myne gehaal het.

17. Ook Juda en Israel het met jou handel gedryf. Hulle het jou ware verruil vir hulle koring, vir vye en heuning, olyfolie en balsemgom.

18. Damaskus was ook ’n agent wat vir jou besigheid gedoen het. Jy het jou produkte verkoop vir wol en wyn.

19. Die mense van Dan en tot so ver as Griekeland het hulle yster, kaneel en medisyne gebring en daarmee betaal vir wat jy verkoop het.

20. Die mense van Dedan het weer met duur komberse betaal wat jy onder jou perdesale gesit het.

21. Die Arabiere en die regeerders van Dedan het jou betaal met lammers en skape, asook bokramme.

22. En die mense van Skeba en Rama het betaal met gom en edelstene en goud.

23. Die mense van Haran en Eden, Assirië en Kilmad het ook met jou besigheid gedoen.

24. Hulle het weer mooi klere en materiaal en tou gebruik om jou te betaal vir die goed wat jy gemaak het.

25. Skepe wat van Tarsis gekom het, het jou ware opgelaai en aan ander lande gaan verkoop.

26. En so het al jou besigheid jou skatryk gemaak. Jy het ’n ryk en magtige nasie geword. Jou skure was vol duur goed.“Maar let nou mooi op! Die mense wat roeiers op jou skip is, het reguit in ’n orkaan ingeroei. Die wind het jou skip op die diepsee verpletter.

27. Daardie dag het alles vergaan. Van al jou rykdom het niks oorgebly nie. Jou soldate en die mense wat op jou skepe werk, is op dieselfde dag uitgewis. Selfs die mense wat jou goed op hulle skepe gehad het om dit te gaan verkoop, is in daardie orkaan dood. Al jou mense is verwoes. Jy het op see vergaan. Alles is verlore!

28. “Die mense wat in die lande rondom jou bly, het gebewe toe hulle hoor hoe jou mense gil en skreeu die dag toe Ek jou verwoes het.

29. Die mense wat op jou skepe geroei het, het oorboord gespring, so groot het hulle geskrik. Die soldate en die matrose het op die kaai gaan staan.

30. Hulle staan daar en huil. Hulle treur omdat hulle hartseer is omdat Ek jou vernietig het.

31. Hulle maak hulle reg vir jou begrafnis. Hulle trek begrafnisklere aan.

32. Op pad na jou graf toe sing hulle ’n lied. Hulle sê: ‘Was daar al ooit so ’n wonderlike stad soos Tirus! En nou lê hy op die bodem van die see. Hy het vergaan.’

33. “Die goed waarmee jy besigheid gedoen het, het na al die lande rondom jou gegaan. Jy het konings oor die hele wêreld ryk gemaak met al die goed waarmee jy besigheid gedoen het.

34. “En wat is jy nou? ’n Skip wat gesink het. Jy lê op die bodem van die see. Jy is verwoes! Al die goed waarmee jy besigheid gedoen het en al jou mense het verdwyn. Daar is niks oor nie.

35. “Almal wat langs die kus rondom jou woon, staan verstom oor wat met jou gebeur het. Die konings kan hulle oë nie glo nie. Hulle kyk, maar kan nie glo wat hulle sien nie.

36. “Die mense van al die nasies wat met jou besigheid gedoen het, skud die kop oor wat met jou gebeur het. Want jou einde was verskriklik. Daar is niks van jou oor nie!”