hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 29 Die Boodskap (DB)

Die Here praat met die heerser van Egipte

1. Op die sewende Januarie 587 v.C. het die Here met my gepraat. Dit was die tiende jaar dat koning Jojagin as gevangene in ’n vreemde land gesit het. Die Here het vir my gesê:

2. “Mens, kyk in die rigting van Egipte. Sê vir die regeerder van Egipte, die farao, en die mense van die land van Egipte:

3. Die Here, Esegiël se God, dink só oor julle: Ek het jou vyand geword. Koning van Egipte, jy is soos ’n gevaarlike krokodil wat in die rivier van Egipte skuil. Jy lê daar en sê: ‘Die Nyl is my rivier. Niemand anders mag hier kom nie, want ek het dit spesiaal net vir myself gemaak!’

4. “Luister! Ek gaan jou met ’n hoek vang. Dan gaan Ek jou uitsleep terwyl die visse in jou skubbe vashaak, so vinnig sal dit gebeur.

5. Ek gooi jou en al jou visse dan in die woestyn neer sodat julle daar kan doodgaan. Niemand sal eers moeite doen om jou te begrawe nie. Die wilde diere en die voëls sal aan jou vreet terwyl jy in die oop veld lê.

6. “Daardie dag sal al die mense wat in Egipte bly, ontdek dat Ek die Here is. Ek doen hierdie goed aan jou, want toe Israel jou hulp gevra het, het jy geweier om te help.

7. Toe hy op jou gesteun het, het jy soos ’n riet in sy hand gebreek en hom beseer. Toe hy sy volle gewig op jou sit, het jy onder hom padgegee. Hy het sy rug seergemaak, so hard het hy geval.

8. “Daarom,” sê die Here, die God van Esegiël, “stuur Ek nou ’n hele leërmag soldate teen jou, Egipte. Ek laat hulle jou en al die diere in jou vernietig.

9. Die land van Egipte sal een groot ruïne word. Niks en niemand sal daar bly nie. Ek doen dit sodat die mense wat in Egipte bly, sal besef dat Ek die Here is.“Jy het gesê: ‘Die Nyl is myne. Ek het hom gemaak!’

10. Daarom word Ek jou vyand, en vernietig Ek ook jou rivier. Ek sal die hele land van Egipte verwoes, van die noorde tot die suide toe. Ek sal tot diep in Afrika alles verwoes, so kwaad is Ek vir jou, Egipte.

11. Vir ’n baie lang tyd sal niemand eers deur hierdie land trek nie. Geen mens of dier sal hier kom nie omdat hier niks is nie.

12. Ek maak van Egipte ’n woestyn waarin niks groei en niemand bly nie. En Ek omring Egipte met lande wat net so ’n woestyn sonder inwoners geword het. Die stede van Egipte sal vir ’n lang tyd sonder inwoners wees. En die lande rondom Egipte sal ook sonder inwoners wees. Ek verstrooi die mense van Egipte. Hulle sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.

13. “Maar,” sê die Here, die God van Esegiël, verder, “aan die einde van die lang tyd wat Ek vasgestel het, bring Ek die mense van Egipte weer terug na hulle eie land toe. Ek gaan haal hulle uit onder die nasies waar hulle as gevangenes gebly het.

14. Dan maak Ek Egipte weer ryk. Daardie dag bring Ek die mense van Egipte terug van waar Ek hulle verstrooi het. Maar Egipte sal dan vir altyd ’n klein volk bly.

15. Hy sal nooit weer so belangrik word soos hy was nie. Hy sal nooit weer oor die lande rondom hom heers nie.

16. “Israel sal nooit weer dink dat Egipte hom kan help nie. As Israel sien hoe Egipte vernietig is, sal dit Israel herinner hoe verkeerd hy was toe hy op Egipte vertrou het om hom te help en nie sy hoop op sy Here gestel het nie. Daardie dag sal Israel weet dat Ek, en Ek alleen, die Here God is.”

Babilonië veg teen Egipte

17. Op die ses en twintigste April 571 v.C. het die Here weer met my oor Egipte gepraat. Dit was toe koning Jojagin al 27 jaar ’n gevangene in ’n vreemde land was. Die Here het vir my oor Egipte gesê:

18. “Mens, die weermag van koning Nebukadnesar van Babilonië het vreeslik hard baklei in hulle oorlog teen Tirus. Die soldate se koppe is kaal geskaaf en hulle skouers rou geskuur, so hard het hulle baklei om Tirus met die grond plat te vee. En tog het koning Nebukadnesar en sy soldate niks gekry wat hulle as buit kon wegvat nie, ten spyte van al hulle harde werk.

19. Daarom gaan Ek, die Here, die God van Esegiël, Egipte vir koning Nebukadnesar van Babilonië gee. Hy sal met sy soldate kom en die land oorwin. En dan sal hy Egipte se rykdom wegdra. Koning Nebukadnesar sal alles waarop hy sy hande kan lê, vir homself vat. Daarmee sal hy sy soldate se loon betaal.

20. Ja, Ek gee Egipte vir hom om vir hom dankie te sê, want hy het Tirus vir My verwoes. Ek het gesê hy moet dit doen. Ek is die Here, Esegiël se God.

21. “Daar gaan ’n dag kom dat Ek Israel in ere herstel. Hy sal weer so sterk en beroemd wees soos in die dae van koning Dawid. Wanneer dit gebeur, sal my volk uiteindelik vir My respek kry. Dan sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.”