hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 17 Die Boodskap (DB)

’n Verhaal van twee arende

1. Toe het die Here vir my gesê:

2. “Mens, vertel vir jou mense hierdie storie.

3. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Daar was eendag ’n groot arend met wye vlerke. Die arend het digte vere gehad wat verskillende kleure was. Hierdie arend het op ’n dag na ’n hoë berg in Israel gevlieg en die heel boonste tak van ’n sederboom afgebreek.

4. Hy het hierdie takkie in sy bek gevat en dit na ’n ver land, Babilonië, geneem. Toe het hy die takkie daar geplant.

5. “Hierna het hy nog ’n kleiner takkie van hierdie tak afgebreek en dit ook geplant. Daar was goeie, vrugbare grond langs ’n breë rivier. Die tak kon maklik groei en ’n groot boom word.

6. Die klein takkie het kort voor lank ’n druiwestok geword wat laag op die grond groei. Die druiwestok se takke het boontoe gedraai, na die arend toe. Die druiwestok het ook sterk wortels gehad. Gou was daar sterk takke en baie blare.

7. “Maar toe het ’n ander arend gekom, ook met wye vlerke en baie vere. Die druiwestok het toe sy wortels en takke na hierdie arend toe uitgesteek sodat hy vir die druiwestok water kon gee.

8. Die druiwestok het so gemaak, al was hy by goeie water en in goeie grond geplant. Daar waar hy gestaan het, kon hy groei sodat hy ’n pragtige druiwestok kon word en baie blare en soet vrugte lewer.

9. “Nou vra die Here, Esegiël se God: Moet Ek nou hierdie druiwestok los dat hy maar so aangaan? Nee! Ek sal hom uittrek, met wortels en al! Ek sal sy druiwetrosse afsny. Sy blare sal verdroog en afval. Ek sal die hele plant uittrek. En dit sal nie eens moeilik wees nie. Ek sal nie baie mense of ’n klomp soldate nodig hê om dit te doen nie.

10. “En dan, wanneer die druiwestok op ’n ander plek geplant word, sal hy weer groei? Nee, hy sal heeltemal verdroog omdat Ek die warm oostewind uit die woestyn sal stuur om hom te vernietig. Dan sal die druiwestok in die goeie grond vrek waar dit vroeër so welig gegroei het.”

Die betekenis van die verhaal

11. Toe sê die Here ek moet die volgende boodskap vir my mense gee:

12. “Sê vir die mense wat teen My in opstand is: Verstaan julle nie wat Ek vir julle probeer sê met hierdie storie nie? Kom Ek verduidelik vir julle wat Ek daarmee bedoel. Die koning van Babilonië het Jerusalem verower en toe haar koning en leiers as gevangenes weggeneem na sy land, ver van Jerusalem.

13. Toe het die koning van Babilonië ’n ooreenkoms aangegaan met ’n lid van die koninklike familie wat lojaal aan hom was. Die koning het Israel se belangrikste leiers as gevangenes na sy land toe weggevat.

14. Hy het dit gedoen om te keer dat Israel weer sterk word en in opstand kom teen die Babiloniese koning. Israel kon nou slegs ’n volk bly as hy die ooreenkoms met die Babiloniese koning hou en nie weer in opstand kom nie.

15. “Maar toe gebeur dit. Hierdie man van die koninklike familie met wie die Babiloniese koning ’n ooreenkoms gesluit het, het teen die koning in opstand gekom. Hy het sy boodskappers Egipte toe gestuur en gevra dat Egipte hom moet help om in opstand te kom teen die Babiloniese koning. Hy het gevra dat die Egiptiese koning vir hom ’n groot klomp soldate en wapens stuur sodat hy die Babiloniese koning uit sy land kon verdryf. “Kan Israel sy ooreenkoms met die Babiloniese koning sommerso verbreek en dink dat hy skotvry daarvan gaan afkom?

16. Nee! So seker as wat Ek is wie Ek sê Ek is,” sê die Here, Esegiël se God, “die koning van Israel sal as ’n gevangene in Babilonië doodgaan. Hy sal doodgaan in Babilonië, die land van die koning vir wie hy sy woord gegee het dat hy nie in opstand sal kom nie. Hy het sommerso sy woord verbreek en in opstand gekom.

17. Die koning van Egipte en sy groot weermag sal niks kan doen om Israel te help nie. Die koning van Babilonië sal maar net weer teen Jerusalem optrek en die stad verslaan. En dan sal die koning van Babilonië baie mense doodmaak.

18. Want die koning van Israel het belowe dat hy nie teen die koning van Babilonië in opstand sal kom nie, maar hy het sy belofte verbreek. Daarom sal hy nie ontsnap nie.

19. Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek verseker jou, Ek sal die koning van Israel self straf omdat hy nie sy belofte gehou het nie. Hy het sy belofte in my teenwoordigheid gemaak, maar toe het hy dit verbreek.

20. Ek sal my vangnet oor hom gooi en hom vang soos ’n wilde voëltjie gevang word. En dan sal Ek hom na Babilonië toe bring. Daar sal Ek hom straf omdat hy teen My in opstand gekom het.

21. Dan sal al die beste soldate van Israel in die oorlog teen Babilonië doodgemaak word. En die mense wat in Jerusalem oorbly, sal oor die hele aardbol verstrooi word. As dit gebeur, sal julle weet en erken dat Ek die Here is en dat Ek vooruit voorspel het dat dit so gaan gebeur.”

22. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek breek self die boonste takkie van die seder af, en dan gaan plant Ek hierdie takkie op Israel se hoogste berg.

23. En hierdie takkie sal begin groei en ’n reuseboom word. En hierdie boom sal sy takke uitsprei en baie saad verskaf. Voëls van elke soort waaraan jy kan dink, sal hulle neste in hierdie boom se takke bou. Hulle sal wegkruip tussen sy takke as daar gevaar kom.

24. En dan sal al die bome in die bos weet dat dit Ek, die Here, is wat die groot boom afkap en die klein boompie laat groei en grootword. Dit is Ek wat die groen boom laat verdroog en die dooie boom weer laat groei. Ek is die Here, en Ek het gepraat! Ek sal doen wat Ek gesê het.”