hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 47 Die Boodskap (DB)

Riviere van genesing uit die huis van die Here

1. Die man wat die opmetings moes doen, het my toe weer teruggebring na die ingang van die huis van die Here toe. Toe sien ek iets snaaks. Daar het water onder die huis van die Here uitgekom, aan die oostekant daarvan. Die water het regs van die huis van die Here weggeloop, suid van die altaar verby.

2. Die man vat my toe aan die hand. Hy lei my by die ingang aan die noordekant van die huis van die Here uit, en om na die buitenste ingang aan die oostekant toe. Daar syfer die water toe regs langs die ingang uit.

3. Die man het na die oostekant toe gestap. Met sy liniaal het hy 500 meter afgemeet van hierdie ingang af. Toe wys hy vir my ek moet deur die water loop. Die water het tot by my enkels gekom.

4. Toe het hy nog 500 meter verder afgemeet. Hy het gaan staan en ek moes weer deur die water gaan. Hier het die water tot by my knieë gekom. Die man het toe nog 500 meter verder afgemeet, en ek moes weer deur die water loop. Hier het die water tot by my heupe gekom.

5. Toe meet hy nog 500 meter verder af. Maar hier was die water ’n diep stroom. Ek kon nie daardeur loop nie. Die water was so diep dat ’n mens sou moes swem.

6. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here.

7. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier.

8. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon.

9. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe.

10. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See.

11. Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het.

12. Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.”

Die grense van die land

13. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gaan nou vir jou wys wat die grense van die gebiede is wat vir die twaalf stamme van my volk gegee moet word. Onthou om aan Josef twee areas te gee.

14. Aan elkeen van die ander stamme moet julle een area gee. Ek het vir julle oupagrootjies belowe dat Ek hierdie land aan hulle en hulle kleinkinders sal gee. Daarom moet julle dit erf.

15. “Die grense van julle land lyk só: Die grens aan die noordekant van die land is van die Middellandse See, oor die volgende dorpe: oor Getlon tot by Sedad,

16. en verder deur Hamat en Berota, verby Sibrajim tussen die grond wat aan Damaskus en Hamat behoort, en Middel-Gaser wat op die grens van Gauran lê.

17. Die grens van julle land kom van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens.

18. “Die grens aan die oostekant is van Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens.

19. “Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Middellandse See. Dit is die suidgrens.

20. “Aan die westekant is die grens die Middellandse See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.

21. “Elke stam in Israel moet ’n gebied kry wat net so groot is as die gebied wat elke ander stam gekry het.

22. Wanneer julle moet besluit oor wie watter gebied kry, moet julle loot om te bepaal wie kry wat. As daar immigrante onder julle bly, en hulle is al ’n geslag lank by julle, moet julle ook vir hulle grond gee. Julle moet hierdie mense behandel asof hulle saam met julle burgers van julle land is.

23. Die immigrante moet saam met julle van die grond erf wat Ek vir die stamme van my volk gee,” sê die Here, Esegiël se God.