hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 30 Die Boodskap (DB)

Die Here kondig ’n verskriklike einde vir Egipte aan

1. Die Here het toe weer met my gepraat:

2. “Mens, sê wat Ek nou vir jou sê, want dit is die Here, die God van Esegiël, wat praat. Sê: Huil! Want die dag wat kom, gaan verskriklik wees!

3. Dit is die dag van die Here wat kom. Dis ’n donker dag waarop mense gaan swaarkry en doodgemaak gaan word. Al die volke gaan rondhardloop, so bang gaan hulle daardie dag wees.

4. Daar gaan oorlog oor Egipte kom. En die oorlog gaan so erg wees dat daar nie ’n plek gaan wees waar daar nie lyke rondlê nie. Egipte se rykdom gaan vernietig word en die land tot op die grond verwoes word. Selfs die land aan die suide van Egipte, Etiopië, sal vernietig word.

5. Die oorlog gaan so erg wees dat dit gaan oorspoel na ander lande en hulle ook vernietig. Etiopië, Libië en Arabië met al hulle bondgenote sal verwoes word.”

6. Want so sê die Here: “Almal wat met Egipte saamgestaan het en hom ondersteun het, sal vernietig word. Egipte het gedink hy is sterk. Maar hy sal ondergaan. Nêrens in die land sal daar iemand oorbly nie. Hulle sal almal in die oorlog doodgemaak word,” sê die Here, die God van Esegiël.

7. “Egipte sal soos ’n woestyn word met niemand wat daarin bly nie. Dieselfde sal ook met al die nasies rondom Egipte gebeur. Egipte se stede sal soos ’n woestyn wees met geen lewe in nie; so ook die stede rondom Egipte. Die stede sal net ruïnes wees.

8. Die mense van Egipte sal dan besef dat dit Ek was wat hulle land aan die brand gesteek het en al die nasies wat Egipte gehelp het, ook uitgeroei het.

9. Daardie tyd stuur Ek boodskappers wat in vinnige skepe kom. En hulle sal die Etiopiërs wat rustig woon, die skrik op die lyf gaan jaag. Almal sal paniekbevange rondhardloop daardie dag as Ek Egipte finaal vernietig.”

10. Want so sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gebruik koning Nebukadnesar van Babilonië om al die baie mense van Egipte te vernietig.

11. Hy en al sy soldate word gestuur om die land tot op die grond te verwoes. Sy soldate het geen genade vir mens of dier nie. Hulle sal Egipte aanval. En hulle sal die mense van Egipte doodmaak totdat die hele land vol lyke lê.

12. Ek laat selfs die Nyl opdroog sodat dit geen water meer het nie. En Ek gee die land in die hande van slegte mense. Hulle sal die land verwoes, en almal wat daar bly, doodmaak. Ek gebruik mense van vreemde lande om dit te doen. Luister mooi! Dit is Ek, die Here, wat nou aan die woord is.”

13. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek slaan die afgodsbeelde van Egipte stukkend. Al die beelde van afgode wat opgerig is by die hoofstad, Memfis, breek Ek in stukke. Daar sal niemand meer in Egipte oor wees om oor die land te regeer nie. Geen wet sal meer geld nie.

14. Ek vernietig al die groot en belangrike stede, Patros en Soan en No. Daar sal net ruïnes oorbly van hierdie pragtige stede. Ek verbrand hulle in my woede.

15. Ek slaan die sterkste stad in Egipte, Sin, met my vuis plat, so kwaad is Ek vir Egipte. En Ek trap die soldate plat wat in die kwartiere in No bly, sonder genade.

16. Ek brand die hele Egipte tot op die grond af. Die mense wat in Sin bly, sal krul van die pyn wat hulle gaan tref. Ek skeur die mense van No uitmekaar. En Ek sal die mense van Memfis helder oordag aanval.

17. Die jongmense wat in Awen en Pi-Beset bly, sal in die oorlog doodgemaak word. En die vroue sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.

18. In Tagpanes sal die son in die middel van die dag ondergaan, so donker sal dit word. Want Ek sal Egipte verwoes. Hy sal geen mag meer hê nie. “Egipte het gedink hy is so sterk. Hy het oral geloop en spog oor hoe sterk hy is. Daardie dag sal Ek sy mag breek. Dit sal lyk of donker onweerswolke oor die land opgekom het, die dag as die mense van die land as gevangenes weggevat word.

19. Ek straf Egipte swaar. Dan sal Egipte weet en erken dat Ek die Here is.”

Egipte se arms word gebreek

20. Op die twintigste April 587 v.C. het die Here met my gepraat. Koning Jojagin was toe al elf jaar ’n gevangene in Babilonië, ver van sy eie land. Die Here het vir my gesê:

21. “Mens, Ek het die arm van die regeerder van Egipte, die farao, gebreek. En sy arm is nie in gips gesit sodat dit weer kan aangroei nie. Sy arm sal nie weer aangroei en sterk word sodat hy ’n swaard daarmee sal kan vashou nie.

22. “Want,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek is sy vyand. Ek breek al twee sy arms. Ek breek die goeie arm waarmee hy kan veg, en die arm wat al klaar af is, breek Ek nog verder. Die heerser van Egipte se swaard sal op die grond val. Hy sal hom nie kan vashou nie.

23. Ek verstrooi die mense van Egipte onder baie nasies. Hulle sal as gevangenes weggevat word.

24. Ék maak die koning van Babilonië se arms sterk. En Ek sit my swaard in sy hand. Maar Ek breek die arms van die koning van Egipte. Hy sal op die grond bly lê as Ek met hom klaar is. Hy sal so gewond wees dat niks of niemand sy lewe sal kan red nie. Hy sal brul van die pyn.

25. Ja, Ék maak die arms van die koning van Babilonië sterk. Maar die koning van Egipte sal nie sy arms kan gebruik nie. Want Ek sit my eie swaard in die hand van die koning van Babilonië. Hy sal Egipte daarmee verwoes.

26. “Ek verstrooi die Egiptenaars onder die nasies. Hulle sal gevangenes in ander lande wees. Dan sal hulle erken dat Ek die Here is!”