hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 37 Die Boodskap (DB)

Die Here wys Esegiël ’n vallei vol bene

1. Die Here het Hom hierna weer op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Die Here se Gees het my weggeneem, en ek het by ’n laagte gaan staan. In die laagte het daar baie bene van mense rondgelê.

2. Die Here het my toe om die bene laat loop. Dit was ou, uitgedroogde bene. Die hele leegte was vol daarvan. Oral op die grond het daar net bene gelê.

3. Toe vra die Here vir my: “Mens, kan hierdie bene weer lewendig word? Kan daar lewendige mense uit hierdie bene kom?”“Here, my God, U alleen weet wat die antwoord daarop is,” het ek geantwoord.

4. Toe sê die Here vir my: “Praat met die bene, Esegiël. Sê vir hierdie bene: Droë bene, luister as die Here met julle praat!

5. So sê die Here, Esegiël se God, vir hierdie bene: Kyk mooi! Ek gaan asem in julle inblaas. Dan sal julle weer lewendig word.

6. Dan sal Ek vleis en spiere om julle sit. En dan sal Ek vel om julle sit. Ek blaas asem in julle. Julle sal lewendige mense word. En dan sal julle weet dat Ek die Here is.”

7. Ek het toe met die bene gepraat, net soos die Here vir my gesê het. Die volgende oomblik, terwyl ek nog praat, was daar ’n groot geraas. Oor die hele vallei het die bene begin raas soos dit teen mekaar gekap en geskuur het. Die bene het elkeen beweeg na die ander bene van dieselfde liggaam. En liggame se bene het só by mekaar uitgekom.

8. Terwyl ek nog kyk, het vleis en spiere gevorm wat om die bene gaan sit het. Toe het vel bo-oor elke liggaam gevorm. Maar al die liggame het leweloos op die grond bly lê.

9. Toe sê die Here vir my: “Praat met die wind. Sê: So sê die Here, die God van Esegiël: Kom, wind, kom uit die vier rigtings van die aarde! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewendig kan word!”

10. Ek het gedoen soos die Here my beveel het. Die volgende oomblik het die wind oor die liggame gewaai, en die liggame het begin asemhaal. Hulle het almal lewendig geword. Die skare liggame wat lewendig geword het, het op hulle voete gaan staan.

11. Toe sê die Here vir my: “Mens, Israel is soos hierdie bene. My volk sê: ‘Ons het soos ou, droë, dooie bene geword. Ons het geen hoop in die lewe meer oor nie!’

12. “Sê nou vir my volk die Here, die God van Esegiël, sê: My volk, Ek haal julle uit die graf waarin julle beland het toe julle as gevangenes weggevoer is na vreemde lande. Dit sal wees asof Ek julle uit die dood laat opstaan. Want Ek sal julle daar gaan haal en terugbring na julle eie land. Julle sal weer in Israel bly.

13. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die Here is, my volk.

14. Dan sal my Gees die wind wees wat Ek oor julle laat waai. Julle sal weer lewe en terugkom huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, as julle sien dat Ek alles presies gedoen het soos Ek belowe het.” Dit is Ek, die Here, wat gepraat het.

Die Here beloof om Israel en Juda weer een te maak

15. Die Here het toe verder met my gepraat.

16. “Mens, vat ’n stuk hout. Kerf dan hierdie woorde daarop: Hierdie stok is Juda en al die stamme wat saam met hom werk. Vat dan ’n ander stok en kerf daarop: Hierdie stok is die stamme van die noordelike ryk van Israel.

17. Hou nou albei hierdie stokke saam in jou hand. Gebruik hulle as een stok.

18. Wanneer jou mense vir jou vra wat jy doen en wat dit beteken,

19. moet jy vir hulle verduidelik: So sê die Here, Esegiël se God: Ek gaan die noordelike stamme van Israel vat en hulle by Juda sit. Ek maak hulle een stok in my hand.

20. “Hou dan die stokke waarop jy gekerf het, so dat jou mense dit kan sien.

21. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê só: Ek gaan die mense van Israel haal waar hulle tussen ander nasies bly. Ek gaan hulle huis toe bring, want Ek gaan hulle self haal waar hulle nou in vreemde lande bly.

22. Dan sal Ek Israel en Juda weer een nasie maak. Hulle was voorheen twee volke, maar nou sal hulle net een koning hê wat oor hulle regeer. Hulle sal nie meer twee nasies wees wat in twee lande bly nie.

23. Dan sal my volk ophou om voor afskuwelike afgode te buig. Hulle sal nie meer slegte dinge doen nie, want Ek sal hulle red van hulleself. Ek sal hulle weer nuut maak. Dan sal hulle werklik my volk wees. En Ek sal hulle God wees.

24. “Dan sal iemand oor hulle heers wat so goed sal wees soos koning Dawid. Hierdie koning sal My dien en aanbid. Hy sal vir hulle soos ’n goeie skaapwagter wees. En my volk sal doen wat Ek hulle beveel. Hulle sal gehoorsaam wees aan wat Ek vir hulle sê.

25. Hulle sal in die land bly wat Ek vir hulle oupagrootjies gegee het, vir Abraham en Isak en Jakob. Hulle sal daar bly, so ook hulle kinders en hulle agterkleinkinders. ’n Goeie koning soos Dawid sal oor hulle regeer, en dit sal goed gaan.

26. Ek sal ’n ooreenkoms met hulle sluit wat vir altyd geldig sal wees. My deel van die ooreenkoms sal wees dat Ek vir hulle die land van hulle oupagrootjies sal teruggee. En Ek sal sorg dat dit met hulle goed gaan sodat hulle hulle kinders en kleinkinders sien. Ek sal my huis weer daar laat bou tussen hulle, en dit sal vir altyd daar wees in hulle land.

27. Ek sal tussen hulle bly, in my huis. Ek sal hulle God wees. En hulle sal my volk wees.

28. Omdat my huis dan tussen hulle is en Ek tussen hulle bly, sal al die nasies agterkom dat Ek, die Here, Israel eenkant gesit het om aan My te behoort en vir My te werk.”