hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 39 Die Boodskap (DB)

Die Here belowe om Gog se soldate te straf

1. “Mens, sê vir Gog die Here, Esegiël se God, sê: Ek het jou vyand geword. Jy regeer oor Mesek en Tubal.

2. Ek draai jou om sodat jy in ’n ander rigting sal loop. Ek dryf jou na die berge van Israel. Ek lei jou uit jou land uit sodat jy in Israel se land aankom.

3. Daar slaan Ek jou wapens uit jou hande uit. Jy sal hulpeloos daar staan.

4. Jy en al jou soldate sal daar, op die berge van Israel, doodgemaak word. Ek gee julle lyke vir die aasvoëls en die wilde diere. Hulle sal julle lyke opvreet.

5. Ja, julle lyke sal oral rondlê, ook op die oop veld.

6. Dan sal Ek vuur laat val op die mense van Magog en op al sy bondgenote wat veilig by die huis agtergebly het, daar langs die kus. Hulle sal ook weet dat Ek die Here is.

7. “So sal Ek Myself aan die mense van Israel bekendmaak. Hulle sal goed verstaan wie Ek is. En hulle sal niks meer doen wat My beledig nie. Al die nasies sal dan ook weet dat Ek die Here is. Ek is Israel se God, die Een wat alles kan doen.

8. “Ja, wat Ek sê, gaan gebeur. Alles sal presies gebeur soos Ek gesê het. Ek sal julle straf vir julle slegte dade.

9. Die dag as dit gebeur, sal die mense in die stede van Israel rondloop. Hulle sal al die wapens van hulle vyande bymekaarmaak. Dan sal hulle dit gebruik om mee vuur te maak. Daar sal genoeg wapens wees sodat hulle vir sewe jaar daarmee sal kan vuur maak!

10. My volk sal nie meer nodig hê om in die veld rond te loop en hout te soek nie. Hulle sal nie meer bome afkap of takke afsaag waarmee hulle vuur kan maak nie. Hierdie wapens sal genoeg hout wees om mee vuur te maak, so groot sal die verwoesting wees wat Ek onder julle vyande sal bring. Julle sal die besittings van julle vyande vir julleself vat. Dit is die einste vyande wat gekom het om Israel se besittings vir hulleself te vat,” sê die Here, die God van Esegiël.

11. “Dan maak Ek ’n groot begraafplaas waar Gog en al sy soldate begrawe kan word. Die begraafplaas sal in die Vallei van Reisigers wees, oos van die Dooie See. Mense wat daarlangs verbytrek, sal ’n ompad moet kies, so groot sal die begraafplaas wees. Hulle sal die naam van die vallei verander sodat mense daarvan sal praat as die Vallei van Gog se Horde Soldate.

12. Daar sal so baie lyke wees dat dit die mense van Israel sewe maande lank sal vat om almal te begrawe.

13. Elkeen in die land sal moet help. Israel gaan vir lank feesvier die dag as Ek hulle vyande voor die voet doodmaak. Daardie dag gaan Ek vir Israel wys wie Ek is, en hoe sterk Ek is,” sê die Here.

14. “As die sewe maande verby is, sal spesiale spanne aangestel word wat deur die land gaan. Hulle werk sal wees om te soek of daar nie nog geraamtes agtergebly het van soldate wat in die oorlog dood is nie. Hulle sal al die geraamtes wat hulle kry, begrawe. So moet my land weer skoongemaak word.

15. As hulle ’n geraamte kry, sal hulle ’n merk daar regop sit. Agter hulle sal die begrafnisondernemers kom. As hulle êrens ’n merk sien, sal hulle die geraamte daar wegvat. Hulle sal elke geraamte in die Vallei van Gog se Horde Soldate gaan begrawe.

16. Naby die begraafplaas sal ’n dorp ontstaan. Hulle sal die dorp vernoem na die horde soldate wat daar begrawe is.”

Die Here se vyande word behoorlik vernietig

17. “Roep nou eers al die voëls en die wilde diere bymekaar,” sê die Here, die God van Esegiël. “Sê vir hulle: Kom bymekaar! Ek maak vir julle ’n groot ete reg! Julle gaan feesvier! Kom van oor die hele land, van die ooste tot die weste. Kom na die berge toe. Daar gaan vir julle genoeg vleis wees om te eet en genoeg bloed wees om te drink!

18. Kom eet die vleis van sterk soldate. Drink die bloed van die leiers van volke. Ek maak hierdie mense soos vet diere wat gevrek het. Julle kan hulle kom opvreet.

19. Kom vreet tot julle nie meer kan nie. Kom drink bloed tot julle dronk is daarvan. Ek het hierdie fees vir julle gereedgemaak.

20. Kom vreet die perde en hulle ruiters en al die sterk en dapper soldate. Kom vreet tot julle genoeg het,” sê die Here, die God van Esegiël.

21. “So wys Ek vir die nasies wie Ek is, en hoe sterk Ek is. Hulle sal sien wat gebeur as Ek mense straf. Hulle sal voel hoe dit is as Ek, die sterk God, mense verwoes.

22. Daarna sal Israel ook baie goed verstaan wie Ek is. Hulle sal sien wat Ek doen as Ek kwaad word. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

23. “Dan sal die nasies ook verstaan hoekom Ek toegelaat het dat vyande my volk as gevangenes wegvoer om in vreemde lande te gaan bly. Dit is hoe Ek hulle vir hulle sonde gestraf het. Hulle het nie gedoen wat Ek hulle beveel het nie. Daarom het daar ’n dag gekom dat Ek my rug vir hulle gedraai het. Toe het Ek toegelaat dat hulle vyande hulle doodmaak en verwoes.

24. Ek het nie meer na hierdie volk gekyk nie. Ek het hulle gestraf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle straf het ooreengestem met die slegte dinge wat hulle gedoen het.”

Die Here beloof om sy volk terug te bring

25. Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sal my volk terugbring van waar hulle nou as gevangenes in ’n ver en vreemde land sit. Ek sal hulle weer goed behandel. Ek sal hulle nie verder straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het nie. Want Ek moet my Naam beskerm voor mense wat sleg praat en sê Ek kan nie behoorlik sorg vir die volk wat Ek uitgekies het nie. Hulle sê dit omdat my volk as gevangenes weggevat is uit hulle eie land.

26. My volk sal dan sê: ‘Ons het al die slegte dinge gedoen wat die Here ons beveel het om nie te doen nie. Ons was opstandig teen die Here. Ons het ons nie aan Hom gesteur nie.’“Ek sal my volk terugbring huis toe. Dan sal hulle veilig en gelukkig in hulle eie land leef. Niemand sal hulle ook weer pla of hulle lewens in gevaar stel nie. Hulle sal vir niks en niemand bang wees nie.

27. Daardie dag as Ek hulle terugbring uit die lande van hulle vyande waar hulle nou gevangenes is, sal Ek vir die nasies wys hoe sterk Ek is. Hulle sal dit sien as hulle kyk hoe Ek my volk terugbring na hulle eie land.

28. Dan sal my volk ook besef dat Ek die Here is. Hulle sal sien dat dit Ek was wat hulle as gevangenes laat weglei het na vreemde lande. En dat dit Ek is wat hulle ook weer terugbring na hulle eie land. Ek sal niemand van my volk laat agterbly in die vreemde land waar hulle nou as gevangenes bly nie.

29. Ek sal ook nooit weer my rug vir hulle draai nie. Nee, Ek sal my Gees in hulle gee,” sê die Here, die God van Esegiël.