hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 31 Die Boodskap (DB)

Die Here kap die grootste boom in die bos af

1. Op die 21ste Junie 587 v.C. het die Here verder met my gepraat. Ons koning, Jojagin, was toe al elf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land. Die Here het vir my gesê:

2. “Mens, gaan sê vir die koning van Egipte en vir al sy mense wat Ek sê. Ek dink só oor hulle: Jy was so trots en jy het gedink niemand is so sterk soos jy nie!

3. Jy het gedink jy is so sterk soos Assirië, die land daar in die ooste. “Kom Ek vertel jou wat het met Assirië gebeur. Assirië het soos ’n hoë sederboom op die hoogste berg in my land, die Libanonsberg, gegroei. Assirië was ’n groot en sterk nasie. Hy was soos ’n sterk boom wat sy skaduwee oor ’n groot deel van die aarde gegooi het. Hierdie boom het gedink sy top is tussen die wolke, so hoog was hy.

4. Waar hy gegroei het, was daar baie water. Daar was soveel water dat al die bome rondom hierdie groot boom ook genoeg water gehad het.

5. “Hierdie groot boom het uitgetoring bo al die ander bome. Die takke van die boom het dik gegroei omdat sy wortels in diep water gestaan het.

6. Die voëls het graag in die groot boom se takke nes gemaak. En die wilde diere het op die hitte van die dag in die skaduwee van die boom gaan lê. Daar is hulle kleintjies gebore.

7. Die boom was pragtig en sterk, want die wortels van die boom het tot by die water gegroei.

8. Hierdie boom het hoër gegroei as enige ander boom op aarde. Geen ander boom wat deur God geplant is, was so mooi soos hierdie boom nie.

9. Ek het hierdie boom so mooi laat groei. Die ander bome in die bos was jaloers op hierdie boom.”

10. Maar nou sê die Here, die God van Esegiël: “Hierdie mooi boom het toe trots geword. Hy het begin dink dat hy baie goed en mooi is. Hy het gedink hy is beter as die ander bome. Hy het gedink hy kan sy top in die wolke indruk.

11. Daarom gee Ek hierdie boom weg vir vyande wat met byle en sae sal kom. Hulle kap hierdie boom af en saag hom in stukke. Hierdie boom het slegte dinge gedoen. Daarom gooi Ek hom weg.

12. ’n Vreemde nasie se soldate kom hom afkap. Hulle het die boom wat afgekap is, op die grond laat lê. Die takke van die boom het op al die berge en in die valleie oor die hele land gelê. Almal wat in die skaduwee van die boom gebly het, het toe padgegee.

13. Die voëls sit nou op die boom wat omgeval het. Die wilde diere loop tussen die takke deur en wei.

14. Laat die ander bome dít hieruit leer: Laat geen ander nasie ooit so vol van hulleself word soos hierdie boom nie. Laat geen boom wat by die water staan, weer so hoog probeer groei nie. Alle nasies wat so hoog soos die wolke groei, sal dieselfde pad loop. Ek sal hulle platslaan. Al sulke nasies sal vernietig word.”

15. So sê die Here, Esegiël se God: “Assirië het in sy graf beland. Almal het gehuil toe hy begrawe word. Selfs die waters wat hom van kos voorsien het, het opgehou om te loop, so het hulle oor hom getreur. Die Libanonsberge het ook gehuil. Hy het swart begrafnisklere aangetrek. Al die bome in die bos het droog geword.

16. En Ek het al die nasies laat bewe, so bang was hulle toe hierdie groot boom geval het. Die aarde het gedreun van die slag. Ek het Assirië in sy graf laat beland. Net so het Ek alle trotse mense doodgemaak. Al die ander trotse bome wat ook in die tuin van Eden gegroei het, het gesien dat hierdie groot boom saam met hulle in die graf beland het. Die mooiste en beste bome wat diep wortels gehad het wat tot by die waters gegaan het, is almal graf toe.

17. En almal wat die groot boom gehelp het, is ook verwoes. Hulle is ook nou dood. Al die nasies wat in die skaduwee van die groot boom geleef het, is daarmee heen.

18. “Egipte, wie was so groot en sterk soos jy? Jy het gedink jy is die sterkste en die beste. Watter boom wat deur die Here geplant is, het so hoog soos jy gegroei, koning van Egipte? Maar jy sal ook so laag daal soos die graf. Jy sal saam met al die ander nasies vernietig word. Jou graf sal tussen al die mense wees wat deur die swaard doodgemaak is. Dit is die uiteinde van die koning van Egipte en sy baie soldate.” Die Here, die God van Esegiël, het dit gesê, en dit sal gebeur.