hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33 Die Boodskap (DB)

Die Here stel Esegiël as Israel se wag aan

1. Die Here het weer met my gepraat:

2. “Mens, sê vir jou mense wat Ek vir jou sê. Mense stel iemand aan wat waghou om te kyk of daar nie ’n vyand is wat die land gaan aanval nie.

3. Die man wat waghou se werk is om die volk te waarsku as hy die vyand sien aankom. Hy gee ’n teken en dan weet die volk gevaar dreig.

4. As dit nou gebeur dat die mense hoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle doen niks daaraan nie, is dit hulle eie skuld as die vyand hulle kom doodmaak.

5. Hulle het gehoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle het hulle nie aan die waarskuwing gesteur nie. Dis hulle eie skuld as die vyand hulle betrap terwyl hulle nie reg is om te veg nie. As hulle na die waarskuwing geluister het, sou hulle gereed gewees het om teen die vyand te veg. En dan sou hulle tien teen een nie dood gewees het nie.

6. Maar sê nou die man wat aangestel is om op die uitkyk te wees vir vyande doen nie sy werk nie; sê nou hy sit en slaap; of hy loop rond en doen nie sy werk nie; die vyand val die land binne, maar die man waarsku nie sy volk nie, dan is hierdie man verantwoordelik as iemand deur die vyand doodgemaak word. Die mense wat doodgemaak word, gaan dood omdat Ek hulle vir hulle slegte dade straf. Maar hierdie man sal moet betaal vir die feit dat die mense dood is, want hy het nie sy werk gedoen nie.

7. “Esegiël, Ek stel jou aan om wag te hou. Jou werk is om te kyk of daar nie ’n vyand aankom wat die land gaan aanval nie. Jou werk is om op die uitkyk te wees en jou volk te waarsku. Jy moet fyn luister na wat Ek sê. En dan moet jy hierdie volk namens My gaan waarsku.

8. Ek gaan dalk vir jou sê dat daar mense is wat aanhou om slegte dinge te doen en dat Ek hulle daarvoor gaan straf. As jy hierdie mense nie waarsku dat hulle moet ophou met slegte dinge en goeie dinge moet begin doen nie, sal hulle doodgemaak word. Ek sal dit doen. Maar jy sal moet betaal omdat hulle dood is, want jy het nie jou werk gedoen nie.

9. Maar as jy hulle waarsku en vir hulle sê wat Ek jou beveel en hulle hulle nie daaraan steur nie, sal hulle doodgemaak word. As hulle nie omdraai en agter My aanloop nadat jy hulle in my Naam gewaarsku het nie, sal Ek hulle straf. Maar jy sal nie gestraf word vir hulle dood nie, want jy het gedoen wat Ek jou beveel het.

10. “Mens, sê vir die volk Israel wat Ek sê: Julle hou aan met kla dat julle swaar gestraf word. Julle sê julle slegte dade kom op julle eie koppe af. Dit gaan sleg met julle. ‘Ons vergaan,’ sê julle. ‘Ons kan nie só aanhou leef nie!’

11. “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, Esegiël se God, “dis nie vir My lekker om mense dood te maak nie. Maar as mense aanhou om slegte dinge te doen en Ek hulle daaroor gewaarsku het, het Ek geen ander keuse as om hulle dood te maak nie. Ek wil so graag hê hulle moet omdraai en agter My aanloop. Ek wil so graag sien dat hulle begin doen wat Ek sê. Dan sal hulle leef! Daarom, draai dadelik om, my volk. Draai weg van jou slegte paaie af. Hoekom tart julle My? Hoekom wil julle hê Ek moet geen ander keuse oorhê as om julle te straf en dood te maak nie?”

God hou nooit vorige sondes

12. “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê.

13. Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen.

14. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê.

15. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe.

16. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe.

17. “Jou mense sê: ‘Die Here maak nie reg met mense nie!’ Maar dit is hierdie mense wat nie reg maak nie.

18. Ek sê weer: slegte mense sal doodgemaak word oor die slegte dinge wat hulle doen. As mense wat die goeie doen, die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word.

19. Maar as mense wat sleg doen, ophou daarmee en begin doen wat Ek sê, sal hulle lewe.

20. En nou sê julle dat Ek nie reg doen nie? Dit terwyl Ek oor elke mens sal oordeel volgens wat hy gedoen het!”

Jerusalem het geval!

21. Op die agtste Januarie 585 v.C., toe ons al twaalf jaar lank gevangenes in ’n vreemde land was, het ’n man by my aangekom. Hy het uit Jerusalem gevlug. Hy het kom sê: “Jerusalem het geval!”

22. Die vorige aand het die Here Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Toe kon ek weer praat, want ek was mos vir ’n lang ruk stom. Toe hierdie man die volgende oggend by my aankom, kon ek met hom praat.

23. Toe het die Here my beveel wat om te sê.

24. “Mens, almal wat tussen die stede van Juda bly wat in puin lê, sê: ‘Die land is ons s’n. Abraham was net een mens, en die Here het die hele land vir hom gegee. Ons is tog baie meer as hy. Die land is nou ons eiendom!’

25. “Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Julle hou aan om my voorskrifte te verwerp. Julle eet julle vleis op maniere wat Ek beveel het julle nie mag nie. Julle offer saam met die mense van ander nasies aan hulle afgode. En julle hardloop na die afgode toe as julle hulp nodig het. Julle maak mense dood wat onskuldig is. En nou eis julle dat Ek hierdie land vir julle moet gee? Julle wil my land vir julleself hê?

26. Julle is ’n klomp moordenaars! Julle buig voor afgode! Julle slaap by ander mans se vroue! Moet Ek dan nou hierdie land vir julle gee?

27. “Sê vir hierdie spul mense wat die Here, die God van Esegiël, van hulle dink: So seker as wat Ek leef, julle sal daar tussen julle stede wat net bouvalle is, doodgemaak word. Ek sorg dat julle in die oorlog doodgaan. As iemand in die oop veld bly, sal die wilde diere hom vang en opvreet. Daardie mense wat in grotte en ander veilige plekke probeer wegkruip, sal van siektes doodgaan.

28. Ek sal julle land vernietig. Julle sal niks oorhê waarop julle trots kan wees nie. Julle het gedink julle is so sterk. Daarvan sal niks oorbly nie. Ek breek selfs jou berge af sodat niemand meer oor die berge hoef te trek nie. Jou land sal gelyk soos die see wees as Ek daarmee klaar is. Ek straf selfs jou land oor jou slegte dade.

29. Daardie dag as Ek jou land in ’n bouvallige ruïne verander het, sal hulle weet dat Ek die Here is.

30. “Mens, jou volk skinder oor jou agter jou rug. Hulle lag en spot met jou as jy dit nie sien nie. Hulle sê: ‘Kom ons skeer die gek met Esegiël! Kom ons maak of ons wil hoor wat sy God vir ons te sê het!’

31. Dan kom staan hulle voor jou. Hulle maak asof hulle belangstel in wat Ek vir hulle wil sê. Hulle maak of hulle luister as jy praat. Maar hulle stel nie vir een oomblik belang om te doen wat Ek vir hulle sê nie. Hulle praat asof hulle My liefhet. Maar kom Ek sê vir jou: hierdie volk is net vir een ding lief. Geld! Hulle hardloop net agter geld aan. Dis al waarin hulle belangstel.

32. Hulle lag lekker oor alles wat jy oor hulle kwytraak. Jy is vir hulle soos iemand wat ’n mooi stem het en liefdesliedjies sing. Dis vir hulle mooi. En hulle klap vir jou hande. Maar hulle doen niks wat jy sê nie. Jy is maar net soos iemand wat mooi musiek op die een of ander instrument maak. Hulle hoor wat jy sê, maar dis by die een oor in en by die ander een uit.

33. “Maar luister nou mooi. Al hierdie verskriklike dinge waarvan Ek jou vertel het, gaan gebeur. So seker as wat die son môre opkom, gaan dit gebeur. En glo My: dan sal hierdie klomp mense weet dat daar iemand tussen hulle was wat alles presies net so gesê het soos Ek hom beveel het!”