hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 41 Die Boodskap (DB)

Binne-in die heiligdom

1. Hierna het die man my in die huis van die Here ingeneem, in die groot vertrek waar slegs die mense wat in die huis van die Here werk, mag kom. Hy het toe die mure aan weerskante van die ingang van die huis van die Here gemeet. Hulle was drie meter dik.

2. Die ingang self was vyf meter wyd, en die mure aan weerskante van die ingang was twee en ’n half meter lank. Hierdie groot vertrek was twintig meter lank en tien meter breed.

3. Die man het toe in hierdie vertrek ook die mure aan weerskante van die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang was drie meter wyd en die mure aan weerskante van die ingang was drie en ’n half meter lank.

4. Hy het ook die volgende vertrek gemeet. By daardie vertrek mag niemand ingaan nie. Dit is daar waar die Here bly. Die lengte van hierdie vertrek en sy breedte was tien meter. Die man het toe vir my gesê: “Hier bly die Here. Hier is die stoel waarop Hy sit.”

5. Hy het ook die muur van die huis van die Here gemeet. Dit was drie meter dik. Buite-om die huis van die Here was daar kamers aangebou. Hulle was twee meter breed.

6. Hierdie kamers het elk drie verdiepings gehad. Op elke vloer was tien kamers; 30 kamers in totaal. Die muur waarop hierdie kamers gebou was, was vir elke verdieping dunner as op die vloer daaronder. Dit het veroorsaak dat die verdiepings nie in die muur van die huis van die Here ingebou was nie, maar dat daar ’n afsonderlike muur was waarop die kamers gerus het.

7. Die huis van die Here se gebou was rondom toegebou tot heel bo. En die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar was trappe van die onderste verdieping af na die boonste toe.

8. Ek het gesien dat die huis van die Here se gebou hoër was as die ander gebou met die kamers wat rondom die huis van die Here was. Die fondamente van die kamers was ook drie meter hoog.

9. Die muur van die kamers was aan die buitekant twee en ’n half meter breed. Daar was ook ’n oop area tussen die kamers en die huis van die Here.

10. Die kamers rondom was tien meter wyd.

11. Die ingange na die kamers toe het van die oop area na binne gelei. Daar was ’n ingang na die kamers aan die noordekant en een aan die suidekant. Die oop area was twee en ’n half meter breed.

Spesiale binnenshuise versierings

12. Aan die westekant van die huis van die Here was daar nog ’n gebou. Hierdie gebou was 35 meter breed en 45 meter lank, en sy muur was twee en ’n half meter dik.

13. Die man het eers die huis van die Here klaar gemeet. Dit was 50 meter lank. Daarna het hy die area agter die huis van die Here gemeet, en ook die westelike gebou met sy mure. Die lengte was ook 50 meter.

14. Voor die huis van die Here, aan die oostekant daarvan, was die oop area 50 meter wyd.

15. Daarna het die man die gebou aan die westekant agter die huis van die Here gemeet. Hy het ook die gange weerskante van die gebou gemeet. Die afstand was 50 meter.

16. Ek het ook gesien dat al die vertrekke in die huis van die Here, asook die ingang tot die huis, die drumpels van die deure, die vensters en die gange rondom, alles met hout oorgetrek was. Van die grond af tot by die vensters was alles met hout oorgetrek. Die vensters was ook van hout.

17. Nog iets het my opgeval. Oral was daar tekeninge van boodskappers van die Here en palmbome. Daar was bokant die ingang en teen die huis van die Here aan die binnekant en buitekant, en teen al die mure rondom aan die binnekant en buitekant sulke tekeninge.

18. Tussen elke tekening van ’n boodskapper van die Here was daar palmbome geteken. Elke boodskapper van die Here is met twee gesigte geteken.

19. Aan die een kant was daar ’n gesig soos ’n mens s’n, en aan die ander kant ’n gesig soos dié van ’n leeu. Die hele huis van die Here was so versier, met dieselfde tekeninge.

20. Daar was sulke sketse van die grond af tot bokant die ingang, tekeninge van die boodskappers van die Here en palms. Selfs teen die muur van die voorste vertrek waar die Here self gebly het, was daar sulke tekeninge.

21. Die deurkosyn van die voorste vertrek van die huis van die Here was vierkantig; so ook die deur wat na die agterste vertrek gelei het waar die Here gesit het.

22. Die altaar in die voorste vertrek was van hout gemaak. Dit was een en ’n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante was van hout. Die man het vir my gesê: “Hierdie tafel staan heeltyd in die teenwoordigheid van die Here.”

23. Daar was ’n deur wat kon toemaak by die voorste vertrek en ook by die agterste vertrek waar die Here gebly het.

24. Die deur was ’n swaaideur.

25. Ook op hierdie swaaideure was daar tekeninge van boodskappers van die Here en van palmbome, net soos op die mure. Voor die ingang by die huis van die Here, aan die buitekant, was daar ’n afdak van hout.

26. Aan weerskante was daar vensters wat hortjies voor gehad het. Ook teen hierdie mure was daar versierings van palmbome. Die kamers wat rondom die huis van die Here was, is ook met tekeninge versier.