hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21 Die Boodskap (DB)

Die Here straf mense se slegte dade

1. Die Here het toe weer met my gepraat. Hy het gesê:

2. “Mens, kyk in die rigting van Jerusalem. En sê dan die volgende woorde oor Israel en al die plekke wat vir Israel se godsdiens opsy gesit is.

3. Die Here sê: Ek is jou vyand, Israel. En Ek haal my wapens uit om jou mense mee dood te maak. Ek gaan die mense wat goeddoen en die mense wat sleg doen, almal doodmaak.

4. Ja, Ek gaan nie eens die mense wat goeddoen, spaar nie. Ek gaan my wapens rig op almal in die land, van die een kant tot die ander kant van die land.

5. Die hele wêreld sal weet en erken dat Ek die Here is. My wapens is in my hand. En Ek sal hulle nie bêre nie totdat Ek hulle klaar gebruik het.

6. “Mens, sug swaar voor die mense. Maak asof jou hart gebreek is. Sug en kla van die môre tot die aand.

7. As hulle dan vir jou vra hoekom jy dit doen, moet jy antwoord: Ek is ontsteld oor die verskriklike slegte nuus wat ek gehoor het. As hierdie nuus waar word, gaan julle almal net so sug. Dit sal lyk of julle harte ingee en gaan staan. Julle sal nie meer krag oorhê om eers op te staan nie. Julle knieë sal lam word en julle sal nie kan loop nie.” Die Here, die God van Esegiël, sê: “Dit kom gou! Dit gaan gebeur.”

8. Toe sê die Here ook vir my:

9. “Mens, praat met hierdie klomp mense en sê vir hulle: ’n Swaard word skerp gemaak vir julle!

10. Die swaard word reggemaak om te kom vernietig. Hy sal so vinnig soos weerlig blits. Lag julle daaroor? Ander mense wat baie sterker as julle is, is deur hierdie swaard doodgemaak.

11. Ja, die swaard word nou reeds skerp gemaak en blink gevryf. Dit word reggemaak vir die man wat die vonnis oor julle moet kom voltrek!

12. “Mens, skree hard en huil. Huil kliphard! Want hierdie selfde swaard gaan my volk met al sy leiers kom doodmaak. Almal van hulle sal doodgemaak word.

13. Ek sal my volk toets. Watter kans sal hulle hê as Ek hulle begin straf?” Dis die Here, Esegiël se God, wat dit vra.

14. “Mens, sê vir hulle presies wat Ek vir jou sê. Maak ’n geraas sodat die volk vir jou kyk. En swaai dan die swaard twee, drie maal heen en weer. Wys só vir die volk hoe groot die verwoesting onder hulle gaan wees.

15. Maak hulle bang. Laat hulle harte inmekaarkrimp van vrees, want die swaard wag by elke hek waar ’n mens sou kon uitvlug. Dit is blink gevryf om mense dood te maak.

16. O, swaard, kap na die linkerkant. En na die regterkant. Kap waar jy wil en na wie jy wil.

17. Ja, daardie dag sal Ek ook my hande klap, so bly sal Ek wees dat Ek my woede op julle kon afkoel oor al julle slegte dade. Ek, die Here, het met julle gepraat.”

Die Here praat oor die Babiloniese koning

18. Die Here het met my gepraat. Hy het gesê:

19. “Mens, teken ’n kaart van dié deel van die wêreld. Teken dan op jou kaart twee roetes waarlangs die koning van Babilonië kan reis om by jou land uit te kom. Hy gaan soontoe om jou volk te verwoes. Maak ’n padteken langs die pad net buite die stad Babel, waar die koning van Babilonië bly.

20. Sit die padteken neer daar waar die pad in twee deel. Die een pad gaan Rabba toe, die hoofstad van die Ammoniete. En die ander pad gaan Juda toe, en Jerusalem toe, die hoofstad van jou volk.

21. “Die koning van Babilonië staan nou juis by daardie vurk in die pad. Hy staan en wonder of hy Rabba of Jerusalem moet aanval. Nou gaan hy sy towenaars roep dat hulle vir hom kan kom sê wat hy moet doen. Hulle sal hulle dolosse gooi en diékant toe en daardie kant toe beduie.

22. En dan beduie hulle vir die koning wat hulle dink hy moet doen: Gaan val Jerusalem aan! Die hele weermag maak nou hulle wapens gereed, want hulle gaan Jerusalem aanval. Die bevel is klaar gegee: Val die stad aan! Skree terwyl julle die mense van die stad doodmaak, soldate! Val die stadsmure aan totdat hulle inmekaarstort. Klim bo-oor!

23. “Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout. Die koning van Babilonië kan hulle mos nie aanval nie! Hulle het dan vrede met hom gemaak! Hy misgis hom seker! “Maar dan sal die koning van Babilonië die mense van Jerusalem herinner hoe hulle teen hom in opstand gekom het. Hulle het nie hulle woord teenoor hom gehou nie. Hy sal Jerusalem aanval en al die inwoners van die stad gevange neem.”

24. Die Here, die God van Esegiël, sê vir julle: “Julle is skuldig. Julle kry nie eens skaam oor julle slegte dade nie. Wat julle ook al doen om dit weg te steek, almal kan julle slegte dade sien. Moenie eens probeer om dit weg te steek nie. Alles wat julle doen, is sleg. Nou het die tyd gekom dat julle daarvoor gestraf gaan word.

25. “Ek praat nou met die een wat oor Israel regeer. Jy het nie opgehou om sleg te doen nie. Vandag het die dag gekom dat Ek met jou afreken oor jou slegte dade.

26. Haal jou blink kroon af.” Die Here, Esegiël se God, sê: “Ek keer jou om. Niks in hierdie land sal meer dieselfde wees nie. Die mense wat vandag verdruk word, maak Ek môre se heersers. En vandag se ryk en magtige mense maak Ek môre se sukkelaars.

27. Vernietiging! Ek vernietig alles! Ek vee julle land van die kaart af! En Ek herstel julle nie weer nie, tot daar ’n koning kom wat die reg sal hê om julle te straf. Ek sal die stad vir hom gee om te vernietig.”

Die Here praat met die mense wat in Ammon bly

28. “Mens, sê vir almal wat in die land van Ammon bly, Ek sê die volgende oor hulle gespot met my volk. Die Here, die God van Esegiël, dink só oor hulle: Ek het my wapens reggekry om julle aan te val. Ek het my wapens reggemaak om julle te vernietig. My wapens blink soos ’n weerligstraal.

29. Julle towenaars en die mense wat sê hulle hoor wat julle gode sê, het vir julle gelieg. Hulle het gesê niks sal met julle volk gebeur nie. Maar nou het die dag aangebreek dat Ek al julle mense gaan straf wat aanhou sleg doen. Die slegte mense se dag het aangebreek!

30. Sal Ek my wapens neersit voor Ek klaar afgereken het met julle? Nee, Ek sal julle een vir een vernietig in julle eie land.

31. Ek is kwaad oor wat julle alles gedoen het. En Ek sal julle in my woede straf. Dit sal vir julle voel of Ek vuur oor julle blaas, so erg gaan my woede wees. Ek sal julle oorgee sodat wrede mense julle namens My straf. Hierdie wrede mense weet hoe om mense te vernietig.

32. Julle sal soos petrol wees wat op die vuur gegooi word. Julle sal in julle eie land doodgemaak word. Julle hele volk sal uitgewis word. Agterna sal niemand eers meer kan onthou dat daar so ’n volk soos die Ammoniete was nie! Dit is wat Ek, die Here, vir julle te sê het, Ammoniete.”