hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Ramp van paddas

1. Die Here het toe vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en sê vir hom: ‘Hoor wat die Here sê: Laat my volk trek sodat hulle My kan gaan aanbid.

2. As jy weier om dit te doen, moet jy nou mooi hoor: Ek sal hordes paddas oor jou hele land laat kom.

3. Die hele Nylrivier sal vol van hulle wees. Hulle sal uit die rivier klim en in julle huise, selfs in julle slaapkamers en in julle beddens kom. Elke huis in Egipte sal vol paddas wees, ook in die huise van die mense wat vir jou werk. Hulle sal selfs in jou oonde en jou knieskottels klim.

4. Die paddas sal opspring teen jou en jou volk en almal wat vir jou werk!’”

5. Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron hy moet sy hand waarin hy die herderstok vashou na al die riviere, die kanale en die moerasse in Egipte uitsteek sodat daar paddas tot in elke uithoek van die land kan kom.”

6. Aäron het sy hand na al die plekke waar daar water was, uitgesteek. Daar het paddas oor die hele Egipte gekom.

7. Die towenaars kon egter met hulle kunsies presies dieselfde ding doen. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom.

8. Die farao het toe Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Vra tog vir die Here om die paddas van my en my volk weg te vat. Ek sal die volk laat gaan om vir die Here offers te bring.”

9. “Sê net wanneer!” het Moses die farao geantwoord. “Wanneer u sê, sal ek vir u en u amptenare en u volk bid. Ek sal die Here vra om die paddas van u en uit u huise weg te vat. Net die paddas wat in die Nylrivier is, sal bly lewe.”

10. “Doen dit môre,” het die farao gesê. “Goed,” het Moses geantwoord, “ek sal so maak. U sal dan weet dat niemand met die Here, ons God, vergelyk kan word nie.

11. Al die paddas wat by u en in u huise en u werkmense en u volk is, sal verdwyn. Net dié wat in die rivier is, sal oorbly.”

12. Moses en Aäron is weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die ramp van die paddas wat die Here oor die farao gebring het.

13. Die Here het gemaak soos Moses gevra het. Die paddas in die huise en op die strate en in die veld het almal gevrek.

14. Hulle is op hope bymekaargemaak en ’n doodsreuk het oor die land gehang.

15. Toe die farao sien dat die krisis verby is, het hy weer eiesinnig geraak. Hy het geweier om na Moses en Aäron te luister. Dit was presies soos die Here gesê het.

’n Ramp van muggies

16. Die Here het toe vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Vat jou stok en slaan op die grond. Dit sal muggies oor die hele Egipte bring.’”

17. Hulle het net so gemaak soos die Here gesê het. Aäron het sy stok gevat en op die grond geslaan. Daar het toe muggies gekom wat op mens en dier toegesak het. Oor die hele land het die stof in muggies verander.

18. Die farao se towenaars het dieselfde met hulle kunsies probeer regkry. Hierdie keer was hulle nie suksesvol nie. Die muggies het al wat mens en dier is, toegetakel.

19. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao het onversetlik gebly. Net soos die Here gesê het, het hy bly weier om te luister.

’n Ramp van vlieë

20. Die Here het nog verder vir Moses gesê: “Staan môre vroeg op en gaan ontmoet die farao wanneer hy op pad is na die rivier toe. Sê vir hom: ‘Die Here sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

21. As jy my volk nie toelaat om te gaan nie, gaan Ek swerms vlieë op jou, jou werkers, jou volk en jou huise laat toesak. Die huise in Egipte sal vol vlieë wees. Dit sal oral op die grond wemel van die vlieë.

22. Ek sal op daardie dag ’n uitsondering maak van Gosen waar my volk bly. Daar sal nie vlieë wees nie. Daaraan sal jy weet dat Ek die Here is en dat Ek mag het oor jou land.

23. Ek sal baie duidelik onderskei tussen my mense en jou mense. Hierdie teken gaan môre gebeur.’”

24. Die Here het net so gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao se paleis, sy werkers se huise en oor die hele Egipte gekom. Die hele land was in chaos as gevolg van die vlieë.

25. Die farao het Moses en Aäron haastig laat roep. “Goed,” het hy gesê. “Julle kan hier in die land vir julle God offer.”

26. Moses het hom egter geantwoord: “Ons kan dit nie so doen nie. Die Egiptenaars sal gril vir die offers wat ons vir die Here bring. As ons hier offer waar hulle dit kan sien, gaan hulle ons met klippe doodgooi.

27. Ons moet drie dae ver die woestyn in trek om daar vir die Here te offer. Dit is wat Hy gesê het ons moet doen.”

28. “Maak dan so,” het die farao gesê. “Ek sal julle toelaat om vir julle God in die woestyn te gaan offer. Moenie te ver weg gaan nie. Bid sommer vir my ook!”

29. “Sodra ek weg is,” het Moses gesê, “sal ek vir die Here bid om die vlieë van u en u mense weg te vat. Moenie weer omvlieg en van plan verander dat die volk nie kan gaan offer nie.”

30. Moses is weg van die farao af. Hy het die Here gevra om die vlieë weg te vat.

31. Die Here het gemaak soos Moses gevra het. Hy het die vlieë van die farao, sy werkers en sy volk laat verdwyn. Daar het nie ’n enkele vlieg in Egipte oorgebly nie.

32. Die farao het egter viervoet vasgesteek en geweier om die volk te laat gaan.