hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Slawe moet billik behandel

word

1. “Gee die volgende reëls vir Israel:

2. Wanneer jy ’n Hebreeuse slaaf vir jou koop, moet hy net ses jaar vir jou werk. In die sewende jaar moet jy hom vrylaat. Hy skuld jou niks verder nie.

3. As hy ongetroud was toe jy hom gekoop het, moet jy hom ongetroud vrylaat. As hy reeds getroud was toe jy hom gekoop het, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.

4. “As sy eienaar vir hom ’n vrou gegee het terwyl hy in sy diens was en hulle het seuns of dogters gekry, bly die vrou en haar kinders in besit van die eienaar, maar die man word vrygestel.

5. Die slaaf kan egter uitdruklik verklaar: ‘Ek hou van my baas en ek is lief vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie.’

6. As hy so maak, moet sy eienaar hom na God toe bring. Hy moet die slaaf na ’n deur vat en teen die deurkosyn ’n gat met ’n els in sy oor maak. Die slaaf sal dan vir altyd aan hom behoort.

7. “As iemand sy dogter as ’n slaaf verkoop, word sy nie soos die mans aan die einde van ses jaar vrygelaat nie.

8. As die persoon wat haar gekoop het nie met haar tevrede is nie, mag hy haar weer verkoop. Hy mag haar nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie. Dit kom neer op kontrakbreuk.

9. As die eienaar haar vir sy seun gee om mee te trou, moet hy haar behandel soos sy eie dogter.

10. As hy self met haar trou, mag hy nie haar kos of klere verminder of ophou om by haar te slaap wanneer hy daarna nog ’n ander vrou vat nie.

11. As hy enige van hierdie drie sake nalaat, moet sy vrygelaat word. Sy hoef hom dan niks te betaal nie.”

Persoonlike beserings

12. “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word.

13. As dit onopsetlik was, sal Ek vir hom ’n plek gee waarheen hy kan vlug.

14. As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.

15. “Enigeen wat sy pa of ma aanrand, moet doodgemaak word.

16. “Enigeen wat iemand ontvoer, moet doodgemaak word afgesien daarvan of hy hom klaar verkoop het en of die persoon nog by hom gekry word.

17. “Iemand wat sy pa of sy ma vloek, moet doodgemaak word.

18. “Tydens ’n stryery kan die een die ander een so met ’n klip of met sy vuis bydam dat hy wel nie daarvan doodgaan nie, maar tog in die bed beland.

19. As die beseerde persoon weer later kan opstaan en buite met ’n kruk rondloop, is die persoon wat hom aangeval het, onskuldig. Die persoon wat hom geslaan het, moet egter vergoed vir die tyd wat hy nie kon werk nie en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20. “As iemand sy manlike of vroulike slaaf so met ’n stok slaan dat die persoon daarvan doodgaan, moet die persoon gestraf word.

21. As die slaaf na ’n dag of twee weer op die been is, hoef die eienaar nie gestraf te word nie. Die slaaf is tog die eienaar se eiendom.

22. “As mans met mekaar baklei, kan dit gebeur dat hulle in die proses ’n vrou wat swanger is, omstamp. Sy kan haar baba verloor, maar nie self permanent beseer word nie. Die persoon wat dit veroorsaak het, moet haar man daarvoor vergoed volgens die bepaling van die regters.

23. As daar permanente skade is, moet hy in ooreenstemming met die skade gestraf word. As sy dood is, moet hy self doodgemaak word.

24. ’n Oog wat beseer is, moet met ’n oog se skade vergoed word. As ’n tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word. ’n Hand se skade moet met ’n hand vergoed word, ’n voet vir ’n voet,

25. ’n brandplek vir ’n brandplek, ’n wond vir ’n wond en ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

26. “As ’n eienaar sy manlike of vroulike slaaf op die oog slaan en die oog word blind, moet die slaaf daarvoor vrygelaat word.

27. As ’n eienaar sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet die persoon vrygelaat word om daarvoor te vergoed.

28. “Wanneer ’n bees ’n man of vrou doodstoot, moet dit met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag nie geëet word nie. Die eienaar van die bees hoef niks verder te betaal nie.

29. As dit al vantevore mense probeer doodstoot het, maar die eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet die eienaar saam met die bees doodgegooi word.

30. Dit kan gebeur dat die familie van die persoon wat dood is, bereid is om vergoeding te aanvaar. Die eienaar mag dan die volle som betaal wat van hom geëis word.

31. “Dieselfde beginsel is van krag as ’n bees ’n seun of dogter doodstoot.

32. As die bees egter ’n manlike of vroulike slaaf doodmaak, moet die eienaar van die bees aan die eienaar van die slaaf 30 geldstukke betaal.

33. “Dit kan gebeur dat iemand ’n put grawe en dit oop los en dan val ’n bees of ’n donkie daarin.

34. Die eienaar van die put moet die eienaar van die dier ten volle vergoed. Hy kan egter die karkas van die dooie dier vir homself hou.

35. “As iemand se bees sy buurman se bees doodmaak, moet hulle die bees wat bly leef het, verkoop. Hulle moet die geld tussen mekaar verdeel. Hulle moet ook die karkas van die dooie dier onder mekaar verdeel.

36. As dit egter al vantevore bekend was dat die bees stoterig was en sy eienaar het dit nie onder beheer gehou nie, moet hy die eienaar van die dooie dier ten volle vergoed. Hy mag die karkas egter vir homself hou.”