hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vrywillige offers

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete dat elkeen wat graag wil vir My ’n offer kan bring.

3. Jy kan namens My vrywillige offers aanvaar van goud, silwer, koper,

4. van blou, pers of bloedrooi wol, van linne, van bokhaar,

5. van rooigekleurde vel, van gebreide vel, van akasiahout,

6. van olyfolie vir die lampe, van geurige wierook vir die offers,

7. van onikssteen of halfedelstene om in die efod en borssak te monteer.”

Bou vir die Here ’n heiligdom

8. “Die Israeliete moet vir My ’n heiligdom maak waarin Ek tussen hulle kan kom woon.

9. Jy moet hierdie tabernakel en al sy toebehore maak volgens die plan wat Ek vir jou gaan wys.”

Die aanwysings vir die ark

10. “Hulle moet ’n ark van akasiahout maak. Dit moet een en ’n kwart meter lank wees, ’n driekwart meter breed en presies net so hoog.

11. Jy moet dit aan die binne- en aan die buitekant met suiwer goud oortrek. Dit moet reg rondom ’n goue rand kry.

12. Maak vier ringe uit goud. Sit dit aan die onderste vier hoeke vas. Daar moet twee ringe aan elke kant kom.

13. Maak drapale uit akasiahout en trek dit ook oor met goud.

14. Steek die pale deur die ringe aan die kante om die ark daaraan te dra.

15. Hierdie pale moet altyd daar bly. Hulle mag nooit daar uitgehaal word nie.

16. Jy moet later die plat klippe wat Ek vir jou gaan gee en waarop Ek die bepalings van ons ooreenkoms neergeskryf het, binne-in die ark neersit.

17. “Jy moet ook ’n deksel van goud vir die ark maak. Dit is die versoendeksel. Dit moet een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed wees.

18. Maak twee beelde van gerubs met goud oorgetrek om weerskante bo-op die deksel te staan.

19. Sit hulle só vas dat dit ’n eenheid met die deksel vorm.

20. Die gerubs moet na mekaar kyk. Hulle moet met oopgespreide vlerke op die deksel afkyk.

21. Sit die klippe wat Ek jou sal gee binne-in die ark en die versoendeksel bo-op die ark.

22. Ek sal jou daar ontmoet. Ek sal van tussen die gerubs bo-op die ark met jou praat. Van daar af sal Ek vir jou my opdragte aan die Israeliete gee.”

Aanwysings vir die

offerbroodtafel

23. “Jy moet ook ’n tafel uit akasiahout maak. Dit moet ’n meter lank, ’n halwe meter breed en ’n driekwart meter hoog wees.

24. Trek dit met suiwer goud oor. Maak ’n goue rand om reg rondom te gaan.

25. Maak ook ’n lys van sewe sentimeter breed om reg rondom die tafel te gaan en sit daaraan ’n goue rand vas.

26. Maak vir die tafel ringe van goud en sit dit aan die lang kante

27. op die hoeke net onder die lys vas. Die drapaal moet daardeur gesteek word om die tafel daaraan te dra.

28. Maak die drapaal van akasiahout en trek dit oor met goud.

29. Jy moet ook vir die tafel skottels, panne, kanne en houers van goud maak sodat dit vir die drankoffers gebruik kan word.

30. Sorg dat daar altyd offerbrood op die tafel is.”

Aanwysings vir die kandelaar

31. “Maak ’n kandelaar uit suiwer goud. Dit moet ’n eenheid vorm met ’n voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en blare – alles uit bladgoud.

32. Dit moet ses arms hê. Drie arms moet aan elke kant van die stam uitkom.

33. Aan elke arm moet daar ’n kelkie wees wat lyk soos ’n amandelbloeisel, kompleet met knoppe en blare.

34. Die steel in die middel moet vier amandelbloeisels hê met knoppe en blare.

35. Waar die arms uit die steel kom, moet elke paar aan die onderkant ’n blomknop hê.

36. Die steel en takke en versierings moet ’n eenheid vorm. Dit moet alles uit bladgoud gemaak word.

37. Maak sewe lampies vir die kandelaar. Sit hulle so daaraan vas dat hulle na die voorkant toe skyn.

38. “Die tangetjie waarmee die pit versorg word en die houers waarin die pit kom, moet ook van suiwer goud wees.

39. Jy sal 34 kilogram suiwer goud nodig hê vir die kandelaar en sy bybehore.

40. “Sorg dat jy alles maak presies volgens die planne wat Ek vir jou op die berg gewys het.”