hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses en Aäron gaan praat met

die farao

1. Nadat hulle met die leiers gepraat het, het Moses en Aäron na die farao gegaan. Hulle sê toe vir hom: “Hoor wat sê die Here, die God van Israel: ‘Jy moet my volk toelaat om in die woestyn vir My ’n fees te gaan hou.’”

2. Maar die farao spot toe en vra: “Wie is hierdie ‘Here’ nogal dat ek na hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie ’n ‘Here’ nie. Ek sal Israel ook nie toelaat om te gaan nie.”

3. Aäron en Moses het egter volgehou: “Ons het die God van die Hebreërs ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver in die woestyn in te trek sodat ons offers vir die Here ons God kan bring. As ons dit nie doen nie, sal Hy beslis siekte of oorlog teen ons laat uitbreek.”

Die Israeliete moet nog harder

werk

4. “Moses en Aäron,” het die koning van Egipte vir hulle gesê, “waarom probeer julle die volk uit die werk uit hou? Loop terug en gaan doen julle werk!”

5. Die farao het ook gesê: “Julle is alreeds meer as die inwoners van die land en nou probeer julle hulle van die werk af weghou!”

6. Daardie selfde dag nog het die farao vir die Egiptiese slawemeesters en die mense wat hy oor Israel aangestel het, laat weet:

7. “Julle moenie meer soos vantevore vir hulle strooi verskaf om stene te maak nie. Voortaan moet hulle dit self gaan kry.

8. Hulle moet egter net soveel stene maak soos altyd. Julle mag nie die hoeveelhede verminder nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle kom kerm om vir hulle God te gaan offer.

9. Maak die werk nog swaarder vir die mans. Laat hulle sweet sodat hulle nie sulke slimstories kan uitdink nie.”

10. Die slawemeesters en hulle opsigters het die mense ingelig: “Die farao het ons opdrag gegee om op te hou om vir julle strooi te voorsien.

11. Julle moet van nou af self strooi gaan bymekaarmaak waar julle dit ook al kry. Julle moet egter net soveel stene maak soos altyd.”

12. Hulle het toe oral in Egipte stoppels begin versamel vir die stene.

13. Die slawemeesters was hardhandig met hulle en het hulle beveel: “Julle moet net soveel stene lewer as vroeër toe die strooi vir julle voorsien is!”

14. Hulle het die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gevra: “Hoekom het julle nie gister en vandag julle volle kwota stene gelewer nie?”

15. Die Israelitiese opsigters het toe met die farao gaan praat en hom gesoebat: “Moenie ons so behandel nie.

16. Ons kry nie meer strooi nie, maar ons moet nog steeds net soveel stene maak! Ons word geslaan terwyl die fout by u mense lê.”

17. Die farao het hulle geantwoord: “Julle het lui en laks geword. Dis hoekom julle kom vra om vir die Here te gaan offer.

18. Loop! Gaan terug na julle werk toe! Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle die volle kwota stene lewer.”

19. Omdat hulle steeds elke dag dieselfde hoeveelheid stene soos vantevore moes maak, het die Israelitiese opsigters gesien dat daar groot moeilikheid kom.

20. Toe hulle van die farao af weer buite kom, het Moses en Aäron daar vir hulle gestaan en wag.

21. Die opsigters sê vir hulle: “Die Here sien wat julle aangevang het. Hy sal julle straf vir die gemors waarin julle ons by die farao en sy mense laat beland het. Julle het hulle rede gegee om ons dood te maak.”

22. Moses het na die Here toe teruggegaan en by Hom gekla: “Here, hoekom maak U so lelik met u eie mense? Waarom het U my dan gestuur?

23. Vandat ek by die farao gekom het om vir hom te sê wat U van hom eis, het hy hierdie volk net al slegter behandel. U het nog nie ’n ding gedoen om u volk te red nie!”