hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle moet regverdig wees

1. “Moenie valse gerugte versprei nie. Moenie met misdadigers saamsweer en valse getuienis in hulle guns aflê nie.

2. “Moenie agter die meerderheid aangaan en ook verkeerd doen nie. Wanneer jy in ’n hofsaak moet getuig, moet jy nie agter die meerderheid aanhardloop en die waarheid verdraai nie.

3. Jy mag ook nie jou getuienis verdraai ter wille van iemand net omdat hy of sy arm is nie.

4. “As jy op jou vyand se beeste of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit na hom toe terugvat.

5. As jy sien dat die vrag op jou vyand se donkie te swaar is vir hom, mag jy dit nie net so los nie. Jy moet jou vyand help om dit ligter te maak.

6. “Jy mag ook nie in ’n hofsaak iemand verontreg bloot net omdat hy arm is nie.

7. “Bly ver weg van bedrog. Moenie ’n onskuldige en eerlike persoon se dood veroorsaak nie. Ek sal nie een wat skuldig is, laat vrykom nie.

8. “Moenie omkoopgeld aanvaar nie, want dit maak jou blind vir die waarheid. Dit verongeluk die saak van die een wat regverdig is.

9. “Moenie iemand wat uit ’n ander land kom onregverdig behandel nie. Julle weet wat vreemdelinge alles ervaar. Julle was immers self vreemdelinge in Egipte.

10. “Jy moet ses jaar lank die lande bewerk, daarop saai en die oes inbring.

11. In die sewende jaar moet jy die grond net so onbewerk laat lê. Die arm mense van die volk mag dan die graan wat vanself opkom, vir hulle kom oes om te eet. Wat ná hulle oorbly, moet die wilde diere vreet. Jy moet met jou wingerde en olyfbome dieselfde doen.

12. “Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan. Op die sewende dag moet jy ophou om te werk sodat jou beeste en donkies kan uitrus. Jou werkers en die buitelanders by jou moet kans kry om te ontspan.

13. “Sorg dat julle alles doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moenie vreemde gode aanbid nie. Julle mag nie eers hulle name noem nie.”

Drie jaarlikse feeste

14. “Daar is in die loop van die jaar drie feeste wat julle ter wille van My moet vier.

15. Die eerste is die Fees van die Ongesuurde Brood. Soos Ek al vantevore vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Dit moet jaarliks op dieselfde tyd aan die begin van die lente gevier word. Dit is die tyd van die jaar toe julle uit Egipte weg is. Elkeen moet dan iets vir My kom offer.

16. Die tweede fees is die Oesfees. Dan bring julle vir My die eerste graan wat julle afoes. Die derde fees is die fees aan die einde van die oesseisoen. Dit word gevier wanneer julle die laaste deel van die oes van die lande af inbring.

17. Gedurende elkeen van die drie feeste in die loop van die jaar moet elke manlike persoon die Here julle God kom aanbid.

18. “Julle mag nooit vir My bloed offer saam met brood waarin daar suurdeeg is nie. Die vet van die dier wat julle offer mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.

19. “Julle moet die beste deel van die graan wat julle op die eerste dag oes, na die Here julle God se tempel toe bring. “Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

Die Here se boodskapper gaan

saam met julle

20. “Ek stuur ’n engel saam met julle om julle langs die pad te beskerm. Hy sal vir julle die pad wys na die plek wat Ek vir julle uithou.

21. Gee aandag aan hom en luister na wat hy sê. Moenie julle teen hom verset nie. Hy sal dit nie verdra as julle teen hom in opstand kom nie. Hy verteenwoordig My.

22. “As julle mooi na hom luister en presies doen wat Ek vir julle sê, sal Ek self julle vyande se teenstander wees. Ek sal My stel teenoor hulle wat teen julle is.

23. “My engel sal saam met julle gaan. Hy sal vir julle die pad wys na die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek sal hulle uitwis.

24. Julle mag nie voor hulle gode kniel om hulle te aanbid nie. Julle moenie maak soos hulle nie. Julle moet hulle afgodsdiens met wortel en tak uitroei. Julle moet ook die klippilare waar hulle aanbid tot op die grond toe afbreek.

25. “Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën.

26. In julle land sal kinders nie met geboorte sterf nie. Julle mense sal nie onvrugbaar wees nie. Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe.

27. “Ek sal sorg dat die mense wie se land julle inneem vir julle bang word. Ek sal julle vyande voor julle laat vlug.

28. Ek sal perdebye voor julle uitstuur. Hulle sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor julle uitdryf.

29. “Ek sal dit egter nie alles in die eerste jaar laat gebeur nie. Die land sal dan verlate lê en die wilde diere sal dit oorneem.

30. “Ek sal hulle eerder stelselmatig voor julle uit verdryf. Soos julle al meer word, kan julle dan die land geleidelik oorneem.

31. “Ek sal die grense van julle land vasstel vanaf die Rietsee tot by die Middellandse See en vanaf die woestyn tot by die Eufraatrivier. Ek sal almal wat nou daar woon in julle mag gee. Julle sal hulle voor julle uit verdryf.

32. “Julle mag nooit met hulle enige ooreenkoms sluit nie. Julle mag niks met hulle gode te doen hê nie.

33. Hulle mag selfs nie eens langer tussen julle bly woon nie. As hulle langer daar bly woon, gaan dit vir julle ’n lokval wees. Hulle sal julle van My afrokkel en julle verlei om hulle gode te aanbid.”