hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Klere vir die priester

1. “Laat jou broer, Aäron, en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar naderkom. Hulle is anders as die res van die volk. Hulle is my priesters. Hulle sal vir My by die tent werk.

2. Maak vir Aäron klere wat hom van die ander kan onderskei. Dit moet pas by sy werk.

3. Gee opdrag vir die manne wat die bekwaamheid het om vir Aäron klere te maak waarin hy vir My kan werk.

4. Hulle moet vir hom ’n borssak, ’n skouerkleed, ’n mantel, ’n geweefde kleed, ’n tulband en ’n gordel maak. Hulle moet ook vir Aäron se seuns spesiale klere maak om te dra wanneer hulle die priester se werk kom doen.

5. Alles moet met geweefde linne gemaak word. Daar moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad daarin geweef word.”

Aanwysings vir die skouerkleed

6. “Die gedeelte oor die skouers moet van geweefde linne gemaak word. Dit moet met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad geborduur word.

7. Dit het twee skouerstukke, die een voor en die ander agter, wat bo-op die skouers aan mekaar kom.

8. Ook die gordel moet van dieselfde soort materiaal gemaak word waarop daar met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad uitgeborduur is.

9. Vat twee halfedelstene van oniks en graveer op hulle die name van die twaalf stamme van Israel.

10. Op elke steen moet ses name gegraveer word in die volgorde waarin hulle gebore is.

11. Die name moet graveer word soos op ’n seëlring. Monteer die twee stene dan in goud.

12. Werk die gemonteerde stene nou vas aan die skouerstukke as herinneringstekens vir die Israeliete. Aäron sal hierdie name op sy twee skouers voor die Here dra om Hom aan hulle te herinner.

13. Die monterings van die stene moet van suiwer goud wees.

14. Twee kettinkies van suiwer goud en gevleg soos tou, moet aan die monterings vasgemaak word.”

Ontwerp van die deel oor die

bors

15. “Maak ’n borssak om daarmee die wil van die Here te bepaal. Dit moet ’n kunswerk wees, gemaak soos die skouerkleed uit geweefde linne geborduur met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad.

16. Vou materiaal dubbel om ’n borssak te vorm, 25 sentimeter lank en breed.

17. Jy moet hierop vier rye edelstene vaswerk. In die eerste ry karneool, topaas en smarag.

18. In die tweede ry kom turkoois, saffier en jaspis.

19. In die derde ry kom hiasint, agaat en ametis.

20. In die vierde ry kom chrisoliet, oniks en opaal. Almal word in goud gemonteer.

21. Elkeen van die stene verteenwoordig een van die stamme van Israel. Elke stam se naam moet daarop gegraveer word.

22. “Vir die borssak moet jy van suiwer goud kettinkies maak wat soos tou gevleg is.

23. Maak twee goue ringe vir die borssak en werk dit vas aan die twee hoeke van die borssak.

24. Die twee goue kettinkies moet jy vasmaak aan die twee ringe by die hoeke van die borssak.

25. Maak die ander punte van die kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerstukke van die skouerkleed.

26. Maak nog twee ander goue ringe en werk dit vas aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant langs die skouerkleed.

27. Maak nog twee goue ringe en sit dit vas aan die skouerstukke onder aan die voorkant van die skouerkleed bokant die gordel.

28. Werk dan die ringe van die borssak met blou koorde vas aan die ringe van die skouerkleed. Dit sal bokant die gordel van die skouerkleed wees sodat die borssak nie wegskuif van die skouerkleed nie.

29. Sodoende dra Aäron die name van die stamme van Israel in die borssak oor sy hart wanneer hy ingaan in die teenwoordigheid van die Here in die binneste heiligdom. So sal die Here voortdurend herinner word aan sy volk.

30. Sit die Urim en die Tummim waarmee God se uitspraak bepaal word, in die borssak. Dit moet altyd oor Aäron se bors wees wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron altyd die tekens vir die regspraak in Israel op sy hart voor die Here.”

Die ander klere van die priester

31. “Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, moet van blou materiaal gemaak word.

32. In die middel moet daar ’n opening vir Aäron se kop wees. Die opening moet ’n omboorsel hê sodat dit nie kan skeur nie.

33. Maak tosseltjies van blou, pers en bloedrooi garing en werk dit vas aan die mantel met goue klokkies tussenin.

34. Die tosseltjies en klokkies moet mekaar afwissel en reg rondom die soom van die mantel vasgewerk word.

35. Aäron moet die mantel elke keer aanhê wanneer hy na die Here toe gaan in die heiligdom. Die klokkies sal klingel wanneer hy ingaan en weer daar uitkom. As hy dit dra, sal hy niks oorkom nie.

36. “Maak ook ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop soos op ’n seëlring die woorde: ‘Net vir die Here.’

37. Werk die blom met blou garing vas aan die voorkant van Aäron se tulband.

38. Aäron sal dit op sy voorkop dra as teken dat hy medeskuldig is aan die oortredings wat Israel oor die offers begaan. Hy moet dit deurentyd dra sodat die Here goedgesind teenoor sy volk kan bly.

39. “Aäron se mantel moet van fyn linne gemaak word. Die tulband op sy kop moet ook van fyn linne gemaak word. Jy moet ook vir hom ’n gordel van geborduurde materiaal maak.

40. “Maak ook vir Aäron se seuns mantels, gordels en tulbande wat aan hulle waardigheid verleen.

41. “Laat Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle en bevestig hulle in hulle ampte. Stel hulle aan om My as afgesonderde priesters te dien.

42. Maak ook vir hulle broeke om onder hierdie klere te dra sodat hulle toe is vanaf die heupe tot by die bobene.

43. Aäron en sy seuns moet elke keer hierdie klere aanhê wanneer hulle in die tabernakel ingaan of na die altaar toe gaan om daar hulle werk te doen. As hulle dit nie aanhet nie, sal hulle sterf. Dit is die vaste reëls vir Aäron en sy nageslag.”