hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses word gebore

1. In hierdie tyd het ’n man uit die stam van Levi met ’n vrou uit dieselfde stam getrou.

2. Die vrou het verwag en ’n seun in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande lank weggesteek.

3. Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie, het sy ’n mandjie van riet gevat en dit met klei en pik waterdig gemaak. Sy het die baba in die mandjie gesit en hom tussen die riete van die Nylrivier weggesteek.

4. Die baba se sussie het hom van ’n afstand af dopgehou.

5. Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal.

6. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.

7. Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?”

8. “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep.

9. “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg.

10. Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”

Moses beland in Midian

11. Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.

12. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe.

13. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?”

14. “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.”

15. Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit,

16. het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip.

17. Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip.

18. Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”

19. “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.”

20. “Nou waar is hy dan?” vra hy vir sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Gaan nooi hom uit om saam te kom eet.”

21. Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar. Hy het by die man gebly. Na ’n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir hom as vrou gegee.

22. Sy het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land.”

23. Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg.

24. God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het

25. en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.