hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jakob se seuns en hulle gesinne het saam met hom na Egipte toe gegaan. Hulle was

2. Ruben, Simeon, Levi, Juda,

3. Issaskar, Sebulon, Benjamin,

4. Dan, Naftali, Gad en Aser.

5. Josef was toe alreeds in Egipte. Jakob het op daardie stadium alreeds 70 nasate gehad.

6. Josef en sy broers en daardie hele geslag is met verloop van tyd dood.

7. Die Israeliete was egter vrugbaar en het baie kinders gehad. Om die waarheid te sê, hulle was naderhand so baie en invloedryk dat hulle oor die hele land gewoon het.

8. Daar het toe ’n nuwe koning in Egipte aan bewind gekom. Hy het niks van Josef geweet nie.

9. Hy het vir sy mense gesê: “Hierdie Israeliete is vir ons ’n gevaar. Hulle het meer en sterker as ons geword.

10. Ons moet ’n plan maak om hulle getalle te beperk. As iemand teen ons oorlog maak, sal hulle by ons vyand aansluit. Hulle sal van oral in die land uit die land ontsnap.”

11. Die Egiptenaars het die Israeliete toe gedwing om vir hulle te werk. Hulle het opsigters oor hulle aangestel. Hulle het die Israeliete harde werk laat doen om hulle te laat swaarkry. Die Israeliete moes die stede Pitom en Rameses vir die farao bou om sy voorrade daarin te stoor.

12. Hoe swaarder die Egiptenaars hulle egter laat werk het, hoe vinniger het hulle meer geword en al verder uitgebrei. Die Egiptenaars het bang geword vir die Israeliete.

13. Hulle het toe die Israeliete met geweld verplig om soos slawe te werk.

14. Hulle het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete. Die Israeliete moes stene maak en klippe kap en buite in die veld werk.

15. Die verpleegsters wat die Israelitiese vroue gehelp het om geboorte te gee se name was Sifra en Pua. Die koning van Egipte het vir hulle gesê:

16. “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help om geboorte te gee, moet julle elke seuntjie wat gebore word net daar doodmaak. As dit ’n dogtertjie is, mag sy maar bly lewe.”

17. Omdat hierdie vroue die Here gedien het, het hulle nie gedoen wat die koning van Egipte gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat bly lewe.

18. Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra: “Hoekom maak julle so? Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?”

19. “Meneer,” het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk. Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee. Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.”

20. God het dit goed laat gaan met die kraamverpleegsters. Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword.

21. Omdat hierdie vroue in die Here geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hulle eie gegee.

22. Die farao het toe aan al sy mense opdrag gegee: “Elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, moet julle in die Nylrivier verdrink. Julle kan die dogtertjies maar laat lewe.”