hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die brandofferaltaar

1. Hy het toe die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, elke kant twee en ’n halwe meter breed en die hoogte was een en ’n half meter.

2. Hy het horings aan die vier hoeke aangebring om ’n eenheid met die res te vorm. Hy het toe die altaar met koper oorgetrek.

3. Al die gereedskap wat by die altaar gebruik is, het hy uit koper gemaak. Daar was aspanne, asgrafies, komme, vurke en panne om kole in te dra.

4. Hy het ook ’n rooster van koper gemaak en dit halfpad na onder en reg rondom, onder die rand, vasgesit.

5. Verder het hy vier ringe van koper gemaak en aan die kante vasgesit. Die drapale moes deur die ringe gaan sodat die altaar gedra kon word.

6. Die drapale het hy van akasiahout gemaak en met koper oorgetrek.

7. Die drapale is deur die ringe aan die kant van die altaar gesteek. Die altaar self was hol van binne. Dit is uit geskaafde plank gemaak.

Die waskom

8. Besaleël-hulle het die waterbak en sy voetstuk uit koper gemaak. Die koper was afkomstig van die waterspieëls wat die vroue geskenk het wat by die ingang van die tabernakel gewerk het.

Die binnehof

9. Hy het ook die binnehof gemaak. Die suidekant was van fyn linne gemaak, 44 meter lank.

10. Daar was twintig regop pale met voetstukke van koper, en tussenin was daar silwergordynrelings en -hakies waaraan die gordyne gehang het.

11. Aan die noordekant was daar ook gordyne, 44 meter lank. Dit het ook twintig regop pale met voetstukke van koper en silwergordynrelings en -hakies gehad.

12. Die gordyne aan die westekant was 23 meter lank. Dit was ook van fyn linne gemaak. Hier was daar tien regop pale op voetstukke van koper. Die relings en hakies was ook van silwer.

13. Aan die oostekant was die binnehof ook 23 meter breed.

14. Die oostelike ingang van die binnehof het weerskante twee gordyne gehad. Die gordyn regs was sewe en ’n half meter lank, vasgemaak aan drie regop pale op voetstukke.

15. Die gordyne links was net so lank, en is ook vasgemaak aan drie regop pale op voetstukke.

16. Al die materiaal reg rondom die binnehof was van fyn linne.

17. Al die voetstukke was van koper en al die relings en hakies was van silwer. Die regop pale was aan hulle bokante met silwer oorgetrek. Die relings waaraan die materiaal vir die mure gehang het, was ook van silwer.

18. Die gordyn by die ingang van die binnehof is gemaak van geweefde linne. Daar was blou, pers en bloedrooi wol ingeweef en dit was ook geborduur. Dit was tien meter breed en soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, twee meter hoog.

19. Dit het aan vier regop pale op vier kopervoetstukke gehang. Die bopunte van die regop pale, die relings tussen die pale waaraan die materiaal gehang het en die hakies wat gebruik is, was alles van silwer.

20. Al die tentpenne waarmee die tabernakel en die mure rondom die voorhof geanker was, was van koper.

Die materiaal wat gebruik is

21. Hier volg nou ’n lys van die materiaal wat gebruik is om die tent te maak waarin die klippe met getuienis was. Moses het die Leviete opdrag gegee om dit alles op te skryf. Hulle het dit onder leiding van die priester Aäron se seun Itamar gedoen.

22. Besaleël, seun van Uri en kleinseun van Gur van die Judastam, het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.

23. Oholiab, Agisamak se seun uit die Danstam, het hom gehelp. Hy het uitgemunt in die ontwerp en weef van blou, pers en bloedrooi wol en linne.

24. Die goud wat die volk vrywillig gebring het om die tabernakel te bou, was in totaal 1 002 kilogram.

25. Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was altesaam 3 447 kilogram volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26. Toe hulle getel is, moes elke man bo twintig ses gram silwer betaal. In die sensus is 603 550 mans getel.

27. Om die 100 voetstukke vir die regop pale van die binnehof te maak, is 100 stawe silwer gebruik. Dit was 34 kilogram vir elke voetstuk.

28. Van die silwer wat oor was, is die hakies en die relings gemaak en die bokante van die regop pale oorgetrek.

29. Die koper wat die volk gebring het, was in geheel 2 426 kilogram.

30. Die voetstukke van die regop pale by die ingang, die rand om die altaar, sy rooster en die gereedskap wat by die altaar gebruik word, is hiervan gemaak.

31. Ook die ander voetstukke van die regop pale rondom die binnehof, die voetstukke van die pale by die ingang en al die koperpenne wat gebruik is om die tent en die linnemuur rondom die binnehof te anker, is van hierdie koper gemaak.