hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die bepalings weer opgeskryf

1. Die Here het vir Moses gesê: “Kry twee plat klippe gereed. Ek sal weer al die woorde wat op die klippe was wat jy stukkend gegooi het, daarop skryf.

2. Wees môre-oggend vroeg gereed daarmee sodat jy die berg kan uitklim. Kry My bo-op die berg.

3. Niemand anders mag saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg iemand anders wees nie. Daar mag selfs nie enige beeste of vee teen die berg wei nie.”

4. Moses het toe twee plat klippe soos die eerstes gereed gekry. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen die berg begin uitklim, soos die Here vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra.

5. Die Here kom toe in ’n wolk af, gaan staan by Moses en roep hardop sy eie Naam, “die Here”, uit.

6. Terwyl Hy by Moses verbybeweeg, het Hy uitgeroep: “Ek is die Here. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou.

7. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie. Ek straf selfs die kinders tot in die derde en vierde geslag daarna vir die sonde wat hulle voorouers gedoen het.”

8. Moses het diep vooroor gebuig en begin bid.

9. Hy het gesê: “As ek dan regtig u goedkeuring geniet, Here, trek dan verder saam met ons. Dit is wel ’n eiesinnige volk hierdie, maar vergeef ons tog ons sonde en ons oortredings. Aanvaar ons tog as u eiendom.”

10. Die Here sê toe: “Goed, Ek sluit met julle ’n ooreenkoms. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur wat nog nêrens op aarde of voor enige volk gebeur het nie. Al die volke sal sien wat die Here kan doen. Ek sal wonderlike dinge met julle laat gebeur.

11. Sorg dat julle alles doen wat Ek vandag vir julle sê. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land verdryf.

12. “Maak seker dat jy op geen manier enige ooreenkoms sluit met die mense van hierdie land waarin julle gaan woon nie. As julle dit doen, gaan julle dieselfde dinge as hulle doen.

13. Trouens, julle moet hulle heidense altare afbreek. Trek hulle klippilare om en vernietig hulle afgodsbeelde.

14. Julle mag geen ander god behalwe die Here aanbid nie. Hy is ’n God wat volle getrouheid vereis.

15. “Moenie ooreenkomste sluit met die inwoners nie. Hulle sal julle verlei om saam met hulle agter hulle gode aan te gaan en soos prostitute teenoor My op te tree. Wanneer hulle hulle gode aanbid, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle van hulle afgodsoffers te eet.

16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou. Wanneer hulle vroue hulle gode aanbid, sal julle seuns agter hulle aangaan en soos prostitute teenoor My optree.

17. Julle mag nooit afgodsbeelde maak om te aanbid nie.

18. “Onthou om gereeld die Fees van die Ongesuurde Brood te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet waarin daar geen suurdeeg gebruik is nie. Julle moet dit elke jaar in die vroeë lente hou. Dit is die tyd toe julle uit Egipte weg is.

19. “Alles wat eerste gebore is en manlik is, behoort aan My. Jou seun of jou bees of skaap wat eerste gebore word, is Myne.

20. Die eerste donkiehings mag met ’n skaap vervang word. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie se nek breek om dit dood te maak. Jou eerste seun wat gebore word, moet ook met geld uitgekoop word. Niemand mag na My toe kom sonder ’n offer nie.

21. “Ses dae lank moet jy besig wees met jou werk. Op die sewende dag moet jy ophou, selfs al is dit planttyd of oestyd.

22. Onthou ook om die Oesfees te hou wanneer die oes begin inkom. Onthou ook die Insamelingsfees aan die einde van die oestyd.

23. Drie keer elke jaar moet al die mans voor die oppermagtige Here, die God van Israel, kom aanbid.

24. Niemand sal julle aanval of julle land probeer afneem terwyl julle van die huis af weg is om die Here te gaan aanbid nie. Ek sal die nasies voor jou uit verdryf. Ek sal jou grond al meer maak.

25. “Daar mag nie suurdeeg wees in die brood wat julle vir My offer nie. Daar mag niks van die vleis van die paaslam gedurende die Paasfees oor wees teen die volgende oggend nie.

26. Julle moet die beste deel van die eerste oes wat jy insamel na die huis van die Here bring.“Jy mag nie ’n boklam offer wat nog nie gespeen is nie.”

27. Die Here het ook vir Moses gesê: “Skryf alles neer wat Ek vir jou sê. Dit is die bepalings van my verbond met Israel.”

28. Moses was daar bo-op die berg by die Here vir 40 dae en 40 nagte. Hy het gedurende daardie tyd niks geëet of gedrink nie. Hy het die Tien Gebooie van God se ooreenkoms op die plat klippe geskryf.

29. Moses het van Sinaiberg afgeklim met die twee plat klippe waarop die bepalings van die verbond geskryf was in sy hande. Toe hy afklim, het hy nie geweet dat sy gesig blink omdat God met hom gepraat het nie.

30. Aäron en die Israeliete het gesien hoe sy gesig blink en was bang om naby hom te kom.

31. Moses het hulle egter nadergeroep. Toe Aäron en die leiers naderkom, het hy met hulle begin praat.

32. Die hele volk het nadergekom, en Moses het alles oorvertel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het.

33. Nadat Moses met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy kop gegooi.

34. Elke keer wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal tot hy weer teruggekom het. Dan het hy alles aan die Israeliete gerapporteer wat die Here vir hom gesê het.

35. Die Israeliete het sy gesig sien blink. Hy het daarom weer die doek oor sy kop gegooi totdat hy weer met die Here gaan praat het.