hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Sabbat

1. Moses het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die voorskrifte wat die Here vir julle gegee het:

2. Julle moet ses dae lank julle werk doen. Die sewende dag moet vir julle ’n heilige dag wees wat aan die Here gewy word en waarop gerus moet word. Enigeen wat op daardie dag werk, moet doodgemaak word.

3. Op daardie dag mag julle selfs nie vuur in julle huise maak nie.”

Vrywillige bydraes vir die bou

van die tabernakel

4. Moses het vir die vergadering van die Israeliete gesê: “Dit is wat die Here beveel het.

5. Gee vir die Here ’n vrywillige offer uit julle besittings. Almal wat bereid is, kan enigiets van die volgende vir die Here bring: goud, silwer of koper,

6. blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar,

7. rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of akasiahout,

8. olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook,

9. oniks en ander edelstene wat in die skouerkleed en borssak van die hoëpriester gesit kan word.

10. “Almal onder julle wat die bekwaamheid het, moet kom om die dinge te maak wat die Here gesê het:

11. die tabernakel met sy seile bo-oor, die hakies, die rame, die dwarsbalke en die regop pale met hulle voetstukke;

12. die ark met sy drahoute; die deksel daarop en die gordyn wat dit afskort;

13. die tafel met die pale waaraan dit gedra word en al sy toebehore; die offerbrood;

14. die kandelaar en alles wat daarby hoort; sy lampies met hulle olie;

15. die wierookaltaar en die pale waaraan dit gedra word; die salfolie en die geurige wierook; die gordyn by die ingang van die tabernakel;

16. die brandofferaltaar met alles wat daarby hoort; sy koperrooster en die pale waaraan dit gedra word; die waskom en sy voetstuk;

17. die materiaal vir die muur rondom die binnehof; die regop pale en hulle voetstukke; die gordyn by die opening van die binnehof;

18. die tentpenne vir die tabernakel en vir die binnehof met hulle toue;

19. die spesiale klere wat die priester dra wanneer hy in die heiligdom werk; Aäron en sy seuns se klere om hulle dienswerk in te doen.”

Voorbereiding vir die werk aan

die tabernakel

20. Almal van die vergadering is toe weg van Moses af.

21. Elkeen wat so gevoel het, het uit vrye wil vir die Here iets gebring vir die tabernakel en sy toerusting, en vir die heilige klere wat gemaak moes word.

22. Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25. Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring.

26. Die vroue wat gewillig was en dit kon doen, het bokhaar gespin.

27. Die leiers het onikssteen en die ander edelstene geskenk wat vir die skouerstuk en die borssak nodig was.

28. Hulle het ook die speserye en die olie vir die kandelaar gebring, die salfolie en die geurige wierook.

29. So het elke man en vrou van die Israeliete wat bereid was, vrywillige bydraes gemaak om te help met die werk wat die Here vir hulle deur Moses opgedra het.

30. Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël, die seun van Uri uit die Judastam gekies.

31. God se Gees gee vir hom die verstand, die kennis en die vaardigheid vir die werk wat gedoen moet word.

32. Hy kan voorwerpe maak uit goud, silwer en koper.

33. Hy kan edelstene bewerk en dit monteer en ook houtsnywerk doen. Hy is in staat om enige kunswerk te maak.

34. God het vir hom en Oholiab, seun van Agisamak uit die Danstam, die vermoë gegee om ander op te lei.

35. Die Here stel hulle in staat om graveerwerk, borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.”