hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toewyding van die priesters

1. “So moet jy maak wanneer jy Aäron en sy seuns as priesters aan My toewy: Vat ’n gesonde jong bul en twee ramme.

2. Bak ’n brood met meel sonder suurdeeg en plaatkoek met olyfolie en maak wafels waaroor olie gegooi is.

3. Sit alles in een mandjie en bring dit saam met die bul en die twee ramme na die ingang van die tabernakel.

4. “Laat Aäron en sy seuns by die tabernakel kom staan. Was hulle met water.

5. Trek vir Aäron sy klere aan saam met die mantel van die skouerkleed, die skouerkleed en die borssak. Maak die skouerkleed vas met die gordel.

6. Sit die tulband op sy kop en maak die gewyde kroon daaraan vas.

7. Vat die salwingsolie en gooi dit oor sy kop.

8. Laat sy seuns ook naderstaan en laat hulle hulle geweefde klere aantrek.

9. Sit hulle gordels om hulle heupe en laat hulle die tulbande opsit. So sal jy hulle in hulle ampte aanstel. Hulle sal dan vir altyd my priesters wees.

10. “Laat die bul by die ingang van die tabernakel staan. Aäron en sy seuns sit dan hulle hande op die dier se kop.

11. Dan moet jy die dier net daar by die ingang van die tabernakel in die teenwoordigheid van die Here slag.

12. Vat van die bul se bloed en smeer daarvan met jou vinger aan die horings van die altaar. Gooi die res van die bloed aan die onderkant van die altaar uit.

13. Vat die vet wat aan die dier se binnegoed was, die lewer en die twee niere met die vet daaraan en verbrand dit op die altaar.

14. Vat die karkas, vel en die mis uit die kamp uit en gaan verbrand dit daar as ’n offer vir die sonde.

15. “Vat een van die ramme en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit.

16. Slag die ram, vang van sy bloed op en sprinkel dit teen die kant van die altaar.

17. Sny die ram se karkas in verskillende dele op. Was die binnegoed en die pote af met water. Sit dit neer langs die kop en die ander dele van die vleis.

18. Verbrand dit alles op die altaar. Dit is ’n brandoffer vir die Here. Dit is aanneemlik vir die Here.

19. “Vat nou die ander ram. Laat Aäron en sy seuns hulle hande ook op sy kop sit.

20. Slag die ram en vang sy bloed op. Smeer van sy bloed aan die regteroorlel van Aäron en sy seuns en ook aan hulle regterduime en regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is teen die kant van die altaar.

21. Vat dan van die bloed by die altaar en meng dit met die olie waarmee jy Aäron en sy seuns bevestig het. Sprinkel daarvan oor hulle en hulle klere. Dit wys dat hulle en hulle klere vir die Here afgesonder is.

22. “Hierdie tweede ram word gebruik om Aäron en sy seuns in te seën. Sny die vet van die ram uit, ook die vet aan sy binnegoed, sy vetstert, die punt van die lewer, die twee niere met die vet oor hulle en die regterboud.

23. Uit die mandjie wat voor die Here gebring is, moet jy een van die brode, ’n stuk plaatkoek waarin olyfolie is, en van die wafels waaroor olie gegooi is, neem.

24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande hou en sit dit alles in hulle hande. Hulle moet dit dan uitsteek na die Here toe as ’n geskenk wat hulle vir die Here aanbied.

25. Vat dit daarna weer by hulle en verbrand dit op die altaar. Dit is ’n brandoffer wat vir die Here aanneemlik is.

26. Vat die borsstuk van die ram waarmee Aäron georden is en hou dit uit na die Here toe om dit aan Hom op te dra. Daarna mag jy dit vir jouself hou om te eet.

27. “Die heilige dele van die ram wat gebruik is om Aäron en sy seuns te orden, moet vir hulle eenkant gesit word. Dit is die borsstuk en die boud wat na die Here toe uitgesteek is en aan Hom opgedra is.

28. Voortaan sal hierdie dele na Aäron en sy afstammelinge gaan wanneer die mense van Israel ’n vrede-offer of dankoffer vir die Here bring.

29. “Aäron se spesiale klere moet ook gebruik word wanneer sy opvolgers in sy plek gesalf en in hulle amp bevestig word.

30. Die seun van Aäron wat hom opvolg, moet hierdie klere sewe dae lank aanhou wanneer hy in die tabernakel ingaan en in die heiligdom met sy werk begin.

31. “Vat die vleis van die ram wat tydens die bevestiging gebruik is en maak dit gaar by ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is.

32. Aäron en sy seuns moet daar by die ingang van die tabernakel hierdie vleis en die brood wat in die mandjie oor is, eet.

33. Net hulle mag van die brood en vleis eet waarmee hulle tydens hulle bevestiging vir hulle versoening gedoen is. Die gewone mense mag glad nie daarvan eet nie omdat dit heilig is.

34. As daar die volgende môre nog van die gewyde vleis of brood oor is, moet dit heeltemal verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God eenkant gesit.

35. “Dit is hoe Ek jou beveel het jy Aäron en sy seuns in hulle werk moet bevestig. Die geleentheid hou sewe dae lank aan.

36. Jy moet elke dag ’n jong bul as sonde-offer bring met die oog op versoening. Bring ook ’n offer om die altaar te reinig. Gooi olie daaroor uit om dit aan die Here te wy.

37. Sewe dae lank moet jy elke dag ’n versoeningsoffer op die altaar bring. Die altaar sal dan uitsluitlik aan God gewy wees. Enigeen wat daaraan raak, sal vir God afgesonder wees.

38. “Dit is wat jy op die altaar moet offer: Offer elke dag twee jaaroud lammers op die altaar.

39. Offer die een in die oggend en die ander een teen die aand.

40. Saam met die lam in die oggend moet jy een en ’n half kilogram fynmeel offer. Dit moet gemeng word met een liter gesuiwerde olie en een liter wyn.

41. Die aandoffer word saam met meel, olie en wyn geoffer net soos dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat aangenaam is vir die Here.

42. “Van geslag tot geslag moet daar vir My elke dag ’n brandoffer by die ingang van die tabernakel gebring word. Daar sal Ek julle ontmoet en met julle praat.

43. Daar sal Ek die Israeliete ontmoet en Ek sal dit ’n heilige plek maak omdat Ek daar is.

44. Ek sal die tabernakel en sy altaar ’n heilige plek maak. Ek sal Aäron en sy seuns vir My heilig as my priesters.

45. Ek sal tussen die Israeliete woon. Ek sal hulle God wees.

46. Hulle sal erken dat Ek die Here hulle God is. Dit is Ek wat hulle uit Egipte bevry het om saam met hulle te woon. Ek is die Here hulle God.”