hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en gaan kamp opslaan by Pi-Hagirot. Hulle kamp moet langs die see staan reg teenoor Baäl-Sefon, tussen Migdol en die see.

3. Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal het en die woestyn hulle gevang het.

4. Ek sal die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan julle agternasit. Die farao en sy leër gaan egter teen My verloor. Die Egiptenaars sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe daar kamp opgeslaan.

Die Egiptenaars agtervolg die

Israeliete

5. Toe die koning van Egipte berig kry dat die volk weggekom het, het hy en sy amptenare se houding teenoor die volk verander. “Wat het ons aangevang om die Israeliete wat vir ons gewerk het van ons af te laat weggaan?” het hulle hulleself afgevra.

6. Die farao het toe sy oorlogwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat.

7. Hy het ook al Egipte se oorlogwaens saamgeneem. Op elkeen was daar ’n bemanning van drie. Onder hulle was sy 600 beste oorlogwaens.

8. Die Here het die farao, Egipte se koning, vasberade gemaak. Hy het die Israeliete wat so maklik weggekom het, agternagesit.

9. Egipte het hulle agternagejaag met al hulle perde, Farao se oorlogwaens, sy ruiters en sy leër. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle kamp opgeslaan het langs die see naby Pi-Hagirot oorkant Baäl-Sefon.

10. Die farao het hulle begin inhaal. Toe die Israeliete sien dat die Egiptenaars agter hulle aan is, het hulle baie bang geword. Hulle het by die Here begin pleit om hulle te help.

11. Hulle het ook by Moses gaan kla: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons daar te begrawe nie dat jy ons hiernatoe moes bring om hier in die woestyn te sterf? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat trek?

12. Het ons nie vir jou gesê om ons met rus te laat toe ons nog in Egipte slawe was nie? Dit was beter om slawe vir die Egiptenaars te wees as om lyke in die woestyn te wees!”

13. Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie.

14. Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg.”

Ontsnapping deur die Rietsee

15. Die Here het toe vir Moses gesê: “Vir wat staan jy so benoud en roep na My? Sê die mense moet begin beweeg.

16. Vat jou herderstok in jou hand en hou dit uit oor die water. Daar sal ’n pad deur die water kom waarlangs die Israeliete op droë grond kan trek.

17. Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om agter die Israeliete aan te gaan. Ek sal beroemd word deur wat Ek met die farao, sy hele leër, sy waens en sy ruiters gaan maak.

18. Wanneer Ek klaar is met die farao, sy oorlogwaens en sy ruiters, sal Egipte weet dat Ek die Here is.”

19. God se boodskapper wat die optog van Israel gelei het, het toe agter hulle gaan staan. Die wolkkolom wat voor hulle uit beweeg het, het ook agter hulle ingeskuif

20. sodat dit gehang het tussen die plek waar die Israeliete kamp opgeslaan het en waar die Egiptiese kamp was. Dit was donker aan Egipte se kant, maar gedurende die nag was dit lig aan Israel se kant. Die twee groepe kon nie deur die nag nader aan mekaar kom nie.

21. Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het die water teruggedryf met ’n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het. Die water het oopgekloof en die seebodem het droog geword.

22. Die Israeliete het op droë grond deur die see getrek met die water soos mure aan weerskante van hulle.

23. Die Egiptenaars is toe agter hulle aan met al die farao se perde en sy oorlogwaens en hulle bemanning, reguit die see in.

24. Vroegoggend het die Here van bo uit die wolk van vuur en uit die stapelwolk op die leër van die Egiptenaars afgekyk. Hy het verwarring onder hulle laat ontstaan.

25. Hy het die wiele van hulle oorlogwaens laat vasval sodat hulle nie kon beweeg nie. “Laat ons padgee van Israel!” het die Egiptenaars geskreeu. “Die Here veg in Israel se plek teen ons.”

26. Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek weer jou hand uit oor die see. Die water sal terugstroom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogwaens en hulle bemanning.”

27. Terwyl die son besig was om op te kom het Moses sy hand oor die see uitgestrek. Die water het teruggestroom na sy ou plek toe. Die Egiptenaars het voor die water probeer vlug, maar die Here het hulle in die golwe laat verdrink.

28. Die water het oor die oorlogwaens gestroom en ook bo-oor die leër van die farao. Nie een van die Egiptenaars wat die Israeliete agternagesit het, het daardie dag weggekom nie.

29. Israel het egter op droë grond deur die middel van die see getrek, terwyl die water soos mure alkante van hulle gestaan het.

30. So het die Here Israel daardie dag van Egipte bevry. Die Israeliete het gesien hoe die lyke van die Egiptenaars op die strand uitgespoel het.

31. Toe die Israeliete sien met hoeveel mag die Here teen Egipte veg, het hulle respek gekry vir die Here. Hulle het in Hom geglo en was oortuig dat Hy Moses gebruik om vir Hom te werk.