hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die eerste Paasfees

1. Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

2. “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin.

3. Julle moet vir al die Israeliete die opdrag gee dat elke gesin op die tiende van hierdie maand vir hulle ’n lam in die hande moet kry.

4. As daar te min mense in ’n gesin is om ’n lam alleen op te eet, moet hulle dit deel met ’n ander gesin in die omgewing. Dit moet in verhouding verdeel word volgens die getal en behoefte van elke gesin.

5. Dit moet ’n rammetjie wees uit die skape of die bokke wat ’n jaar oud is en waarmee daar niks verkeerd is nie.

6. Sorg vir die rammetjie tot op die veertiende van die maand. Elke gesin in Israel moet teen skemertyd sy rammetjie slag.

7. Hulle moet van die rammetjie se bloed vat en daarvan smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur waarin hulle dit gaan eet.

8. Die vleis word oor die vuur gebraai. Dit moet nog daardie selfde aand saam met brood wat sonder suurdeeg gemaak is en met kruie geëet word.

9. Die vleis mag nie meer rou wees nie. Dit mag ook nie gekook word nie. Die hele lam moet gebraai word met kop, pote en alles.

10. Daar mag ook niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Wat daarvan oorbly, moet voor die volgende oggend verbrand word.

11. “Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die Here se Paasfees.

12. Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die Here!

13. Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie.

14. “Hierdie dag moet altyd gevier word as ’n dag van herinnering. Dit is ’n spesiale feesdag van die Here wanneer julle nageslag moet onthou wat Hy gedoen het.

15. Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die eerste dag al moet julle alle suurdeeg uit julle huise wegvat. Enigeen wat gedurende hierdie sewe dae brood eet waarin daar suurdeeg is, moet uit die samelewing weggejaag word.

16. Op die eerste en weer op die sewende dag moet julle bymekaarkom vir die Here. Op daardie dae mag niks anders gedoen word nie, behalwe om kos te maak.

17. “Die Fees van die Ongesuurde Brood moet by julle ’n vaste instelling wees. Julle moet altyd in herinnering roep dat dit op daardie dag was dat Ek julle stamme uit Egipte laat wegkom het. Hierdie dag moet altyd onthou word.

18. Van die aand van die veertiende dag van die maand af tot op die aand van die 21ste van die maand, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.

19. Vir sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd iets eet met suurdeeg in sal uit die gemeenskap van Israel weggejaag word. Dit geld vir sowel gaste wat by julle oorbly as gebore Israeliete.

20. Julle mag gedurende daardie tyd niks eet wat suurdeeg in het nie. Waar julle ook al woon, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.”

21. Moses het toe die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Laat elke gesin vir hulle ’n rammetjie vang sodat hulle dit vir die Paasfees kan slag.

22. Vang die dier se bloed op in ’n houer. Vat dan ’n takkie van ’n hisopboom en doop dit in die bloed. Verf dan die bloed bo-aan die kosyn met die hisoptak en aan die kant van die huis se deur. Niemand mag by die deur uitgaan voor die volgende oggend nie.

23. Die Here gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die Here by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie.

24. “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld.

25. Wanneer julle in die land kom wat die Here belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou.

26. Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’

27. moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die Here. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’” Die volk het toe afgebuk en die Here aanbid.

28. Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die Here vir hulle deur Moses en Aäron gesê het.

29. Teen middernag het die Here al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek.

30. Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie.

Israel trek weg uit Egipte

31. Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die Here soos julle gevra het.

32. Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!”

33. Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!”

34. Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat.

35. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee.

36. Die Here het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder.

37. Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans.

38. Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad.

39. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so haastig padgee uit Egipte dat daar nie nog tyd was om padkos te maak nie.

40. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gebly.

41. Presies aan die einde van die 430 jaar is die Here se mense uit Egipte weg.

42. Die Here het hierdie nag gekies om hulle uit Egipte te laat trek. Hierdie nag het aan die Here behoort. Dit sal vir altyd in Israel onthou word.

Verdere voorskrifte vir die

Paasfees

43. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die reëlings vir die Paasfees is soos volg: Iemand wat nie aan Israel behoort nie, mag nie saam eet nie.

44. ’n Slaaf wat gekoop is, mag wel saam eet, mits hy besny is.

45. Mense wat gehuur word of trekarbeiders mag nie saam eet nie.

46. Dié wat die rammetjie deel, moet dit saam eet in een huis. Julle mag nie van die vleis buitentoe vat nie. Julle moet ook nie sy bene breek nie.

47. Al die Israeliete moet deelneem aan die fees.

48. “As daar ’n buitelander tussen julle is wat aan die fees wil deelneem, moet hy en almal in sy huis wat manlik is, eers besny word. Hulle mag dan saam met julle aan die fees deelneem. Dit sal wees asof hulle tussen julle gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag egter glad nie aan die fees deelneem nie.

49. Dieselfde reël geld vir almal, of hulle nou in Israel gebore is en of dit iemand is wat uit die buiteland by julle kom woon het.”

50. Die Israeliete het toe presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

51. Op dieselfde dag waarop die fees nog tans gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte gelei.