hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die ark

1. Besaleël het toe die ark van akasiahout gemaak. Dit was een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed.

2. Hy het dit aan die binne- en buitekant met goud oorgetrek. Buite-om het dit ’n versierde rand gekry.

3. Daar was vier ringe onder aan elke hoek, twee ringe aan elke kant.

4. Besaleël het drapale van akasiahout gemaak, dit met goud oorgetrek

5. en die drapale deur die ringe gesteek om die ark daaraan te dra.

6. Daarna het hy die deksel vir die ark van suiwer goud gemaak. Dit was een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed.

7. Hy het twee gerubs uit goud gemaak en hulle bo-op aan die twee ente van die versoendeksel vasgemaak.

8. Dit het ’n eenheid met die deksel gevorm.

9. Hulle gesigte was na mekaar toe gedraai. Hulle het afgekyk op die deksel en hulle vlerke was oor die deksel oopgesprei asof hulle dit beskerm.

Die tafel vir die offerbrood

10. Besaleël het die tafel uit akasiahout gemaak. Dit was een meter by ’n halwe meter groot en ’n driekwart meter hoog.

11. Hy het dit met goud oorgetrek en ’n goue rand reg rondom vasgesit.

12. Reg rondom was ’n lys van omtrent sewe sentimeter wat met ’n goue rand vasgesit is.

13. Hy het vier ringe vir die tafel gegiet, en dit aan die vier hoeke gesit waar die pote was.

14. Die ringe was net onder die lys sodat drapale daardeur gesit kon word om die tafel te dra.

15. Hy het ook drapale uit akasiahout gemaak en met goud oorgetrek.

16. Die toebehore vir die tafel het hy van suiwer goud gemaak. Daar was skottels en bakke waarin die geurige offers gekom het en flesse en komme wat by die tafel en by die drankoffer gebruik is.

Die kandelaar

17. Besaleël het die kandelaar uit suiwer goud gemaak. Sy voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en kroonblare het almal saam ’n eenheid gevorm.

18. Die kandelaar het ses arms gehad, drie aan elke kant.

19. Aan elke arm was daar ’n blomkelk in die vorm van ’n amandelbloeisel met knoppe en kroonblare.

20. Bo-aan die regop middelbalk was daar ook vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare.

21. Onder aan elke arm waar dit uit die sentrale balk kom, was daar ’n blomknop.

22. Die arms en blomknoppe was alles uit goud en het ’n eenheid gevorm.

23. Besaleël het ook sewe lampe vir die kandelaar gemaak. Die tangetjie waarmee die vlammetjies uitgedoof word en die oliepithouer vir die lampies was ook alles van suiwer goud gemaak.

24. Die kandelaar met alles wat daarby kom, is van 34 kilogram goud gemaak.

Die altaar vir die wierook

25. Besaleël het daarna die altaar vir die wierook uit akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, ’n halwe meter breed aan elke kant en een meter hoog. Die tafel met sy horings op die hoeke het alles saam ’n eenheid gevorm.

26. Hy het die bokant, die sykante en die horings op die hoeke met suiwer goud oorgetrek. Hy het ook ’n rand van goud reg rondom die tafel vasgesit.

27. Hy het twee goue ringe aan die teenoorstaande kante net onder die rand vasgesit.

28. Ook die drapale vir die tafel is uit akasiahout gemaak en met goud oorgetrek.

29. Verder het Besaleël ook die salfolie en die wierook gemeng. Dit was die werk van ’n bekwame vakman.