hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses en Aäron moet weer

teruggaan

1. Toe sê die Here vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”

2. Die Here het verder vir Moses gesê: “Ek is die Here.

3. Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie.

4. Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee.

5. Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle.

6. “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade.

7. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.

8. Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.’”

9. Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie.

10. Die Here het toe vir Moses gesê:

11. “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.”

12. “Maar, Here,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”

13. Die Here het nogtans vir Moses en Aäron die opdrag gegee om terug te gaan na die farao, die koning van Egipte, toe en die Israeliete uit Egipte weg te lei.

Moses en Aäron se nageslag

14. Onder die nageslag van die stamme van Israel was daar die volgende: Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se nageslag.

15. Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul (hy het ’n Kanaänitiese ma gehad). Hulle was die leiers van Simeon se nageslag.

16. Onder Levi se nakomelinge, in die volgorde van hulle familiegroepe, was Gerson, Kehat en Merari. (Hulle pa, Levi, het 137 jaar oud geword).

17. Gerson se seuns was Libni en Simi. Elkeen was die hoof van ’n stam.

18. Onder Kehat se nageslag was daar: Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. (Kehat het 133 jaar oud geword).

19. Merari se seuns was Magli en Musi. Al hierdie mense, wat volgens hulle afstamming opgenoem is, het aan Levi se stam behoort.

20. Amram het met sy tante Jogebed getrou. Hulle twee seuns was Aäron en Moses. (Amram het 137 jaar oud geword.)

21. Jishar se seuns was Korag, Nefeg en Sikri.

22. Ussiël se seuns was Misael, Elisafan en Sitri.

23. Aäron het met Eliseba, ’n dogter van Amminadab, die suster van Nagson, getrou. Hulle seuns was Nadab en Abihu en Eleasar en Itamar.

24. Korag se nageslag was Assir en Elkana en Abiasaf. Hulle is onder die afstammelinge van Korag ingedeel.

25. Aäron se seun Eleasar het met een van Putiël se dogters getrou. Hulle seun was Pinehas.Dit was dan die verskillende leiers uit die familie van Levi.

26. Die Aäron en Moses wat in die lys genoem is, is dieselfde Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Julle moet al die Israeliete bymekaarmaak en hulle uit Egipte lei.”

27. Dit was hulle wat na die farao toe gegaan het en met hom onderhandel het om die Israeliete uit Egipte te laat trek.

28. Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het,

29. het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, presies wat Ek vir jou gesê het.”

30. Moses het toe vir die Here gesê: “Ek kan dit nie doen nie, want ek stotter en stamel. Hoe sal die farao ooit doen wat ek vra?”