hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Besaleël, Oholiab en al die ander persone vir wie die Here die kennis, verstand en vaardigheid gegee het om die werk by die tabernakel te doen, moet alles maak soos die Here gesê het.”

2. Moses het toe Besaleël en Oholiab laat kom saam met al die ander vir wie God toegerus het en wat gewillig was om die werk te doen.

3. Hulle het by Moses alles gekry wat die Israeliete gegee het om die heiligdom te bou. Die volk het elke oggend nog meer vrywillige offers gebring.

4. Die mense wat aan die heiligdom gewerk het, het naderhand hulle werk gestaak en met Moses kom praat.

5. “Die volk bring nou meer as wat ons nodig het om die werk te doen wat die Here vir ons gegee het,” het hulle gesê.

6. Moses het toe oral in die kamp laat afkondig: “Moenie meer offergawes bring nie. Julle het nou genoeg gegee.” Die volk het toe opgehou om te bring.

7. Daar was nou oorgenoeg materiaal om die tent te maak. Daar sou selfs nog oorbly.

Bou van die tabernakel

8. Almal wat kon help, het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het eers die onderste laag uit tien stukke materiaal gemaak. Hulle het blou, pers en bloedrooi draad ingeweef en gerubs daarop uitgeborduur.

9. Elkeen van die stukke materiaal was dieselfde grootte. Elkeen was veertien meter lank en twee meter breed.

10. Hulle het vyf stukke op mekaar gepas en aanmekaargewerk om een stel te vorm. Met die ander vyf het hulle ’n soortgelyke tweede stel gemaak.

11. Hulle het 50 lissies al om die rand aan die buitenste stuk materiaal van elke stel gewerk.

12. Die lissies van die twee stelle het presies op mekaar gepas.

13. Hulle het toe 50 goue hakies gemaak en deur die lissies gehaak sodat die twee stelle een dubbele vel gevorm het. Dit het saam die onderste laag oor die tabernakel gevorm.

14. ’n Tweede laag van elf stukke bokhaarmateriaal is gemaak om bo-oor die tent te gaan.

15. Elkeen van die stukke materiaal was presies dieselfde grootte. Elkeen was vyftien meter lank en twee meter breed.

16. Hulle het vyf stukke gebruik om een stel te maak. Vir die tweede stel het hulle die ander ses stukke gebruik.

17. Hulle het ook vir hierdie stelle 50 lissies rondom aan die buitenste stuk materiaal van elke stel gewerk.

18. Hulle het hakies van koper gemaak om deur die lissies te haak sodat die twee stelle aanmekaargesit kon word om een dubbele vel te vorm.

19. Hulle het ook ’n derde en vierde laag gemaak om bo-oor die tabernakel te span. Die een was van gelooide ramsvel en die ander van gebreide bokvel.

Die houtpanele en dwarslatte

20. Hulle het regop houtpanele uit akasiahout gemaak as raamwerk vir die tabernakel.

21. Elke paneel was vyf meter hoog en 75 sentimeter breed.

22. Daar was twee penne aan elke paneel sodat dit aan die volgende paneel verbind kon word. Al die panele was identies.

23. Hulle het twintig panele gemaak vir die suidelike muur.

24. 40 voetstukke van silwer is ook gemaak, twee onder elke paneel.

25. Ook vir die noordelike muur het hulle twintig rame gemaak.

26. Hier was ook 40 voetstukke uit silwer, twee onder elke raam.

27. Vir die koppenent aan die westekant van die tabernakel het hulle ses panele gemaak.

28. Hulle het ook versterkte panele vir die hoeke gemaak.

29. Hierdie hoekpanele kon bo en onder met ringe vasgeklamp word om ’n eenheid met die ander mure te vorm. Daar was twee van hierdie panele, een vir elke hoek.

30. Vir die muur aan die koppenent was daar dus agt panele met twee voetstukke van silwer vir elkeen.

31. Hulle het toe vyf dwarslatte van akasiahout gemaak wat die panele aan die suidekant aan mekaar moes sluit.

32. Ook vir die noordelike en die westelike muur het hulle vir elkeen vyf dwarslatte gemaak.

33. ’n Dwarslat het in die middel van die panele van kant tot kant al teen die muur geloop.

34. Al die dwarslatte is met goud oorgetrek. Ook die ringe waardeur die dwarsbalke moes kom, is met goud oorgetrek.

35. Die afskorting vir binne-in die tabernakel is van geweefde linne gemaak. Hulle het daarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef en gerubs daarop uitgeborduur.

36. Hulle het vier pale uit akasiahout met goue hake gemaak. Die afskorting is daaraan opgehang. Die pale is met goud oorgetrek en op vier silwer voetstukke neergesit.

37. ’n Tweede afskorting is vir die ingang van die tent gemaak. Dit is gemaak van geweefde materiaal met blou, pers en bloedrooi wol.

38. Hierdie afskorting is met goue hakies aan vyf regop pale gehang. Die pale is met goud oorgetrek. Elkeen se voetstuk was van koper gemaak.