hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23 Die Boodskap (DB)

Josia en die volk sluit

1. Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê.

2. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die belangrikes én die onbelangrikes, asook die priesters en die profete het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat Gilkija in die tempel gekry het.

3. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here volgens die wetboek vra.Die hele volk het hulle ook tot die ooreenkoms verbind.

Josia verwyder vreemde elemente

4. Josia het toe met ’n omvangryke hervorming van die godsdiens in Jerusalem begin:Hy het die hoëpriester Gilkija, die priesters net onder hom en die deurwagte opdrag gegee om alles in die tempel bymekaar te maak wat vir Baäl, Asjera of die hemelgode gebruik is. Hulle het dit uitgedra en dit op die terrasse van die Kidronvallei, buite die stad, verbrand. Die as het hy Bet-El toe laat neem.

5. Hy het ook die priesters afgesit wat offers gebrand het op die heidense heilige plekke in Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hulle is vroeër deur die konings van Juda aangestel. Hy het ook ontslae geraak van die priesters wat vir Baäl, Asjera, die son, die maan, die sterrebeelde en die ander hemelgode offers gebrand het.

6. Hy het die Asjerastomp uit die tempel laat haal en dit by die Kidronspruit laat verbrand. Die kole het hy laat fynstamp en die as in die openbare begraafplaas laat uitgooi.

7. Hy het die huise op die tempelterrein laat afbreek wat aan die heilige prostitute behoort het. Dit is waar die vroue materiaal geweef het wat vir die verering van Asjera gebruik is.

8. Hy het al die priesters wat in die stede van Juda vir die Here gewerk het, na Jerusalem toe laat kom. Hy het die heilige plekke waar hulle gewerk het, van Geba af tot by Berseba, tot niet gemaak, asook die heilige plekke by Josua se poort. (Josua was die offisier in bevel van Jerusalem, en sy plek was net links van die stadspoort.)

9. Hierdie priesters mag nie op die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie. Hulle kon egter wel saam met die ander priesters van die ongesuurde brood eet wat net vir priesters bedoel was.

10. Hy het die offerplek in die Ben-Hinnom-dal, waar hulle kinders vir Molek geoffer het, ook laat vernietig, sodat niemand dit ooit weer vir dié doel sou kon gebruik nie.

11. Hy het die perdebeelde vernietig wat by die ingang van die tempel gestaan het. Dit was naby die kamer van Netan-Melek wat by die paleis gewerk het. Vroeëre konings van Juda het beelde gegee om die son te vereer. Hy het ook die waens van die son verbrand.

12. Hy het ook verskeie altare vernietig. Dit sluit in die altare op die dak van Agas se kamer wat die konings van Juda gebou het en die altare wat Manasse in die twee portale van die tempel gebou het. Hy het die altare laat afbreek waar hulle gestaan het en die rommel in die Kidronspruit laat weggooi.

13. Hy het die heilige plekke oos van Jerusalem, suid van die Olyfberg, ook laat vernietig. Dit is die heiligdomme wat Salomo, die koning van Israel, nog gebou het. Hulle was bedoel vir:Astarte, die mense van Sidon se veragtelike godin;Kemos, die mense van Moab se veragtelike god;Milkom, die mense van Ammon se afstootlike god.•

14. Hy het die klippilare gebreek en die Asjerastompe afgekap en die plek met mensbene bestrooi.

Josia tree op teen ander heiligdomme in die land

15. Josia het ook elders in die land teen heiligdomme opgetree. By Bet-El het hy die heilige plek en altaar afgebreek wat Jerobeam I, seun van Nebat, daar gebou het en waar hy die mense van Israel verkeerd laat doen het. Hy het ook die Asjerastomp verbrand.

16. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en dit op die altaar verbrand. Hierna kon die altaar nooit weer as ’n heilige plek gebruik word nie. Dit was net soos die profeet uit Juda destyds die Here se oordeel oor Bet-El aangekondig het toe Jerobeam tydens die feestyd by die altaar gestaan het.

17. Daarna het Josia gevra: “Wie se grafsteen is daardie een wat ek daar sien?”Die mense van Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die profeet uit Juda, wat hierdie dinge wat u nou met die altaar gedoen het, hier kom voorspel het.”

18. Josia het toe beveel: “Laat dié graf dan met rus en moenie die bene uithaal nie.” So het dit gebeur dat hulle die bene van die profeet uit Juda en dié van die ou profeet uit Samaria nie versteur het nie.

19. Josia het ook die tempels vernietig wat die konings van Israel in Samaria gebou het. Hy het dit op dieselfde manier behandel as die heilige plek by Bet-El.

20. Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy.Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

Josia vier die paasfees in Jerusalem

21. Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.”

22. Die paasfees is in al die jare van die konings van Israel en Juda nie só gevier nie. Dit het laas gebeur in die tyd toe die rigters in Israel regeer het.

23. Die paasfees ter ere van die Here is in Jerusalem tot eer van die Here gevier in die agtiende jaar wat Josia regeer het.

Die afloop van Josia se regering

24. By alles wat hy reeds gedoen het, het Josia ook nog ontslae geraak van alle mense wat geeste oproep en waarsêery beoefen het, asook van alle huisgode en elke ander manier waarop afgode in Juda of in Jerusalem gedien kon word. Dit was alles bedoel om te voldoen aan die Here se eise volgens die wetboek wat Gilkija in die tempel gekry het.

25. Daar was in die hele geskiedenis nie nog ’n koning soos Josia nie. Daar was nie een wat hom só heelhartig en met al sy krag daaraan gewy het om alles te doen wat die Here volgens die wet van Moses van hom verwag het nie. Daar was ook ná hom nie weer so ’n koning soos hy nie.

26. Die Here het egter nie sy besluit oor Juda verander nie. Hy was nog altyd woedend oor die dinge wat Manasse gedoen het.

27. Die Here het besluit: “Ek gaan van Juda ontslae raak soos wat Ek van Israel ontslae geraak het. Ook Jerusalem wat Ek self gekies het en die tempel waarvan Ek vroeër gesê het: ‘Dit is die plek waar Ek sal woon,’ verwerp Ek nou.”

28. Die res van Josia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

29. Terwyl Josia koning was, het farao Neko, die koning van Egipte, na die Eufraatrivier toe gegaan om die koning van Assirië te gaan help. Josia wou dit keer en het met sy leër teen die farao gaan veg. Hulle het mekaar by Megiddo ontmoet, maar Neko het Josia doodgemaak.

30. Josia se lyfwagte het sy lyk op ’n strydwa gesit en hom teruggevat Jerusalem toe. Daar is hy in sy graf begrawe en die mense van die land het sy seun Joahas in sy plek koning gemaak.

Koning Joahas van Juda

31. Joahas was 23 toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna.

32. Die Here was nie tevrede met die dinge wat Joahas gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg.

33. Farao Neko het Joahas gevang en in Ribla in die land Hamat opgesluit, sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie. As straf het Neko drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud van Juda geëis.

34. Hy het toe vir Eljakim, ’n ander seun van Josia, in Jerusalem koning gemaak en sy naam na Jojakim verander. Hy het ook vir Joahas saamgevat Egipte toe, waar hy later dood is.

Koning Jojakim van Juda

35. Jojakim moes die boete aan farao Neko betaal. Om dit te kon doen moes almal in Juda belasting betaal. Elkeen moes betaal volgens hulle rykdom.

36. Jojakim was 25 toe hy koning geword het en hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma.

37. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg.