hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15 Die Boodskap (DB)

Koning Asarja van Juda

1. In die 27ste jaar wat koning Jerobeam II in Israel regeer het, het Asarja, die seun van Amasia, koning in Juda geword.

2. Asarja was sestien toe hy koning geword het en hy het 42 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, en uit Jerusalem afkomstig.

3. Die Here was tevrede met wat Asarja gedoen het, net soos dit met sy pa Amasia ook die geval was.

4. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand.

5. Die Here het die koning met ’n velsiekte getref, wat hom tot by sy dood geteister het. Hy het in afsondering in ’n plek van sy eie gewoon. Intussen is sy seun Jotam in bevel van die paleis geplaas en het hy ook die land regeer.

6. Die res van Asarja se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

7. Na sy dood is hy by die konings van Juda in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.

Koning Sagaria van Israel

8. In die 38ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Sagaria, die seun van Jero- beam II, koning in Israel geword. Hy het ses maande lank in Samaria regeer.

9. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

10. Sallum, die seun van Jabes, het teen Sagaria in opstand gekom en ’n staatsgreep uitgevoer. Hy het Sagaria in die openbaar doodgemaak en in sy plek koning geword.

11. Die res van Sagaria se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

12. So het die Here se belofte aan Jehu waar geword. Hy het hom beloof dat daar tot in die vierde geslag iemand uit sy nageslag in Israel sou regeer.

Koning Sallum van Israel

13. Sallum, die seun van Jabes, het koning in Israel geword in die 39ste jaar wat koning Asarja van Juda regeer het. Hy het ’n maand lank in Samaria regeer.

14. Menahem, die seun van Gadi, het toe uit Tirsa opgeruk en Sallum in Samaria aangeval. Hy het Sallum doodgemaak en in sy plek koning geword.

15. Die res van Sallum se geskiedenis, insluitend die staatsgreep wat hy uitgevoer het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

Koning Menahem van Israel

16. In dié tyd het Menahem die dorp Tifsag aangeval. Aangesien hulle nie die poorte wou oopmaak nie, het hy die stad en die hele omgewing tot by Tirsa se mense doodgemaak en die swanger vroue oopgesny.

17. In die 39ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Menahem, die seun van Gadi, koning in Israel geword. Hy het tien jaar lank in Samaria regeer.

18. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

19. Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië Israel in dié tyd aanval, het Menahem hom 34 ton silwer betaal. In ruil sou Tiglat-Pileser Menahem se koningskap in Israel steun.

20. Menahem het die geld in die hande gekry deur die land se ryk mense ’n spesiale belasting te laat betaal. Elkeen was verplig om 570 gram silwer betaal. Ná die betaling het Tiglat-Pileser besluit om nie die land aan te val nie, en is terug na sy eie land toe.

21. Die res van Menahem se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

22. Menahem het gesterf en is deur sy seun Pekahia opgevolg.

Koning Pekahia van Israel

23. In die 50ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Pekahia, die seun van Menahem, koning in Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer.

24. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

25. Remalja se seun Peka, wat Pekahia se adjudant was, het ’n staatsgreep teen Pekahia uitgevoer. Hy en 50 soldate uit Gilead het vir Pekahia, Argob en Arje in die paleis in Samaria doodgemaak. Peka het toe in Pekahia se plek koning geword.

26. Die res van Pekahia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

Koning Peka van Israel

27. In die 52ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Peka, die seun van Remalja, koning in Israel geword. Hy het twintig jaar lank in Samaria regeer.

28. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

29. In Peka se tyd het Tiglat-Pileser van Assirië Israel weer aangeval. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor ingeneem. Daarby het hy die streke Gilead en Galilea, die hele stamgebied van Naftali, afgeneem en die mense as gevangenes na Assirië weggeneem.

30. Ela se seun Hosea het intussen ’n staatsgreep teen Peka beplan. Hy het hom aangeval en doodgemaak en in sy plek koning geword oor Israel. Dit het gebeur in die twintigste jaar wat koning Jotam van Juda, Asarja se seun, regeer het.

31. Die res van Peka se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

Koning Jotam van Juda

32. In die tweede jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Jotam, die seun van Asarja, koning in Juda geword.

33. Jotam was 25 toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, ’n dogter van Sadok.

34. Die Here was tevrede met wat Jotam gedoen het, soos dit met sy pa Asarja die geval was.

35. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Dit was Jotam wat die Boonste Poort van die tempel van die Here herstel het.

36. Die res van Jotam se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

37. Dit was in dié tyd dat die Here begin het om Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja, te stuur om Juda aan te val.

38. Na sy dood is Jotam by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.