hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 1 Die Boodskap (DB)

1. Ná koning Agab se dood het die Moabiete hulleself onafhanklik van Israel verklaar.

2. Israel se nuwe koning, Ahasia, het op ’n dag deur die traliewerk van ’n bokamer in sy paleis in Samaria geval. Hy het baie seergekry en dadelik boodskappers na die Filistynse stad Ekron gestuur om vir die priesters van hulle god Baäl-Sebub te vra of hy gesond sal word.

Elia se boodskap vir Ahasia

3. ’n Engel van die Here het vir Elia, wat van Tisbe af kom, gesê: “Gaan ontmoet die koning se boodskappers. Vra vir hulle: ‘Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle Ekron toe om Baäl-Sebub daar te gaan raadpleeg?

4. Hier is ’n boodskap van die Here vir julle koning: Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’” Elia het die boodskap toe so gaan oordra.

5. Die boodskappers het na die koning toe teruggegaan. Hy wou by hulle weet: “Hoekom is julle so gou terug?”

6. Hulle het geantwoord: “’n Man het na ons toe gekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het. Hier is ’n boodskap vir hom van die Here af: Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle na Ekron toe om Baäl-Sebub daar te raadpleeg? Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’”

7. Die koning vra hulle toe: “Hoe het die man gelyk wat dit alles vir julle gesê het?”

8. Hulle het geantwoord: “Hy het harige klere aangehad wat met ’n velgordel vasgemaak is.” “Dit is Elia van Tisbe!” het die koning uitgeroep.

Die koning en die profeet meet kragte

9. Die koning het ’n offisier met 50 manskappe gestuur om Elia te gaan vang. Hulle het hom gekry waar hy op ’n bergtop sit. Die offisier het vir hom gesê: “Man van God, die koning sê jy moet afkom.”

10. Elia het geantwoord: “As ek ’n man van God is, laat daar dan vuur uit die hemel afkom om jou en jou 50 manskappe te verteer.” Dit het toe presies so gebeur: vuur het uit die hemel gekom en hulle almal verteer.

11. Daarna het die koning nóg ’n offisier met 50 manskappe gestuur. Hy het vir Elia gesê: “Man van God, die koning sê jy moet vinnig afkom!”

12. Elia het weer geantwoord: “As ek ’n man van God is, laat daar dan vuur uit die hemel afkom om jou en jou 50 manskappe te verteer.” God het toe weer vuur uit die hemel gestuur en almal verteer.

13. Die koning het toe ’n derde offisier met sy 50 manskappe gestuur. Toe hy Elia bereik, het hy op sy knieë by hom gepleit om sy en sy soldate se lewe te spaar:

14. “Twee offisiere en 100 soldate het nou al doodgebrand. Ons is in u hand. Spaar ons lewe, asseblief!”

15. Die Engel van die Here het vir Elia gesê: “Moenie bang wees nie, gaan saam met hom.” Elia het toe saam met hom na die koning toe gegaan.

16. Hy het vir die koning gesê: “Hier is die Here se boodskap vir jou: ‘Waarom het jy boodskappers na Baäl-Sebub, die god van Ekron, gestuur om te hoor of jy gesond gaan word? Is daar dan geen God in Israel wat jy kon raadpleeg nie? Jy sal nie gesond word nie. Jy gaan beslis sterf.’”

17. Hy hét toe gesterf, net soos die Here deur Elia voorspel het. Ahasia het nie ’n seun gehad nie. Daarom is hy deur sy broer Joram opgevolg. Dit was in die tweede regeringsjaar van Juda se koning Joram, die seun van Josafat.

18. Die res van Ahasia se geskiedenis is opgeskryf in Die lewe en werk van al Israel se konings.